Glenn Close skok met kultus-onthulling
Glenn Close het onlangs onthul hoe haar lidmaatskap van ’n ekstreme groep haar persoonlike lewe later geknou het
PARTY van ons ken haar as die waansinnige vrou wat haar eks in Fatal Attraction wou vermoor. Ander sal haar onthou as die bose Cruella de Vil uit 101 Dalmatians. Sy was al die Amerikaanse visepresident in Air Force One en ’n Franse verleidster in Dangerous Liaisons. Glenn Close het ’n reputasie as ’n aktrise wat in ’n handomkeer gedaante kan wissel. Maar onlangs het sy voor die kameras ’n rol vertolk waarin niemand haar al gesien het nie: Sy het haar weerlose self ontbloot en oor haar eie trauma gepraat.
En dié dramatiese onthullings het haar aanhangers laat regop sit.
“Vandat ek sewe was tot ek 22 geword het, was ek in ’n groep genaamd Moral Re-Armament – MRA – en dit was basies ’n kultus,” sê Glenn (74) in Oprah Winfrey en prins Harry se nuwe dokumentêre reeks op AppleTV+, The Me You Can’t See.
“Almal het dieselfde dinge oor en oor gesê, en daar was baie reëls, baie beheer. Dit was regtig aaklig.”
Van die klere wat hulle gedra het tot hoe hulle kon optree, is deur die groep se leiers voorgeskryf. “Dit was verpletterend vir ’n kind, want dit het beteken op ’n tyd wanneer jy probeer uitpluis wie jy is, is jy aangesê wie jy veronderstel is om te wees. Jy is nie toegelaat om enigiets te doen nie. Hulle het jou oor enige begeerte skuldig laat voel.”
MRA is in 1938 in Amerika deur eerw. Frank Buchman begin. Dié evangeliese fundamentalis van Pennsilvanië het geglo as jy die wêreld ’n beter plek wil maak, moet jy begin om individue se lewe “reg te ruk”.
Lede moes sy leuse van die “Vier Absolute” volg: absolute eerlikheid, absolute reinheid, absolute onselfsugtigheid en absolute liefde. Hulle is ook aangemoedig om aktief by politieke en maatskaplike kwessies betrokke te raak.
Frank het gesê die groep het ontstaan uit die “morele krisis” wat in daardie stadium in die wêreld geheers het. Hy is in 1961 dood, maar die groep het voortbestaan. In 2001 is die naam na Initiatives for Change verander en is dit uit Caux, Switserland, bedryf.
Glenn se ouers, William en Bettine, het by die groep aangesluit toe sy nog klein was. Sy, haar susters, Jessie en Tina, en broers, Alexander en Tambu, is saam met hul ma oorsee om twee jaar lank by die groep se hoofkwartier in Switserland te bly terwyl haar pa, ’n dokter, in die Demokratiese Republiek van die Kongo gaan werk het. Hy was in ’n stadium selfs die persoonlike arts van die land se korrupte leier, Mobutu Sese Seko.
In New York in 1987 saam met haar suster Jessie by die première van die fliek Tin Men.
Glenn het die groep verlaat toe sy 22 was en by die College of William and Mary in Virginië in Amerika ingeskryf om drama te studeer. Sy het nooit onthul presies hoe sy uit die groep se greep losgekom het nie.
“Baie dinge het my laat loop. Ek het reguit in die teater ingestap en iemand anders geword!”
Dié stap het haar lewe verander. Glenn word as een van Hollywood se voorste aktrises beskou. Sy het drie Emmys, drie Tonys en drie Golden Globes gewen en is al ’n volle agt keer vir ’n Oscar benoem. “Toneelspel het vir my natuurlik gekom,” sê sy.
Nadat sy by MRA weg is, het sy nagmerries gekry en baie woede teenoor haar pa gekoester. Sy het haar gevoelens later in ’n brief aan hom neergepen. “Ek het gesê: ‘Jy verdien dit nie om ons pa genoem te word nie.’ ”
Tog het sy later vrede gemaak met dit wat haar ouers haar en haar sibbes laat deurmaak het. “Ek het my ouers lank gelede vergewe. Hulle het hul redes gehad waarom hulle dit gedoen het en ek verstaan dit. Dit het ’n verskriklike uitwerking op hul kinders gehad, maar dis hoe dit is. Ons probeer almal oorleef. Wat my gered het, was my begeerte om ’n aktrise te wees.”
