’n Noue ontkoming ná weerligstraal
VVriendei verteltl van hulh skrikwekkendeik noue ontkoming nadat ’n weerligstraal hulle by die viswaters getref het
TOE die reënwolke om die berg oorkant die Loskopdam naby Middelburg, Mpumalanga, begin saampak, het die twee hengelaars besluit dis tyd om op te pak, hul gesinne nader te roep en huis toe te gaan. Maar net toe voel Jaco le Roux (35) ’n vis byt. “Bring gou die net,” het hy sy vriend, Clinton Fleming (29), gevra.
Terwyl Clinton met die net nader staan, het Jaco gespot: “Jy sal maak dat die weerlig ons tref.”
Maar nooit het hy kon dink sy woorde sou oomblikke later waar word nie.
Dit het uit die niet gekom; letterlik ’n donderslag uit ’n helder hemel, want bo hulle was die lug nog blou. Toe flits ’n wit lig, ’n slag skeur deur die middagstilte, en ’n kragtige elektriese stroom ruk die twee vriende langs die viswaters van hul voete en slinger hulle deur die lug.
Toe hy sowat 2 m verder op die gras neerval, het hy gedink sy laaste oomblik het aangebreek, vertel Clinton oor die gebeure van Saterdag 12 Januarie.
“Ek het ’n warm sensasie gevoel asof ek aan die brand is, en al my spiere was styf. Alles was vuurwarm.”
Rondom hom het ’n chaos losgebars. Jaco het geskree, sy vrou, Desireé (40), en Clinton se verloofde, Charné Nel (30), se stemme het paniekerig geklink, kinders het gehuil. Maar toe Clinton probeer opspring, kon sy bene nie beweeg nie.
Sowat vyf minute lank het hy op die grond bly lê terwyl die gedagte by hom gespook het dat hy dalk verlam is. Toe die gevoel na sy ledemate begin terugkeer en hy orent kom, wou hy eers uitvind of Jaco oorleef het.
Sowat 4 m verder het Jaco op die gras gelê. Hy is die swaarste getref, want die grafietvisstok wat hy in sy hand gehad het, het vlam gevat en ’n diep wond in sy laer buik bo sy blaas gebrand.
Dit het gevoel of iemand hom vol petrol gegooi en met ’n vuurhoutjie aan die brand gesteek het, vertel Jaco by sy huis op Middelburg, waar hy aansterk.
“Gelukkig het dit nie my blaas of enige hoofslagare aangetas nie,” sê hy.
Hy is steeds verbaas hy het oorleef.
DIT was ’n volmaakte sonnige somerdag toe Jaco en Clinton die laaste Saterdag in die skoolvakansie met hul gesinne op ’n hengeluitstappie vertrek. Die twee vriende werk saam by ’n boumaatskappy in eMalahleni (voorheen Witbank); Jaco as veiligheidsbestuurder en Clinton as tekenaar.
“Ons het sesuur die oggend by Jaco se huis bymekaargekom en van daar af is ons Loskopdam toe,” vertel Clinton in die tropiese tuin van sy huis in eMalahleni.
“Daar was geen wind nie; dit was ’n baie warm dag. Selfs die koue swembad by die oord was so warm dat ons nie daarin kon afkoel nie.”
Teen drieuur die middag het hy die vuur aangesteek om vleis te braai terwyl Jaco steeds gewag het dat die visse byt. Kort daarna het hulle die reënwolke opgemerk en besluit om liefs aanstaltes te maak.
Toe, terwyl Jaco nog die laaste vis aan sy hoek wou intrek, tref die weerligstraal hulle waar hulle langs mekaar by die water staan.
“Dit was so skielik en heeltemal onverwags,” vertel Jaco. “Ek het net die vuur op die stok gesien. Toe ek besef wat gebeur, het ek die stok weggegooi, maar dit was te laat.”
Waar die stok teen sy laer buik gerus het toe die weerlig dit tref, het Jaco ’n diep brandwond bo sy blaas opgedoen. ’n Stuk van sy broek en hemp het stukkend gebrand en ’ n gedeelte om sy bekkenbeen ontbloot. Die krag van die weerligstraal het sy skoene laat oopbars, maar afgesien van pynlik stywe spiere het sy voete geen sigbare beserings opgedoen nie.
“My broek is oopgeruk,” vertel Jaco. “Dit was ’n aaklige prentjie. Alles is voor ontbloot en daar was bloed.”
