Knysna-Plett Herald

Zeelie’s killer gets 25 years

- Stefan Goosen Ed note: Due to the majority of these court proceeding­s and the entire judgement and sentencing of the case having been conducted in Afrikaans, the KPH thought it fitting to write this article in Afrikaans. We welcome readers’ feedback.

Na nege jaar se wag kan die familie van Knysna-inwoner Shantel Zeelie ’n mate van vertroosti­ng vind nadat haar moordenaar 25 jaar tronkstraf opgelê is vir sy dade.

Karatara-inwoner Eugene Stander (33) is op Donderdag

29 Maart in die rondgaande Wes-Kaapse Hooggeregs­hof in Knysna gevonnis nadat hy skuldig bevind was vir die geweldadig­e wyse waarop hy

Zeelie – sy voormalige meisie op daardie stadium – op 5 Januarie 2009 naby ’n uitkykpunt op die Heads in Knysna vermoor het.

Zeelie was volgens getuienis met ’n onbepaalde voorwerp van agter verwurg. Haar versteekte liggaam, tesame met haar motor, is die volgende dag naby die uitkykpunt gevind.

‘Geen berou of emosie’

Volgens regter Nathan Erasmus het Stander geen berou of emosie getoon tydens die hofverrigt­inge nie, en het Erasmus dié gebrek aan berou tesame met die manier waarop die moord gepleeg is in ag geneem met sy uitspraak.

Selfoonrek­ords het ook oorweldige­nde getuienis teen Stander gebied, en het bewys dat hy tydens Zeelie se moord in dieselfde omgewing was.

Stander is onskuldig bevind aan voorbedagt­e moord, maar skuldig aan moord met direkte opset.

‘Bewuste moordbeslu­it’

“Jy het ’n bewuste besluit gemaak en verkies om die bedreiging wat Zeelie vir jou ingehou het uit die prentjie te verwyder, eerder as om die vertroue van jou werkgewer en familie te verloor,” het Erasmus aan Stander gesê.

Die regter het verwys na ’n vervalste ambagserti­fikaat vir dieselwerk­tuigkunde wat tydens hofverrigt­inge ter sprake gekom het. Die oorsprong van die sertifikaa­t kon nie bepaal word nie, en die hof kon ook nie vasstel of Zeelie of Stander verantwoor­delik was vir die vervalsing nie.

3 jaar verdere tronkstraf

Die hof het wel bevind dat Stander op ’n stadium sou moes besef het die sertifikaa­t is vervals, maar dat hy dit tog op verskeie geleenthed­e gebruik en voorgelê het aan toekomstig­e werkgewers as synde ’n wettige dokument. Om hierdie rede is hy ’n verdere drie jaar tronkstraf opgelê waarvan een jaar opgeskort is, en waarvan die oorblywend­e twee tesame met sy 25 jaar tronkstraf uitgedien sal word.

Stander is tydens die vonnisuits­praak etlike kere deur beide sy prokureur, Daan Dercksen, en Erasmus gevra of hy nou, na die uitspraak, enige iets van sy gewete wou af kry, of iets vir Elsie Zeelie, die slagoffer se ma, sou wou sê. Sy antwoord was elke keer “nee”.

‘Ek het niks gedoen nie’

Teen die derde keer het Dercksen gesê dat hy nie die woorde het om te keer dat Stander vir ’n lang tyd agter tralies sou sit nie.

Stander het tot op die laaste oomblik van die hofsaak volgehou dat hy onskuldig is. “Wat moet ek sê as ek niks gedoen het nie?” het hy geantwoord.

Aan Zeelie se ma het hy gesê: “Ek is jammer vir wat hulle sê ek gedoen het. Ek het dit nie gedoen nie. Sterkte, Tannie.”

Die regter het verder aan Stander gesê dat die doel van vonnisople­gging is om heling te probeer bring en balans te herstel in die lewens van diegene wat deur ‘n misdaad geraak word, “maar met moord is dit bykans onmoontlik”.

Vraagteken­s bly hang

“Hier het ons ’n ma wat steeds nie weet wat presies gebeur het nie,” het Erasmus gesê. “Die oorledene se pa kon ook nie die volmaking van geregtighe­id sien nie omdat hy verlede jaar oorlede is. Jy self is die pa van ’n kind en besit nog moontlik potensiaal om tot die samelewing by te dra. Nou moet ons nog jou, iemand se seun, ook van sy ouers af wegneem… Maar jy speel nie oop kaarte nie en toon ook geen berou nie.”

Elsie Zeelie het in die hof aan Stander gesê, terwyl sy haar trane teruggeslu­k het, dat die laaste nege jaar van haar lewe hel was. “Om elke dag op te staan en te wonder oor wat gebeur het was aaklig. Ek is jammer my kind was so lastig, maar jy kon iets anders gedoen het – die polisie gebel het of iets. Ek is baie jammer vir jou en jou familie. Jou ma is ook maar net ’n ma en sy moes ook deur hierdie hel gaan. God is die groot regter, en eendag kan jy nog regmaak.”

‘Nie heeltemal verby’

Aan die Knysna-Plett Herald het sy gesê dit is moeilik om te glo dat iemand wat sy ken haar kind vermoor het, en dat sy baie teleurgest­eld is dat dit so lank gevat het vir geregtighe­id om te geskied. “Dat hy dit steeds ontken maak my voel asof dit nogsteeds nie heeltemal verby is nie,” het sy gesê. Staatsaank­laer Christhénu­s van der Vijver het gesê hy is verlig oor die uitspraak, “veral vir die familie, want dit bring afsluiting vir hulle na nege jaar”.

 ?? Fotos: Stefan Goosen ?? ’n Emosielose Eugene Stander sit in die beskuldigd­ebank tydens die afhandelin­g van die Shantel Zeelie-moordsaak op Donderdag 29 Maart.
Fotos: Stefan Goosen ’n Emosielose Eugene Stander sit in die beskuldigd­ebank tydens die afhandelin­g van die Shantel Zeelie-moordsaak op Donderdag 29 Maart.
 ??  ?? Shantel Zeelie se ma en suster, Elsie Zeelie (links) en Melissa Snyman, na die hofverrigt­inge waartydens Shantel se moordenaar tot 25 jaar tronkstraf opgelê is.
Shantel Zeelie se ma en suster, Elsie Zeelie (links) en Melissa Snyman, na die hofverrigt­inge waartydens Shantel se moordenaar tot 25 jaar tronkstraf opgelê is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa