Op ‘n fiets deur Afrika
Teresa Opperman
Iemand soos Martin Oosthuizen is braaf, maar hy het die weg na sy persoonlike vryheid uitgepluis. Hy deurreis Suid-Afrika, Namibië en nou Lesotho reeds vir die afgelope amper nege maande.
Graaff-Reinet Advertiser het hom op 'n ysige koue dag, met ysreën wat neersif, op die R391 opgemerk. Hy was haastig op pad om voor donker in Molteno te kom, sodat hy daar kon oornag, voor sy reise na Jamestown, Barkly-Oos en Rhodes.
Oosthuizen vertel dat hy op 21 Augustus verlede jaar in Pretoria weggetrek het, en al 8 200 km ver getrap het.
Vele reisigers het hom al iewers opgemerk, ‘n doodgewone man op ‘n blou fiets, met ‘n drarakkie. Hy koop by die klein dorpswinkeltjies water en ‘n brood, soms ietsie om te braai, of vrugte. Saans oornag hy in sy slaapsak, in sy eenmantentjie, bloot onder ‘n boom, of as dit winderig is, iewers teen ‘n muur. Hy reën nat, hy kry warm, hy kry dikwels ook koud, hy bad waar daar water is, maar hy leef sy vreugde uit en trap die wêreld oop.
Oosthuizen is van Pretoria en gebore in Vanderbijlpark en het ook daar skoolgegaan. “Ek het maar nog altyd 'n avontuurlustige streep in my en ek het altyd graag video's oor fietstoere gekyk. Toe ek die geleentheid kry, het ek besluit ek wil dit ook doen. Vir my is dit 'n persoonlike pelgrimstog.
"My kinders ondersteun my 100%.
Ons seun is in Pretoria en ons dogter in Kanada. Ek en my vrou woon apart, en dit is deels hoekom ek die fietstoer kan doen. My vriende reageer verskillend en hul kommentaar is enige iets van ‘Jy is mal!’ tot ‘Ek sou dit ook graag wil doen."
Op sy sosiale media-blad gons dit soos mense reageer op sy reise. Soms nooi iemand hom in vir ‘n nag op ‘n sagte bed, en ’n heerlike bord kos, maar daardie dae is in die minderheid.
“Dit is nie alles mooi paaie, bergpasse en wakker word met die soet melodie van voëlgesang nie. Ek ervaar natuurlik ook fietsprobleme, is besorg oor my veiligheid, natuurlik word ek soms siek, en ek was al in 'n tref-en-trap ongeluk betrokke. Ek het heel dikwels selfoon- en seinprobleme. Sommige dae is dit koud, en soms trap ek deur die uiterste hitte. Maar hierdie rit is ook sielsondersoekend.
Dit is ongelooflik bevrydend om niks aan niemand te skuld nie, en om nie alles te doen om diegene rondom jou gelukkig te hou nie. Ek leef elke oomblik,” vertel Oosthuizen. Baie bewonder mense soos Martin, hy is onderweg na sy eie diepere self en die waarheid! Sommige bereik daardie innerlike vrede nooit.
Vele reisigers het hom al iewers opgemerk, ‘n doodgewone man op ‘n blou fiets, met ‘n drarakkie.