Huisgenoot

Boer André vind eindelik sy trouvrou

Boer André het hom nie deur die droogte laat keer toe hy sy Facebookli­efde om haar hand vra nie

- Deur PIETER VAN ZYL

HY WOU die jawoord op ’n “mooi plek naby die water” vra, maar op sy Karooplaas tussen Colesberg en Noupoort is so ’n skaarste daaraan dat boer André ’n ander plan moes beraam. Maar oor boere en planne is daar sowaar nie sonder rede al spreekwoor­de bedink nie . . .

En dit was dié dat die TV-boer toe onlangs die meisie van sy drome na ’n lodge langs die Vaalrivier naby Sasolburg nooi.

Die verliefdes het die oggend op ’ n bootvaart gegaan, en met hul terugkeer het mense van die lodge vir hulle ’n afdakkie van wit doek naby die rivier opgeslaan. Daar het André van Zyl (35), een van die gewildste boere in die 11de seisoen van die kykNET-maatsoekre­eks Boer Soek ’n Vrou, op een knie afgesak.

“Ek het haar toe gevra of sy my vroutjie sal word,” vertel hy van die groot oomblik toe sy meisie van die afgelope drie maande, Monja Strydom (25), sy verloofde word.

Die liefdesver­haal van die sagmoedige reus – hy staan 1,96 m in sy vellies – en die petite blonde onderwyser­es klink nes ’n moderne sprokie. Al het albei vir Boer Soek ’n Vrou ingeskryf, was dit vir verskillen­de seisoene van die reeks, en nie een van die twee het voor die TVkameras liefde gevind nie.

Kupido het ander planne gehad en hulle eers later met ’n ompad na mekaar gelei – deur middel van Facebook, waar hulle toevallig bevriend geraak het.

In 2015 was Monja – toe nog ’n finalejaar­onderwysst­udent in Potchefstr­oom – een van die vroue wat in die agtste seisoen van die reeks by Niel Wentzel (toe 29), ’n saai-en-veeboer van Bloemhof, op die plaas gaan kuier het.

Al het Niel haar gekies, het dinge tussen hulle nie uitgewerk nie.

In die pas afgelope seisoen van Boer Soek ’n Vrou het dit weer gelyk of André by die predikants­dogter Madelé liefde gevind het. Aanvanklik was kykers in hul noppies met dié romanse, maar dinge het gou begin krap.

By die Boer Soek ’n Vrou-reünie het hy opgedaag saam met ’n vrou wat hy deur gemeenskap­like vriende ontmoet het.

Maar daardie episode is opgeneem voor sy en Monja se paaie met mekaar gekruis het . . .

HUL eerste ontmoeting was in die kuberruim danksy gemeenskap­like Facebookvr­iende. Toe sy André sien, het Monja van hom gehou – ’n vriendelik­e boer met ’n kuiltjie in sy linkerwang. Sy het nie uit die staanspoor na die jongste seisoen van Boer Soek ’n Vrou gekyk nie, maar toe sy hoor hy neem

‘Hy is ’n groot man met ’n sagte hartjie’

daaraan deel, het sy wel later begin kyk. “Ek het op televisie gesien watter soort mens hy is.”

Het sy nie naels gekou toe hy Madelé voor die TV-kameras kies nie?

Teen die tyd dat daardie episode uitgesaai is, het sy al geweet hoe die wind waai, verduideli­k Monja. “Toe ons (op Facebook) begin praat, was my eerste woorde aan hom: ‘As jy en Madelé nog kuier, wil ek nie gesels nie,’ en hy het toe gesê daar is lankal nie meer iets tussen hulle nie.”

Ná weke se kuberklets het hul vriendskap in ’n romanse ontwikkel.

Op ’n Donderdaga­and aan die begin van November verlede jaar het André gebel en gesê daardie Saterdag pak hy die 800 km aan om haar vir die eerste keer in lewende lywe in haar tuisstad, eMalahleni, te ontmoet.

“Ek was maar baie op my senuwees,” bieg Monja. “’n Mens spring nie sommer in ’n ding in en hardloop dit vooruit nie.”

Hulle het vooraf oor die foon ooreengeko­m om binne vyf minute te besluit of hulle mekaar beter wil leer ken, vertel André.

“As ons in daardie tyd nie van mekaar hou nie, dan is dit maklik. Ek klim in my kar en ry terug, en sy doen wat ook al.”

Maar, vertel hy dadelik: “In daardie vyf minute het ons lekker gesels.”

Sy het weer “aan sy lippe gehang”, onthou Monja hul afspraak in ’n koffierest­aurant in ’n bedrywige winkelsent­rum. “Hy is ’n karakter op sy eie – die manier hoe hy dinge doen en sê.”

Dit was die begin van’ n lang afstandver­houding. Monja vertel laggend van sy eerste kuier by haar in eMalahleni, waarheen sy kort tevore teruggetre­k het nadat sy twee jaar lank op Vryburg in Noordwes skoolgehou het.

“André het gelag toe hy sien ek is besig om die kamer se mure te verf. Hy het gesê: ‘Ek dink nie jy moet dit verf nie. Jy gaan dalk vinniger trek as wat jy weet.’ ”

Dit was nie asof hy druk op haar uitgeoefen het nie, verduideli­k sy. “Hy weet net wat hy wil hê.” En toe hy besluit hy wil hê sy moet sy ring aan haar vinger dra, het hy haar vir die naweek na die Bersheba River Lodge langs die Vaalrivier genooi, sowat twee uur se ry vanaf eMalahleni.

Monja het al van vroegdag ’n vermoede gehad André voer iets in die mou, want hy was heeltyd op sy selfoon. Toe, ná hul bootvaart, neem hy haar na die romantiese piekniekpl­ek met ’n wit afdak wat hy laat oprig het.

“Bewerig van opgewonden­heid,” beskryf Monja haar reaksie op die groot vraag. En André erken: “Ek was so op my senuwees, ek kon nie onthou of sy dadelik ja of nee gesê het nie. ’n Uur of wat later het ek gevra of sy ja gesê het, want ek kon eerlikwaar nie onthou nie.” “Dit was beslis ja,” het sy darem gepaai. Hulle trou oor sowat drie maande, maar wil nie die presiese datum aan die groot klok hang nie. En hul trouplek naby Bronkhorst­spruit is klaar bespreek.

Monja het al ’n paar keer op André se familiepla­as met sy opstal van 120 jaar oud gaan kuier.

“Sy is nie iemand wat ek hoef op te pas nie. Sy het sommer met die grasperk en tuin ingespring. Sy kan haarself goed besig hou,” sê hy vol bewonderin­g.

Haar ouers, Louis (54) en Liesl (50), het ’n sagte plekkie vir André, sê Monja. “Ek kom uit ’n lang verhouding en het seergekry. Ek was maar versigtig,” vertel sy. Haar sakemanpa wou eers die ding tussen haar en André uitkyk. “Maar toe hy hom ontmoet, was daar nie brieke nie,” vertel sy.

Haar tweelingbr­oer, Guillaume, het ná sy eerste ontmoeting met André al aangekondi­g: “Dis die man wat met my sussie gaan trou.”

Haar aptekersus­ter, Monique (27), is ook met ’n boer, Theuns Janse van Rensburg (28) van Swellendam in die WesKaap, getroud.

“Maar ek wou nie noodwendig met ’n boer trou nie,” erken Monja.

André is op sy beurt net so beïndruk met sy aanstaande skoonfamil­ie. Hulle is “baie oulik, nes sy”, laat hy hoor.

Dan bedink hy hom. “Maar hulle is nie heeltemal soos sy nie. Sy is uniek . . .’’

IN SY vorige onderhoud met Huisgenoot het André verklaar: “Die huwelik moenie werk wees nie. Ek het genoeg werk op die plaas. Luister, ondersteun­ing en liefde is vir my belangrik in ’n verhouding. En as ’n probleem opduik, gaan julle saam daardeur.”

Dit was sy droom om dié soort liefde in die program te kry, maar nou het hy dit in Monja se arms gevind.

Hoe voel hy nou hier kort ná die verlowing? André lag uitbundig. “Kwaai opgewonde en baie tevrede. Sy is ’n besonderse vrou; ek sien uit na die pad vorentoe.”

“Hy is ’n groot man met ’n sagte hartjie,” beskryf Monja haar innemende skaap-en-sybokhaarb­oer.

En ja, sy sien sommer klaar uit na die plaaslewe. “Dit het ook sy uitdagings soos die droogte, maar solank ons bymekaar is, sal dit goed gaan.”

Sy voeg by: “Dit is ons storie van hoop. As jy nie hoop het nie, het jy nie geloof nie, en as jy nie geloof het nie, is daar geen liefde nie.”

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Boer André van Zyl en sy verloofde, Monja Strydom, is dolverlief. BO: Monja spog met haar ring.
HOOFFOTO: Boer André van Zyl en sy verloofde, Monja Strydom, is dolverlief. BO: Monja spog met haar ring.
 ??  ?? LINKS: Die Bersheba River Lodge het ’n idilliese atmosfeer vir die verlowing geskep. NAASLINKS: André kniel langs die Vaalrivier om Monja die jawoord te vra.
LINKS: Die Bersheba River Lodge het ’n idilliese atmosfeer vir die verlowing geskep. NAASLINKS: André kniel langs die Vaalrivier om Monja die jawoord te vra.
 ??  ??
 ??  ?? André saam met die drie vroue wat verlede jaar by hom op die plaas kom kuier het. Van links is Corinne Landman, Madelé Nelson en Lea-Mari Hanekom.
André saam met die drie vroue wat verlede jaar by hom op die plaas kom kuier het. Van links is Corinne Landman, Madelé Nelson en Lea-Mari Hanekom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa