Die Vi­ool

Toe hul­le uit Praag moes vlug, was die kos­ba­re vi­ool hul kaart­jie tot ’n moont­li­ke toe­koms

Huisgenoot - - Inhoud - Deur MARLI HUGO Il­lus­tra­sie: MI­CHA­EL DE LUCCHI

HY SPARTEL om uit die droom los te kom. Toe hy ein­de­lik sy oë oop­kry, is hy nog half ver­ward en moet hy eers ’n paar oom­blik­ke stil lê om hom te o­ri­ën­teer. Die be­kend­heid van die ka­mer in die vroeg­og­gend­ske­mer kom ge­lei­de­lik na hom te­rug. Vreemd dit neem so lank om per­spek­tief te kry. Hy slaap im­mers al by­na 25 jaar in dié ka­mer in dié bed.

En tog was dit daar­die deur­me­kaar nag van 35 jaar ge­le­de wat hom weer gis­ter­aand vas­ge­vat het. Dit was so werk­lik, hy voel nou nog die don­ker wa­ter oor sy kop sluit, voel hoe sy voe­te ver­geefs op soek na vas­tig­heid kar­ring.

Sy sel­foon lui op die bed­kas­sie.

Hy lê ’n oom­blik, on­mag­tig om hom heel­te­mal van die ver­skrik­king van die droom los te skeur. Dan ant­woord hy son­der om te kyk wie dit is: “Va­si­li, goei­e­mô­re.” “Hal­lo, Va­si.” Hy glim­lag toe Mar­ga­re­tha se stem hel­der in sy oor op­klink.

“Hoe gaan dit met die kin­ders? Al­mal nog ge­sond? Kui­er jy lekker?” vra hy.

“Baie goed. Ja. En ja. Ons wens net jy kon ook hier ge­wees het. Al­les nog reg by die huis? Jy nog ou­kei?”

Sy ge­dag­tes gaan on­wil­le­keu­rig te­rug na die ver­skrik­king van daar­die af­grys­li­ke nag. Af en toe kon hy daar­in slaag om sy lon­ge des­pe­raat vol lug te trek ter­wyl sy kop vir ’n paar se­kon­des deur die op­per­vlak ge­breek het. Hy weet nie hoe lank hy teen die koue stroom ba­klei het nie. Dit het in elk ge­val soos ure ge­voel. Toe hy weer vas­tig­heid on­der sy voe­te voel, het hy geen be­nul ge­had van waar hy is nie.

Nog min­der het hy ge­weet wat van die res van die ge­sin ge­word het. Hy het net­net daar­in ge­slaag om sy lig­gaam moei­saam tot op die ri­vier­oe­wer te sleep voor hy sy be­wus­syn ver­loor het. Toe hy ure la­ter by­kom, het die son al hoog ge­sit en sy eer­ste ge­dag­te was om skuil­plek te kry. Hy het in­tu­ï­tief ge­weet die an­der is nie na­by nie; was hul­le in die om­ge­wing, sou hul­le hom ge­kry het.

Hy het tus­sen die lang gras en bos­se op die ri­vier­oe­wer in­ge­kruip en hom­self tot kalm­te ge­maan. Hy moes dink wat hom te doen staan.

Hy was nie se­ker waar hy is nie. Was hy nog in T­sjeg­go-Slo­wa­kye of het hy al die Oos­ten­ryk­se grens oor­ge­steek? Hy sou vir eers maar al­le men­se moes ver­my.

Sy ge­dag­tes was ’n war­boel. Hy het aan sy ge­sin ge­dink, ge­won­der of sy ma-hul­le en die drie jon­ger kin­ders vei­lig was. Hy weet sy pa sou hom kom soek het as hy kon. “Va­si?” O ja, Mar­ga­re­tha. “Dit gaan nog goed hier. Mis jou net baie. Maar ek gun jou

Hy was om­trent 10 toe hul vreed­sa­me wê­reld wan­kel. Sol­da­te het Praag in­ge­val

die tyd­jie by die kin­ders. Sê groe­te vir al­mal. Ek wens ek kon daar wees. Mis­kien vol­gen­de keer.”

“Ja, die kin­ders wil jou graag weer sien. Maar ek moet eers groet. My lug­tyd raak min. Sien jou een van die dae. Mooi bly.”

“Dan­kie vir die bel. Lekker kui­er! Tot siens.”

Sy ge­dag­tes bly te­rug­dwaal.

Ter­wyl hy ge­wag het dat dit don­ker word, het hy weer die ge­luk­ki­ge, sor­ge­lo­se dae in Praag ont­hou. Hul huis was al­tyd vol vro­li­ke stem­me en men­se wat lag. En mu­siek. Sy pa en ma het al­bei vi­ool ge­speel en sy ma het vi­ool­les­se ge­gee.

Om die draai van hul­le het mnr. Misja ge­woon. Hy was wyd en syd vir sy goeie vi­o­le be­kend. Hul­le het self twee van sy vi­o­le ge­had. Mnr. Misja se vi­o­le was ge­sog en het ge­tuig van fyn vak­man­skap. Na­ma­te hy as vi­ool­bou­er be­kend­heid ver­werf het, het hy sy vi­o­le be­gin nom­mer. Bin­ne-in elk­een het hy sy naam en ’n nom­mer aan­ge­bring. Op hul vi­o­le het die nom­mers 144 en 145 ge­staan.

Hy was om­trent 10 toe hul vreed­sa­me wê­reld be­gin wan­kel. Sol­da­te en tenks het Praag bin­ne­ge­val om die op­stand teen die kom­mu­nis­me te on­der­druk. Hul­le het by­na vier jaar lank met die be­drei­ging saam­ge­leef voor sy pa be­sluit het hul­le het nie ’n toe­koms in hul ge­lief­de ge­boor­te­land nie.

Op ’n nag het hul­le ge­vlug. Sy pa het een van die vi­o­le saam­ge­neem, want hy het ge­dink hul­le sou mis­kien daar­mee hul brood kon ver­dien deur les te gee of ê­rens te speel.

Hul toe­koms­plan­ne was on­se­ker. Sy pa, ’n in­ge­ni­eur, het ge­hoop hy sou ê­rens ’n werk kon kry. Hy het ge­praat van Suid-A­fri­ka; ’n he­le klomp T­sjeg­ge het reeds daar ’n heen­ko­me ge­vind.

Va­si­li Ko­mensky gooi die kom­ber­se van hom af. Dit sal nie help om lan­ger te bly lê nie; hy sal tog nie weer kan slaap nie. Hy stap kom­buis toe en giet wa­ter in die ke­tel.

Ter­wyl hy wag dat die wa­ter kook, dink hy te­rug aan daar­die ja­re voor hy daar­in kon slaag om na Suid-A­fri­ka te kom.

Hy was 14, te jonk om reg­tig te werk, en hy was bang hul­le stop hom ê­rens in ’n kin­der­huis. Hy het los wer­kies ge­doen en ge­lei­de­lik sy pad na S­wit­ser­land ge­vind.

Sy ken­nis van vi­o­le het hom ge­help om aan die le­we te bly deur die fyn­be­snaar­de in­stru­men­te te her­stel.

Toe hy 18 is, het hy ein­de­lik na SuidA­fri­ka ge­kom. Hy kon nooit vas­stel of sy ou­ers ooit in die land aan­ge­kom het nie en sy ja­re lan­ge soek­tog het nooit vrug­te af­ge­werp nie.

Ge­luk­kig het Mar­ga­re­tha oor sy pad ge­kom. Hul­le is ge­troud en ein­de­lik het hy sy eie ge­sin ge­had. Hul twee seuns is te­rug op hul pa se voet­spo­re en het hul brood in Eu­ro­pa gaan ver­dien.

Met Kers­fees om die draai was dit nie vir hom moont­lik om saam met Mar­ga­re­tha vir hul­le te gaan kui­er nie. Hy moet in die or­kes speel en vi­o­le moet her­stel word.

’n Ver­ve­li­ge Kers­fees lê dus vir hom voor. Dit is mis­kien waar­om ’ n ver­la­ten­heid van­og­gend oor hom kom lê het soos in sy al­l­een­ja­re in Eu­ro­pa ná hul vlug­tog wat hul­le uit­me­kaar laat spat het.

Hy is bly dit is van­dag Sa­ter­dag en dat hy nie hoef te gaan werk nie. Soos al­tyd wan­neer hy die droom ge­had en die ver­le­de so fel be­leef het, voel hy heel­te­mal ge­drei­neer.

HY’S in die tuin be­sig toe hy die hek­kie se skar­nie­re hoor skree. Hy het weer ver­geet om dit te o­lie. Hy kom ef­fens stram o­rent en kyk vra­end na die jon­ge­ri­ge blon­de vrou en ewe blon­de mei­sie wat voor hom tot stil­stand kom.

Hy skat die vrou se ou­der­dom op on­ge­veer 40, so 10 jaar jon­ger as hy. Die vi­ool­tas in haar hand ver­tel hom waar­om sy hier is. Sy glim­lag en lyk iet­wat on­se­ker.

“Ver­skoon my, me­neer, is ons op die reg­te plek? Is u die vi­ool­dok­ter?”

Hy knik en steek sy hand uit: “Noem my som­mer Va­si­li. Aan­ge­na­me ken­nis.”

“Aan­ge­na­me ken­nis. My naam is Hen­ri­ët­te en dit is Su­net.” Sy wys na die mei­sie. “Ons het ge­hoor u her­stel vi­o­le?”

Hy hoor die vraag in haar stel­ling en knik weer met sy kop.

“Dis reg, ja. Waar­mee kan ek help? Maar wag, kom ons gaan eers bin­nen­toe.”

Hy maak vir hul­le die voor­deur oop en wag dat hul­le bin­ne­stap. Die koel ske­mer van die ou huis vou om hul­le.

“Sjoe, dis warm bui­te. En hier is dit so lekker koel,” laat die vrou hoor.

“Ja, die mu­re is taam­lik dik en ons hou die gor­dy­ne toe wan­neer dit so warm is. Kom, ons stap deur na my werk­ka­mer toe.”

Hy trek vir hul­le elk­een ’n stoel om sy werk­ta­fel uit. “Sit ge­rus. Nou ja, kom ons kyk wat die pro­bleem is.”

Hy maak die vi­ool­kas oop en lig die vi­ool ver­sig­tig uit. Dit is ’n ou in­stru­ment en hy streel lief­ko­send oor die ge­po­leer­de hout, glad van baie ja­re se han­teer. Sy oog vang die naam aan die bin­ne­kant. Sy han­de ver­stil.

Op die hout is ’n naam en on­der die naam ’n nom­mer. Sy vin­gers voel-voel oor die in­stru­ment, as­of hul­le wil be­ves­tig sy oë sien reg.

Sy stem is skor toe hy op­kyk en na die vrou kyk: “Waar kry u die vi­ool?”

“Voel u sleg, me­neer? Va­si­li? U is doods­bleek.” Sy spring ver­vaard op, kry ’n glas en skink vir hom ’n bie­tjie wa­ter. Dan hou sy dit na hom toe uit, maar hy skud sy kop sta­dig. Neem tog ’n sluk­kie. “Waar kry u dit?” her­haal hy sy vraag. “Die vi­ool het eint­lik ’n in­te­res­san­te sto­rie. Dit kom uit Praag en is in die 1960’s ge­maak. Suid-A­fri­ka het nie baie van dié vi­o­le nie. U het die nom­mer bin­ne-in ge­sien. Dis 144. Dit is al baie ja­re in my man se fa­mi­lie.”

Hy kyk met ver­skerp­te aan­dag na haar. “U het nie u van ge­sê nie?” “Ko­mensky.” Sy kyk ver­stom hoe tra­ne skie­lik in die grys-groen oë vorm.

VA­SI­LI hui­wer op die stoep ter­wyl sy oë gre­tig oor die rus­ti­ge Ou­kers­aand­to­neel­tjie in die sit­ka­mer dwaal. Die gor­dy­ne is nie heel­te­mal dig­ge­trek nie en hy ver­kyk hom aan die kin­ders wat na­by die ge­sken­ke on­der die Kers­boom kui­er.

Hy sien die on­be­ken­de-be­ken­de ge­sig­gies wat her­in­ner aan dié uit sy eie kin­der­tyd. Bloed van sy bloed.

Voor die te­le­vi­sie­stel bon­del die ou­er kin­ders saam. Op die ge­mak­stoe­le sit die vol­was­se­nes en ge­sels, Hen­ri­ët­te se ge­sig blo­send van op­ge­won­den­heid oor haar ge­heim.

Daar sit sy ma en pa langs me­kaar op die bank. Haar hand rus op sy been. Hul­le is grys, maar lyk heel goed vir men­se an­der­kant 70 jaar.

’n Traan loop oor sy wang en hy vee dit met sy reg­ter­vuis af.

Toe steek hy sy hand uit na die deur­klok­kie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.