N Plekkie in die son
Tshwane brand. Verkiesers is woedend, want ’n kandidaat van ‘n ander rassegroep word in hul kele afgeforseer. In ons gemeenskap het die kwessie van tussen-in-mense weer kop uitgesteek.
Dis ’n persepsie, nie ’n bewese feit nie. Wat bedoel ons met tussen-in-mense? Was ons in die apartheidsjare nie wit genoeg nie? En nou is ons nie swart genoeg nie? Dis mos rassisme. Om nie eens te praat van ekslusitiwiteit nie.
“Bruinmense” – dis ’n etiket wat die Nasionale Party van toentertyd om ’n spesifieke groep mense gehang het. Dit was ’n groeperingsvorm wat daardie spesifieke met mag en mening teengestaan het. Die pejoratiewe word bewustelik uit die burgery se taal gehou, ’n dun swart streep word deur die benaming getrek. Met die koms van demokrasie is ons weer nie swart genoeg nie. Hierdie persepsie het sy eiesoortige slaggate.
Word die tussen-in-toestand bepaal deur ekonomiese omstandighede? As ’n mindere groep beklee die tussen-in-groep talle poste, is hulle opgeneem in verskeie strata van die ekonomiese lewe.
Die politieke lewe? Is dit die bron van die persepsie: die tussen-in-mense het geen seggenskap oor hul eie lot nie? Wat dan van stemreg? By die stembus kan en moet jy jou leier(-s) kies. Het ’n al- gehele gelatenheid die “bruinmense” beetgepak dat hulle die stembus vermy, want dis ’n hopelose, vrugtelose, sinnelose voorreg?
Moet elke mens nie sy eie ingesteldheid in oënskou neem nie, veral ten opsigte van rasseverhoudings? Dis nie net ’n kwessie van verdraagsaamheid nie. Dit is ook die grootse kwessie van die self na waarde skat, jou eie bydrae tot die welvaart van jou gemeenskap en uiteindelik jou medemens bepaal.
Hoe nietig of groot, elkeen het ‘n plekkie in die son. Vervul jou taak met trots en waardigheid. Moet rasgroepering gebruik word om ’n negatiewe persepsie te steun?