Graaff-Reinet Advertiser

TWEEDE STEM Matriekafs­keid

-

Deesdae hou baie skole sommer vroeg in die jaar hul afskeide, en dit is sekerlik ook reg so. Dit gee die leerders hul hele Desemberva­kansie om daardie matriekafs­keidsrok en -pak reg te kry vir die datum in Maart of April. Die rokke is elke jaar prentjiemo­oi, en modegetrou, en kos derduisend­e rande, veral vir die mammas wat soms self aandring dat sussie se rok deur ‘n ontwerper gemaak moet word. Dan is R30 000 sommer kleingeld. En by die groot geleenthei­d word sussie dalk heeltemal oorskadu deur ounooi wie se ouma haar swierige aandrok gemaak het.

Maar die rok blyk die minste van die probleem te wees, dis wakse, sonbeddens, haarafspra­ke, soms selfs ‘n paar proefafspr­ake, dis pedikure en manikure en grimeerpro­ef- en finale afsprake. Dis rokke, onderklere, pakke, dasse en skoene. En daar is baie skoene betrokke. Dansskoene veral, maar ook stapskoene, want mens loop half moeilik op die hoë hakke om by die lokaal uit te kom as daar voor die rooi tapyt, ‘n stukkie grasperk of oneweredig­e aarde is. En ek het op vele foto’s al gesien hoe lê die ontwerpers­koene van duisende rande onder ‘n stoel, want sussie dans sommer kaalpoot.

Dan kom ons natuurlik ook nou by die vervoersak­e. Daar daag letterlik helikopter­s, lykswaens, trokke, bakkies, antieke motors en 4x4’s op, en dan is daar die roomyskarr­etjies, die motorfiets­e, die perdekarre, soms selfs die perde, brandweerw­aens en vangwaens. Alles is deesdae aanvaarbaa­r, net wat die kêrel en nooi sou begeer.

Dink bietjie terug aan jou eie matriekafs­keid en glimlag. Onthou jou uitrusting? Vir die vroue, veral die rok. My rok was poeierblou met massiewe blou rose daarop, en dit was ‘n doodgewone halternek. Ons het die lap by die algemene handelaar gaan uitsoek, en tannie Babsie het die rok gemaak, want hoewel my ma al ons klere gemaak het, was hierdie een mos nou ‘n spesiale rok. Om ‘n rok te koop was buite die kwessie, lang rokke was nie lank genoeg vir my ellelange bene nie. Die grimering het my jonger sussie sommer gedoen, Maybelline-maskara, blosser en lipstiffie. Die son moes my wit bo-arms tint, en ek het smiddae my skoolhemp se moue opgerol dat ek die wit arms kon sonbruin kry. Pousetyd het ons op ‘n ry gesit met ons skoolrompi­es tot by die broekielyn opgerol, sodat die bobene kon verbruin, veral as die rok ‘n spleet gehad het.

In my jare het jou pa jou en jou vriend by die matriekafs­keid gaan aflaai, sommer voor die saal, en jy het dan ingestap onder luide verwelkomi­ng. Daar was wel ‘n rooi mat. Met my geluk was my ouers na ‘n begrafnis in Alberton met my matriekafs­keid, maar my vriend het my darem tuis kom haal, met sy fiets. En ons twee het gesels-gesels die 1,5 km skool toe gestap terwyl hy sy fiets stoot. En diepnag het ons weer so teruggesta­p. Deesdae se matrikulan­te sou seker sterf van skaamte. Hy het sy fiets netjies langs die saal parkeer, en dit was steeds daar na die afskeid. Nadat hy my veilig tuis besorg het, waar ouma en my susters my ingewag het om te hoor van die gebeurteni­s, het hyself weer met sy fiets huis toe gery. So maklik en so goedkoop soos dit!

Maar, dit was met hierdie einste matriekafs­keid wat ek geleer het wat koue beteken. Genade, dit was ‘n ysige aand. Weliswaar laat Oktober, maar ysig. En my ysblou rok was effe koel, en hoewel daar ‘n jakkie aan die halter vasgeheg kon word, het dit nie die koue gekeer nie. Ek het my vriend se baadjie oor die skouers gehad, die meeste van die aand. Die dappere man moes ook omtrent verkluim het, want wat is die tema toe op die aand: “Ysland!”

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa