Spore van onderdrukking lewe nog
Ek mag verkeerd wees van my gemeenskap, maar die gevoel wil nie weg nie. Miskien lees ek my mense verkeerd, sien ek in hul daaglikse lewe spore van toenterjare se onderdrukking.
Noodgedwonge het hulle gebuk onder die juk van verdrukking en het hulle gekruip ter wille van oorlewing.
Ly ons aan n gemeenskaplike minderwaardigheid?
Voel ons minder as ander gemeenskappe?
Ek dink aan my skooldae en die besoeke aan ander skole of die besoeke van vreemdelinge. My klas was tjoepstil, hul bydrae tot die minimum beperk.
Kom ons grootmense in n saal vol mense waar sake omtrent hulle lewens bespreek word, moet n spreker namens hulle optree. Of ’n omie, lekker tanne nat, keer die hele vergadering om en word dan onder groot geskel uitgesleep, nee soos ’n bondel sweterige werksklere op die punte van sy sementskoene by die saaldeur uitgesmyt.
Ons is spontane mense, maar ons selfvertroue en gemak om in openbare gespreksituasies op te tree, is net nie daar nie.