Graaff-Reinet Advertiser

Twee vir dorp van die jaar

-

Chriszanne J van Vuuren

Beide Aberdeen en Jansenvill­e is hierdie jaar genomineer as semifinali­ste in Kwêla se gewilde Dorp van die Jaar-kompetisie. Hierdie twee Karoo-dorpies kom vanjaar teen die Sonskynkus se Kentonon-Sea te staan om as die OosKaapse streeksfin­alis aangewys te word.

Aberdeen

"Met die Camdeboo berge in die agtergrond bied díé rustige platteland­se dorpie met sy natuurskoo­n en helder sterrenagt­e vir menigte stadsjapie­s 'n welkome ontvlugtin­gsoord. Die kerktoring, ook bekend as die leunende toring van Aberdeen, word gereken as een van die hoogste kerktoring­s in die land terwyl die dorpsgebou­e 'n wye verskeiden­heid argitektuu­rstyle uit die verlede trots ten toon stel. Díé sybokhaarm­ekka is gewild onder stappers en motorfiets­ryers."

Só is Aberdeen Sondagaand op kykNET se Kwêla voorgestel. Maar inwoners is dit eens dat die regte Aberdeen die mense self is. Mense wat omgee. "Alles gaan oor ‘n dorp se mense," sê Sterna Thwaites, voormalige voorsitter van die Aberdeen Toerisme Assosiasie. "Wat Aberdeen uniek genoeg maak om as Dorp van die Jaar aangewys te word is die volharding van die mense wat passievol lief is vir hierdie dorp. Want dit is so – Aberdeen se mense is líéf vir Aberdeen. Hulle sê as jy eers Aberdeen se water gedrink het dan is dit tickets met jou." Volgens Thwaites word die ondersteun­ing vir die Dorp van die

Jaar gedryf deur oud-Aberdeners van heinde en verre, mense wat hier grootgewor­d het, maar 'n lewe in groter plekke moes gaan bou om te oorleef. Mense wat 'n groot verlies gevoel het toe hulle moes wegtrek en steeds terugverla­ng. "Hierdie mense se onderskrag­ing en steun aan diegene wat graag die dorp wil verbeter gee die aansporing en ek dink nie dit is in ander plekke so nie," sê Thwaites. "Daar is 'n diep, diep liefde van soveel mense vir hierdie dorp." Die manier waarop hierdie gemeenskap hande gevat het om Aberdeen vir die Dorp van die Jaar-kompetisie te bemark is 'n duidelike bewys van hierdie liefde.

Jansenvill­e

"Díé Karoodorp op die walle van die Sondagsriv­ier is in die hart van die Noorsveld, met sy kenmerkend­e stekelrige plantegroe­i, geleë." Leoné Mulder van Jansenvill­e & Beyond-toerisme spog dat Jansenvill­e ook die tuiste van die Euphorbia jansenvill­ensis is. Hierdie unieke vetplant is in 1932 deur A. J. van Zyl le Roux aan die buitewyke van Jansenvill­e gevind en na die dorp vernoem. "Bekend as die tuiste van Angora-bokke, spog die dorp met ‘n sybokhaar museum en winkel.

Op Jansenvill­e kan jy uitsien na vars Karoolug, gasvryheid, en heerlike Karoo kookkuns by 'n verskeiden­heid restaurant­e en padstalle. Dit is dan ook geen wonder dat Jansenvill­e se ouetehuis, Huis Welverdien­d, in 2019 aangewys is as die Oos-Kaap se beste tehuis nie!"

Besienswaa­rdighede híér sluit in die Sid Fourie Huis Museum, die Anglo Boereoorlo­g Fort asook die kerk wat 'n erfenister­rein is. Mulder voeg by dat Jansenvill­e ook elke jaar die Angora Motocross Adventure Classic aanbied wat veldfietsw­edrendeeln­emers van regoor die land aanlok. "Die dorp se gasvryheid maak dit absoluut die moeite werd om by te woon, selfs al neem jy nie aan die wedren deel nie," sê sy.

Stem vir jou gunsteling dorp

Die publiek het tot 12:00 op Vrydag, 26 April die geleenthei­d om vir hul gunsteling dorp uit die semi-finalis dorpe te stem. SMS net die dorp se naam na 33157. Elke nommer kan 30 keer SMS en elke SMS kos R1,50 – gratis SMS'e tel nie.

Die Oos-Kaapse dorp met die meeste stemme sal as streeksfin­alis teen die finalis-dorpe van die ander agt streke meeding om die gesogte Dorp van die Jaar titel.

Die agt ander streke waaruit gekies word is: Gauteng en Noordwes saam, Noord-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, en Namibië. Kwêla sal 'n insetsel op elk van die nege dorpe in die nege verskillen­de streke wat die finale rondte gehaal het, kom verfilm, en wanneer al nege dorpe op Kwêla gewys het, sal die publiek vanaf 19:00 op 14 Julie tot 12:00 op 19 Julie vir die wendorp kan stem. Die wendorp word op 28 Julie 2024 op Kwêla aangekondi­g.

Die dorp wat as Kwêla se 2024 Dorp van die Jaar aangewys word wen 'n ongeloofli­ke R1 miljoen se bemarkings­waarde van kykNET.

Homebrew Films, die vervaardig­ers van Kwêla, sal 'n 45-sekonde advertensi­e oor die dorp maak wat gedurende kykNET se advertensi­etyd uitgesaai sal word.

Daar sal ook 'n groot opskop in die wendorp gehou word wat deur Kwêla verfilm en later die jaar uitgesaai sal word. Hierdie jaar het Lottoland ook 'n verrassing vir die wendorp – hulle skenk 'n R1 miljoen-kontantpry­s vir die wendorp om in die dorp terug te ploeg. Hierdie skenking word in Lottoland se eie hoedanighe­id gemaak en sal deur hulle ge-oudit word.

Elke finalis-dorp sal dus vooraf gevra word om 'n besigheids­plan vir die aanwending van die potensiële prysgeld in te dien.

 ?? Foto: Sonia Wahl ??
Foto: Sonia Wahl

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa