Graaff-Reinet Advertiser

KLAAS NIEMANDT - Brood op die water

-

Alex Lombaard

Ek vra vir oom Klaas oor hoe ‘n mens moet dink oor ander help, want die nood groei daagliks, maar daarmee saam so ook die kansvatter­s en uitbuiters. Ons help waar en soos ons kan, maar my vrou reken ek het geen benul van tyd of finansies nie en sal my hemp en broek uittrek vir wie ookal lyk of hulle dit eendag dálk nodiger mag hê as ek.

“Hmm, jy het ‘n goeie, slim vrou. ‘Trek jou baadjie uit om borg te staan vir ‘n ander, net as jy eintlik jou broek ook wil weggee’ … of so iets, het CJ Langenhove­n al toentertyd geskrywe. Kan ek vandag byvoeg: en leen dit uit in die somer, nét as jy weet jy het ‘n beter broek en ‘n fris jas vir die winter,” sê oom Klaas op sy rustige manier.

Maar hierdie is vir my ‘n dringende saak, ek het vandag ‘n klaar antwoord nodig: “Ja maar, oom, die Skrif leer vir ons om ons brood op die water te werp en van die engel wat aan die deur klop…”

“Jong, oor die engel sal ek nou nie vandag iets waag nie. Maar, kom ek vertel vir jou van brood op die water.

“Vanmelewe het dit maar droewig gegaan met my pa-goed daar in die depressiej­are. Hy was gelukkig nog jonk en toe hulle anderkant die depressie uitkom, het hy dubbel hard gewerk en ander gehelp waar hy kon … ook nie altyd met my ma se seën nie.

“Ewenwel, so op ‘n dag, nogals ‘n Vrydag, vra ‘n minder flukse buurman hom toe hoe hy dit regkry om so uit te deel en te help en tóg steeds nét vooruit te boer. Pa antwoord: ‘Man, ek glo mos maar ‘n man moet sy brood op die water werp…’ Nou, my pa het ‘n oop hand gehad, maar nie ‘n geil tong nie, so daarmee was hy toe nou klaar verduideli­k.

“Kom Maandagogg­end en hier is die klong weer by my pa op die land. Maar daai man se gemoed is blouer as lusern in blom en hy is sielsongel­ukkig, diep bedroef en smoorkwaad. Hy sê my pa sommer reguit dis nou die swakste advies wat hy nog in sy ganse lewe gehoor het … brood op die water werp, watwou! Hy reken toe hy het presies gedoen soos my pa gesê het en hy het die hele naweek gewag, maar dit gaan niks beter met hom nie, inteendeel, hy is op die Maandag swakker daaraan toe as die Vrydag. Vrydag het hy brood gehad en vandag het hy niks, sonder dat hy eers ‘n krummeltji­e van daai helige brood oor sy twee lippe geneem het!

“Hy sê hy het daai eietyd Vrydag geloop en ‘n brood loop koop. Hy het langs die kanaal geloop staan en die laaste krummel van daai brood gebreek en op die water in die kanaal gegooi. En toe gewag. Die hele naweek. Hy sê hy het nie geroer van daai plek nie. Hy’t skaars ‘n oog geknip, maar daar het absoluut heeltemal NIKS gebeur nie – daai brood is bloot wég met die water saam.

“Nou, sien jy, dis die ding van brood op die water werp – jy doen dit soos dit vir JOU werk. Maar, daar is nie ‘n ding soos gee of help met soveel soos ‘n verwagting van eers ‘n dankie nie, laat staan enige erkenning of iets in ruil vir wat jy gegee het. Om te help of te gee, is nie om ‘n boemerang te gooi met daar gaan hy en hier kom hy, nie. As jy dit nie kan besef nie, gee dan eerder niks – vat dan liewerste wat jy sou gee en loop gooi dit eenmaal maar in die kanaal op die water. Gee wat jy kan en help soos jou vermoë toelaat, maar onthou ook van pêrels voor die swyne. Daar sal altyd diegene wees wat van jou kom vra, nie soseer omdat húlle nódig het wat jy het nie, maar omdat hulle nie wil sien dat jý íets het nie. Ook, doen jou eie huismense in om ander te help; en kyk hoe jy stoksielal­leen by jou eie tafel sal aansit.

“En so werk dit selfs met advies: gee dit aan iemand wat nie daarvoor vra nie – of dit nie verstaan nie – en wees nie ongedurig as dit vort gaan met die kanaalwate­r nie. Maar verstaan vandag wanneer ek vir jou sê: loop nou en loop sê dankie vir jou verstandig­e vrou – jy lyk beter met klere as daarsonder!”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa