TWEEDE STEM Uit die oog, uit die pad
Dit is mos absoluut verstommend hoe vinnig ‘n vuilgoedblik vol raak. Die een wat die swart sak daagliks of weekliks moet uitsit, sal daaroor kan getuig. Met die dienslewering in ons provinsie, en vele ander provinsies, wat soms veel te wense oorlaat, is dit duidelik dat gemors besig is om bo-oor ons te groei.
Ek lees berigte van stortingsterreine, ek sien aardige versamelings gemors.
Van weggooidoeke tot leë blikke, massas plastieksakke, tonnemaat oorskietkos, en verpakkingsmateriaal van enige aard is besig om ons pragtige aarde te verswelg.
Pla dit niemand nie? Ons kan ook nie waag om te sê: “In die ou dae het dit nie so gelyk nie,” want in die ou dae was daar nie weggooidoeke nie, in die heel ou dae was daar nie eers plastieksakke nie, en niemand sou in my jeug dit oorweeg het om kos weg te gooi nie, wat nog te sê ‘n kartondoos wat hergebruik kan word.
Ons het blikkies in bekertjies verander, of dit gebruik vir vetplantjies, en ons het in elk geval nie naastenby soveel blikkies, gaskoeldrankbottels en koeldrankblikkies gebruik nie en weggooidoeke glad nie. En ons ouers het slim van gemors ontslae geraak.
Menige huishouding het ‘n donkie buite die huis ingespan, en terwyl die huiswater warm gemaak word, verbrand die gemors ook. Maar sedertdien het die bevolkingsaanwas met verreikende gevolge gegroei.
Baie kinders leer nooit om iets in ‘n vuilgoedblik te gooi nie. Hoe dikwels het jy al gesien hoe lyk ‘n pawiljoen nadat daar ‘n byeenkoms was. ‘n Volle span skoonmakers moet die volgende week werk om op te ruim.
Hoe moeilik is dit om van jou eie gemors, op jou eie ontslae te raak, sonder dat dit vir ander ‘n steen des aanstoots raak?
Leef jy binne jou huis met berge gemors rondom jou? Dan verstaan ek hoekom jy voel jou dorp, jou stad en jou land moet ook gesellig bemors wees. Maar dit blyk mense maak wel skoon rondom hulle, maar gaan gooi die vragte gemors, ongesorteerd, iewers waar dit vir ander ‘n steen des aanstoots is.
Die afgelope week was ek in ‘n gesprek waar die persoon my meedeel: “Ek sien ‘mense’ stuur nou ‘mense’ met kruiwaens gemors om dit hier langs die pad te kom gooi!” Maar die bron deel geen verdere inligting nie. Verstaan sy nie, dat as sy dit sien, is sy veronderstel om vir die ‘mense’ te gaan sê: “Verwyder asseblief hierdie gemors, en neem dit na die vullisgate waar dit bestuur sal word!”
Maar sy bel my, wat bykans 40 km van daar af woon, en wat moet ek nou doen. Inry om ‘n ander se gemors wat nou uit sy oog, in die wêreld se pad gegooi is, te gaan optel? Sou die mens se ouers desjare hul gemors by die dorp se ingang gaan gooi het, of voor die poskantoor, of nog erger, langs die kerk? Beslis nie, nou waarom het almal dan nou skielik hulself die reg toegeëien om alles te bemors waar hul gaan?
As elkeen van ons die 100 m om ons tuistes skoon hou, die gemors uit daardie 100 m van ontslae raak op ‘n verantwoordelike manier, ons kinders leer wat herwinnigsbestuur is, en ons werkers leer wat die korrekte, aanvaarde manier van rommelbestuur is, sal ons land nie sukkel met tonnemaat gemors wat die wêreld versmoor nie.
Wanneer jou gemors uit jou oog uit is, is dit ook uit jou pad uit! Moet dit asseblief nie dwars in die weg van iemand anders se pad gaan neersit nie. Dis bloot onwelvoeglik.