Die pyn was so erg dat hy op daardie oomblik aan niks anders kon dink nie. “Ek onthou ek het vir my vrou gesê om my in die water in te trek, want dit voel of ek brand. Ek kon nie my lyf van my middel af ondertoe voel nie.”
Desireé het die twee mans probeer help, maar Charné was lam van skok. Die kinders was ontsteld en het gehuil.
Sowat 40 minute ná die voorval was die paramedici op die toneel. Vermoedelik het werknemers by die dam die noodoproep uit hul kantoor gemaak, want daar was geen selfoonontvangs nie.
Jaco en Clinton is met ambulanse na die Life Midmed-hospitaal op Middelburg geneem, en Desireé en Charné het in hul onderskeie voertuie gevolg.
Eers met sy aankoms by die hospitaal het die gevoel na Jaco se bene begin teruggekeer.
“Ek het ’n prikkeling in my regtervoet begin voel,” onthou Jaco. Dit was ’n groot verligting, want teen daardie tyd was hy bekommerd hy is verlam.
Die wond aan sy buik is 6 cm breed en 5 cm diep, het dokters aan hom gesê. Nadat hulle dit verbind het, het Jaco gevra om as ’n buitepasiënt nog behandeling te ontvang omdat hy nie ’n mediese fonds het nie. Hy is eers ná ’n paar dae oorgeplaas na die Life Cosmos-hospitaal in eMalahleni, waar ’n spesialis hom kon help.
Die genesingsproses is pynlik. Die dokter moes herhaaldelik die dooie vel aan die wond verwyder, wat dit opnuut laat bloei het. Nou wag Jaco dat die wond genees voor ’n veloorplanting uitgevoer kan word.
Clinton het intussen volkome herstel nadat hy drie dae lank in die waakeenheid van die hospitaal op Middelburg deurgebring het. Sy hartklop is ook gemonitor nadat die paramedici met hul aankoms by die dam vasgestel het sy hart klop onreëlmatig.
Hy het kwaai aan skok gely, besef Clinton nou toe hy aan die gebeure terugdink. Toe hy opstaan nadat die weerligstraal hom tydelik verlam het, het hy sowaar nog alles in sy bakkie gelaai.
Teen daardie tyd het kampeerders en ander besoekers aan die dam al vir Jaco gehelp.
Clinton het selfs nog vir sy verloofde gevra om die kinders in die motor te kry.
Hy en Charné het ’n babaseun, Dylan (10 maande), en sy is ook die ma van ’n seun en dogter, Michael (9) en Megan (3), uit ’n vorige verhouding.
“My lyf was kielierig, en dit het gevoel of ek pas die Comrades gehardloop het,” vertel Clinton. “Toe sê die mense vir my ek moet ontspan en gaan sit, want ek is pas deur weerlig getref.” Hy onthou hoe hy in die hospitaal se waakeenheid teen die slaap geveg het. “Ek het baie moeg gevoel, maar ek was bang om aan die slaap te raak omdat ek gedink het ek sou nooit weer wakker word nie.”
Hul noue ontkoming het albei mans tot diep nadenke gestem.
Clinton sê dit voel of hy ’n tweede kans in die lewe gekry het. Toe die weerlig hom tref, het dit vir hom gevoel of sy “dag van afrekening” aangebreek het. Hy was vreesbevange, erken hy.
“Op daardie oomblik dink ’n mens: Ek is deur weerlig getref; gaan ek leef of gaan ek sterf? Het ek genoeg tyd saam met my verloofde en kinders deurgebring? Het ek my werk na die beste van my vermoë gedoen?”
Dit het vir hom gevoel of hy ’n ontmoeting met God het. “Dit was asof God my aan my ore gryp en skud en sê: ‘Jy moet jou regruk.’ ”
Toe hy die verblindende ligflits sien, het hy hom op die ergste voorberei, erken Jaco, die pa van twee dogters, Deoné (10) en Elmike (7).
Noudat hy oorleef het, weet hy: Hy sal nie gou weer sy lewe langs die viswaters waag nie.
Clinton het wel weer onlangs saam met ’n vriend gaan hengel. Maar iets het verander, sê hy. Dit was soveel meer pret voor die dag toe hy besef het ’n weerligstraal kan jou tref in ’n oomblik van salige samesyn.