ONDANKS haar roem het Glenn se persoonlike lewe gely. Sy sê die kultus se impak op haar lewe het tot die verbrokkeling van haar drie huwelike bygedra. “Weens die emosionele en sielkundige verwoesting van die kultus kon ek nie ’n permanente maat vind nie. Ek was nog altyd spyt daaroor,” sê sy.
Haar eerste man was Cabot Wade, ’n kitaarspeler saam met wie sy in haar 20’s as deel van die sanggroep Up with People opgetree het. Hulle was van 1967 tot 1971 getroud. In die middel-1980’s is sy met die sakeman James Marlas getroud, maar hul huwelik het net drie jaar gehou. Sy het ’n dogter, Annie Starke, uit haar verhouding met die vervaardiger John Starke. Hulle het mekaar ontmoet toe sy in 1982 aan The World According to Garp gewerk het.
Haar laaste huwelik was met die ryk sakeman David Evans Shaw. Hulle is in 2006 getroud en het in 2015 geskei.
Sy is ’n vurige kampvegter teen die stigma wat aan psigiatriese siektes kleef. Haar eie stryd met depressie en haar familie se geskiedenis van psigiatriese ongesteldhede moedig haar aan om mense van dié siektes bewus te maak.
Haar suster Jessie het in haar 50’s gehoor sy het bipolêre steuring – sy beskryf dit in haar outobiografie, Resilience: Two Sisters and a Story of Mental Illness – en haar neef Calen ly aan skisofrenie.
“Ek dink dit waarmee ek waarskynlik ’n groot deel van my lewe saamgeleef het, is ’n laegraadse depressie. Dit voel soms of daar ’n mistigheid om jou is, of asof iemand ’n sluiter oor jou getrek het,” sê sy.
Sy het deur die jare baie berading gekry. In ’n onderhoud met The Hollywood Reporter in 2014 beskryf sy haar as “’n soort kluisenaar” wat haar in boeke verdiep. “Ek is nie van nature sosiaal nie.”
Sedert hulle openliker oor hul geestesgesondheidsprobleme is, het haar familie se band baie sterker geword. Dit het daartoe gelei dat Glenn van Los Angeles na Montana verhuis het om naby haar broers en susters te woon.
“Dit het my op baie belangrike maniere sielkundig geanker. Ek is aan hulle verbind, terwyl ek voorheen ’n land van hulle af verwyder was.
“Daar is miljoene ander families wat dieselfde ding deurmaak. Ek voel heel wanneer ek by my familie is. Mense sterf sonder verbintenis. Dit is hoe ons bedraad is.”
Terwyl toneelspel nog haar passie is, het sy in onlangse jare begin om meer tyd agter die kamera deur te bring.
Sy is die uitvoerende vervaardiger van die pas uitgereikte Disney-fliek Cruella met Emma Stone in die hoofrol as die Engelse sosiale vlinder wat eindelik hondjies haat.
Die fliek vertel die oorsprongverhaal van Cruella de Vil, die bose karakter wat Glenn in die rolprent van 1996 en die opvolg daarop in 2000, 102 Dalmatians, so onvergeetlik uitgebeeld het.
Vanjaar het sy haar agtste Oscarbenoeming in die kategorie beste vroulike byspeler gekry – vir haar rol as Bonnie “Mamaw” Vance in Hillbilly Elegy.
Toe die aktrise Youn Yuh-jung die Oscar wen vir haar spel in Minari, het die Los Angeles Times berig Glenn is nou die aktrise wat die meeste benoem is sonder dat sy ooit gewen het.
Maar Glenn bly optimisties: “Eerstens, ek dink nie ek is ’n verloorder nie. Wie in daardie kategorie is ’n verloorder? Al vyf benoemdes word vereer vir die werk wat hulle doen. Wat kan beter as dit wees?”