Graaff-Reinet Advertiser

KLAAS NIEMANDT - Wat is fout met die wêreld

-

Alex Lombaard

Soos ander mense ook maar doen, bespiegel ek en oom Klaas in van ons geselse oor wat in die wye wêreld om ons aangaan; wonder ons waarheen alles en almal op pad is; en hoe dinge en mense is soos hulle is of nie is nie.

Onlangs praat ons toe oor hoe mense se denke, oortuiging­e, optrede en gedrag in die algemeen verander het. Oom Klaas laat loop met: "Ek sal jou sê wat fout is met die wêreld. Ons het te veel ouers, maar te min ma’s. Ons het lankal nie genoeg pa’s nie, maar deesdae kort ons veral ma’s."

"Vandag is 'goeie ouerskap' so gefokus op die 'beste' onderrig – die kind kan skaars loop, dan moet hulle begin skoolgaan, maar dikwels kan die kind na amper twee dekades dan steeds nie spel of tel nie. 'Goeie ouerskap' is vandag ondergeski­k aan ‘n sambreel van allerhande regte en vryhede van kinders, maar dikwels verkondig die kind by mondigword­ing steeds hoe verontreg, benadeel en geleetheid­loos hulle is! O, ouers is so vasgevang in die oorweldige­nde idee van verantwoor­delike ouerskap dat hulle hulleself net nie breek om tog net by te kom by al die sosiaal voorgeskre­we materiële en morele verpligtin­ge van ouerskap nie - ma werk, pa werk, want suksesvoll­e ouerskap is duur!

"Maar kom ek sê jou: die gedagte aan ‘n ma is om te weet jy het altyd ‘n engel langs jou.

"‘n Ma is iemand wat ‘n kind só leer van moeg wees, dat die kind self raaksien dat ma dalk moeg is, al sê sy nooit sy is te moeg vir die of daai nie. ‘n Ma leer ‘n kind van kosmaak, dat die kind self besef dat ma ook honger raak en nie altyd self lus is om daardie honger te stil nie. Man, ‘n ma sorg vir die kind op so ‘n manier dat die kind leer van die balans tussen gee en neem.

"‘n Ma leer ‘n kind dat trane goed is, maar dat die afdroog van ‘n ánder se trane vervullend is. Sy leer die kind dat die skoonmaak van ‘n plek; die opmaak van ‘n bed; die doen van wasgoed; die lap van ‘n skeur in ‘n broek; die aanwerk van ‘n hemp se knoop; die stop van ‘n sokkie, die bevestigin­g van selfrespek is, maar om dit vir ‘n ánder te doen, is om die woorde "ek is lief vir jou” te borduur in ‘n ander se hart. ‘n Ma sorg vir ‘n kind op so ‘n manier dat die kind leer van die balans tussen selfbehoud en onderskrag­ing van ander.

"Maar die heel meeste wat ‘n ma ‘n kind leer, is dat daar van ‘n vervulde mens in die lewe gevra word waarvan hulle net genoeg het. Die besige ma maak altyd nog tyd vir haar kind; die moeë ma vind die energie om die kind te gaan toemaak wanneer die nag koud raak; die ma met die leë beursie vind die geld om vir iets by die skool te betaal; die gebroke ma se hart is heel genoeg om die kind geborge te laat voel; die sagste ma vind die oortuiging om die stoute kind te dissipline­er.

"En die grootste ding wat ‘n Ma ‘n kind kan leer, is dat dit oraait is om nie altyd al die antwoorde te hê nie – knak in die knieë is goed. Om jou kop te gaan neerlê met geen antwoord oor hoe jy môreoggend gaan opstaan nie, is dikwels goed en soms nodig, want as jy al die antwoorde sélf ken en alles sélf weet, hoe moet ‘n wonderwerk ooit in jou lewe kan gebeur? En sonder wonderwerk­e, hoe hou jy aan om in God te glo?

"Dan, so tussendeur leer ‘n ma ‘n kind dat die lewe nie mense gelyk behandel nie, want elke mens is uniek en elkeen stap hulle eie pad; ons almal struikel en val en dis nie noodwendig iemand se skuld nie, maar dis elkeen wat geval het, se eer en eie verantwoor­delikheid om weer op te staan, heel te raak en aan te gaan.

"So, dís wat fout is met die wêreld, my mens: ons kort meer ma’s en minder ouers.”

Met oom Klaas se laaste sin nog swaar in die lug, vra ek waar pas ‘n pa dan in. "Ek sal jou sê, maar nie vandag nie.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa