Huisgenoot

WAT VAN SOEN TUSSEN GROOTMENSE?

-

Jy ken seker dié gevoel: Iemand wat jy so half en half ken, kruis jou pad en tot jou skok merk jy op hulle leun vorentoe om ’n soen op jou mond te plak. Is jy net vol fiemies of kan jy maar jou neus optrek vir ander se klapsoene?

Mense wat drukkies en soene uitdeel sonder om daaroor te dink, oorskry perke, want jy dwing iemand om in die openbaar liefde te betoon, sê Charlotte Younes, stigter van die Johannesbu­rgse etiketskoo­l Elegant Touch. “’n Mens kan ’n drukkie of soen op ’n beskaafde manier afkeer. Dis miskien vir ’n rukkie ongemaklik, maar jy hoef dit nie lelik of aggressief te doen nie.” Sy meen dit is ’n goeie idee om jou hand uit te steek wanneer jy iemand wil groet.

En wat van daai soenery op albei wange, soos die Franse dit doen? Charlotte sê Suid-Afrikaners het oor die algemeen die Europese styl van etiket en fynere kunsies aangeneem, maar nie die Franse of Italiaanse manier nie. “Om iemand twee keer op die wang te soen is nie deel van ons Suid-Afrikaanse kultuur nie.”

Volgens haar gee Afrikaanse mans mekaar tradisione­el ’n stewige handdruk en vroue mekaar ’n drukkie, na gelang van hoe goed hulle mekaar ken. Maar dit raak in sommige kringe meer algemeen om iemand op die wang te soen.

Dit kan baie ongemaklik wees wanneer iemand die een wang gesoen het en na die ander wang mik terwyl jy wegdraai. “Voor jy dit kan keer, soen julle mekaar se neus.” Sy meen dit is nie raadsaam om twee soene op die wang te inisieer nie. “Die meeste Suid-Afrikaners ken dit nie, verstaan dit nie en doen dit nie.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa