Graaff-Reinet Advertiser

KLAAS NIEMANDT - Solank mense nog praat

-

Alex Lombaard

Ek vertel vir oom Klaas dat ‘n groot geleenthei­d ons gemeenskap te beurt geval het. Oom Klaas vra uit en ek vertel hom dat die eerste prys nogal wenkbroue kan laat lig. Hy stop my: “Nee man, ek wil nie weet van pryse en wat julle alles moet doen nie ... vertel my wat sê die mense?”

Dis een ding van oom Klaas – jy draai nie doekies om met hom nie. So, ek vertel oor die opgewonden­heid en bereidwill­igheid om moue op te rol en skouer aan die wiel te sit. En dan vertel ek van die ander kant ook – hoe ek eintlik steeds sprakeloos is oor die skeptisism­e, negatiwite­it en pogings tot tweespalt. Om nie eers te praat van al die kritiese vrae oor presies wie dan nou die wengeld gaan ontvang en wie gaan besluit hoe dit moet verdeel en so aan.

Opslag raak oom Klaas bulderend aan’t lag: “Sê gou weer daai laaste – oor die wengeld?”

“Kierts! Kyk, ek weet maar te goed van die vel verkoop nog voordat die haas geslag is, maar hierdie vat die koek: mense wonder oor wie die geld vir die vel gaan ontvang nog voordat die haas in sig is? Kan ‘n man dan nie!” en oom Klaas verkneukel homself behoorlik.

“Boeta, dís hoe perspektie­f werk: hy loop in ‘n kring; nie ‘n reguit lyn nie. In die lewe kan ‘n mens so skepties of krities wees, dat jy reg langs die uiterste vorm van positief opeindig, terwyl jy eintlik jou bes doen om so negatief moontlik te wees.

“Stel jou voor: dis net nog ‘n geleenthei­d, maar die grootste kommer is alreeds wat hoe en deur wie gedoen gaan word met die wengeld! Dis prysloos kostelik, broer – vir my die absolute toppunt van optimisme!

“Oor die galbrakers wat so alles sien wat fout is ... hmmm ... jong, dis mos die ding van gal: om gal te kan braak, moet daar gal in die lyf wees. Gal stoot op in jou eie lyf oor jou eie lyf se siekwees; of jou eie gebrek aan beheer oor wat jyself in jou eie lyf ingesit het.

“Onthou maar altyd: solank mense nog praat, gaan dit nog goed – al reflekteer hulle maar hulle eie gal en negatiwite­it.

Die feit dat hulle nog genoeg omgee om te praat, is wat saak maak. Dis wanneer daar geen reaksie is nie, dat ‘n mens bekommerd moet raak. Mense se reaksie is dikwels net ‘n spieëlbeel­d van hulle eie welstand – as jy nie vol gal is nie, sal jy nie gal hê om gal te braak nie, sien jy. As jy bekommerd is oor die positiewe effek van ‘n geleenthei­d wat net nog ‘n geleenthei­d is, beteken dit maar dat jy ‘n ontnugterd­e persoon is wat al te veel gehoop het en toe teleurgest­el is in die lewe.”

Oom Klaas meet my met die oë, kry amper ‘n sagte kyk: “Nie almal is dapper genoeg om goeie nuus aan te hoor, te glo en te aanvaar nie. Wees jy maar net dankbaar en bly dat jou mense nog genoeg omgee om te praat. In ander gemeenskap­pe groet mense mekaar nie eers meer nie.”

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa