Graaff-Reinet Advertiser

KLAAS NIEMANDT - Die lewe gebeur

-

Alex Lombaard

Ek het vir Oom Klaas vertel van al die dinge rondom my wat so radikaal verander – en baie daarvan sommer haas oornag; onverwags.

Ek weet nie altyd wat om daarmee te maak nie. Wat gister nog regs was, is vandag skielik links; wat gister norm was, is vandag ongewoon. Soms voel dit of tyd te vinnig loop: vandag is die kinders klein, môre is ek oud; gister was ‘n brood R7,00, vandag is dit R20,90. Ons is maar soos grassade in die wind – vandag hier en môre wie weet waar. Hoe het die lewe dan só verander, Oom Klaas?

Oom Klaas wys vir my kiekies. Van sy plek. "Kyk hier, sien jy hoe kaal lê die grond hier? Nie eers 'n vuilgoedbo­ssie nie. Stófkaal – soos voor die Skepping: woes en leeg. Net anderjaar – smaak soos laasjaar – het dit nog só gelyk.

"Maar kyk hierdie een, 'n jaar later. Grasgroen – oral waar jy kyk. En toe raak dit warm; versengend­e hitte – brand alles dood dat dit lyk asof die hele stuk aarde vir te lank in 'n mikrogolfo­ond was. Sien, in hierdie een is alles doodgebran­d. Van stofkaal tot oerwoud tot verskroeid­e, verlepte vaal-bruin. Dan kan jy nou loop kyk ná die onlangse reën. Selfde stuk aarde. Alles groei nou uit hulle nate uit ... en dit met die winter se rypkoud om die draai."

Ek weet Oom Klaas wys eintlik vir my iets anders as wat in die foto's is: "Wat wys Oom eintlik vir my?"

"Jou antwoord. Ek wys jou jou antwoord! Alle antwoorde wat jy kan soek, sal jy in die natuur vind. Jy moet net leer kyk. En dan, as jy aanhou kyk, dan sal jy sien alles in die lewe gebeur soos dit moet gebeur. Niks wat nét goed of nét sleg is, gebeur ooit nie. As dit vir jou so voel, het jy net nog nie lank genoeg gelewe nie. Die lewe gebeur – dis die mens se perspektie­f wat verander.

"So min as 'n jaar of drie uit my ganse lewe maak hierdie grote verskil wat ek hier vir jou wys. Van niks, kaal stofgrond tot ‘n groen oerwoud tot doodgebran­d tot weer van meet af grasgroen. Gemeet aan hoe lank ék al lewe, het dit in ‘n oogknip radikaal verander. Daai tyd toe dit so droewig droog was, wou ek my enkele vrugtebome red met my trane van verdriet. Vandag durf ek nie my vreugdestr­ane oor hulle stort nie – dan versuip hulle!

"Ons staar onsself so blind teen die dinge van die wêreld; ons spartel so om net nog 'n dag te oorleef en nader te kom aan wat ons as ons ideale stel, dat ons soms of dikwels uit pas raak met die lewe self. Kyk om jou rond: die son kom op en gaan onder; droogte kom en droogte gaan; plante kom op, groei of brand dood en as hulle groei, dan gróéi hulle om te blom of vrug te dra.

"Hoe dink jy voel die aarde as die weer sy kors met son verskroei, of met reënvloed verspoel? Maar daai selfde son en daai selfde reën maak ook dieselfde aarde grasgroen. Want die lewe gebeur met niks wat nét sleg of nét goed is nie.

"Die lewe is nie goed of sleg nie; goed of sleg is óns benadering tot – en ervaring van – die lewe. En per definisie is die lewe nooit stagnant nie – dan sou lewe dood wees. Wanneer die gejaag en die gespartel 'n man so moeg maak soos jy nou is, vat die dag af en maak dat jy buitekant kom. Trek die lug diep in jou longe in en betrag die natuur. Of dit kaal vlaktes is of groen oerwoud waar jy jou bevind, weet dis maar tydelik soos dit is, want die lewe gebeur ... met of sonder ons kritiek of lof. So, ons kan dit netsowel respekvol geniet."

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa