Graaff-Reinet Advertiser

TWEEDE STEM As die lewe suurlemoen­e uitdeel

- Teresa Opperman

As die lewe suurlemoen­e uitdeel, dan maak jy lemonade, beveel die gesegde aan. Maar ek sien daagliks hoe mense daardie suurlemoen­e as verskoning gebruik, en dit word later klipharde suurlemoen­e met dun skilletjie­s en baie sap, wat baie suur is, maar dit word nooit lemonade nie. Later bly die muf suurlemoen oor, en net die pitte is dalk bruikbaar.

Die groot kuns in die lewe is duidelik om te gebruik wat jy het, en om te benut wat na jou kant toe kom. As jy nou heerlike lemonade uit daardie suurlemoen­e gemaak het, kry jy kort voor lank lemoene, en dit maak weer heerlike vars lemoensap.

In ons land, waar armoede so duidelik sigbaar is, en waar swaarkry vir baie mense die enigste beskrywend­e woord is, is daar net een manier om die lewe aan te pak: gebruik wat jy het.

Dit is met sulke mense wat ek ‘n pad kan stap, met wie ek raad en wenke deel, aan wie ek hulp verleen, en aan wie ek gee, want hulle maak honderd keer meer daarmee as wat ek ooit sou kon dink. Ek ken gelukkig talle sulke mense, want soort soek mos soort. En ek staan telkens verstom om te sien wat hulle kan vermag. Hulle het planne en raad, en maak op niemand anders staat vir ‘n uitkoms nie. Ons kort duidelik meer sulke mense in ons gemeenskap­pe.

Ek weet van ‘n vrou wat gereeld in vullisdrom­me gaan grawe, nie vir die kos nie, maar vir die vrot groente wat welgesteld­e huisvroue uitgooi. Soet pepers wat pap geraak het, tamaties wat hul fleur aan vrot verloor het, komkommers wat nie meer kommer nie, en aartappels wat wit worteltjie­s uitstoot uit ‘n grasgroen lyfie.

Sy neem daardie groente huis toe, en gaan saai elke saadjie en sny elke aartappel in vier, en plant dit, en dan dra sy dit nat met al haar oorskietwa­ter. Koue tee wat oorbly in die teepot word verdun, en ook gebruik, stortwater, wasgoedwat­er want sy gebruik net groen wasgoedsee­p in geel papiertjie­s elke druppel gaan tuin toe. Dis mos nou die tipe tuinier wat ek geniet, en baie by leer. Goggatjies vermy haar tuin, want groen skottelgoe­dseep jaag hulle weg. Met oestyd ry sy vragte aan in die kruiwa wat haar buurman stoot - dorp toe om te gaan bemark.

Dis haar inkomste, sy staan nie bakhand en bedel by enige Sassa-ry nie. Sy krap wel in vullisdrom­me, maar sodra die huiseienaa­rs agterkom waaroor dit gaan, hou hulle vir haar dié groente, en hoewel sommige glad nie groei nie, oes sy steeds oordadig!

Ek ken ook ‘n vrou wat met repies lap, van al hul gesin en ander gesinne se ou geskeurde klere, matte weef. Elke flenter T-hemp word in repe geknip, en ou lakens en ou gordyne word in repe geskeur, en dan vat sy daardie repe en maak matte, mandjies en sakke daarmee. Nie net verfraai dit haar eie tuiste nie, maar dit is ook uitstekend­e geskenke en sy verkoop twee keer ‘n maand by die taxistaanp­lekke haar handewerk.

Sy lewer pligsgetro­u ook bestelling­s af. En sy steek net haar hand uit wanneer ek haar die sak met flenter lappe aangee. Sy sorg vir haarself en haar uitgebreid­e gesin, en sy bestuur haar inkomste met ‘n ysterhand. Kan ons nie elkeen leer om te gebruik wat ons het, om ons eie lewensomst­andighede te verbeter nie? Ek dink selfversor­gendheid moet ’n skoolvak word!

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa