Nog ‘n skok vir landbou
Landbouleiers en boere in die streek het verlede week met skok, ongeloof en teleurstelling gereageer op die aankondiging deur die nasionale rampbestuursentrum dat die droogte nie meer rampstatus geniet nie en dat die fondse voortaan vir Covid-19 aangewend gaan word. Landbouleiers het voorspel dat dit landbou in die streek nog onder verdere druk gaan plaas en 'n rimpeleffek kan hê omdat die sektor 'n groot impak op dorpe se ekonomie het.
Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo, het Maandag gesê dit is nie vir die landbou vreemd om ondeurdagte besluite van sommige staatsdepartemente te sien nie. "Ons word opgehemel in die Covid-19-tyd as die voedselverskaffers wat mense se mae vol hou, maar die stelsel en sisteme werk kontraproduktief teen die landbou." Volgens hom beteken dit nou dat die regering nie meer fondse na spesifieke gebiede allokeer nie. "Al die ander hulppakkette vir landbou verval. Selfs op munisipale vlak."
Landbou is reeds onder druk. Die markte, vir byvoorbeeld die volstruisbedryf, is reeds vir byna vier maande gesluit.
"Jou bedryfskoste hou aan, maar die kraantjie vir die invloei van inkomste is toegedraai. In die Klein-Karoo is landbouleiers besig om hulle in kontantvloeiprobleme vas te loop. Daar is verskeie faktore soos die droogte wat al van 2014 kom en nou die Covid-19-situasie." Volgens Henry Meyer, Tuinroetestreekverteenwoordiger van Agri WesKaap, het mense in die landbou dit altyd in hul agterkop gehad dat kommersiële boere gehelp sal word. Hy boer self in die Brandwag/Ruiterbos-gebied naby Mosselbaai.
"Enige klein bedraggie sal help. Die aankondiging het vir my bewys dat ons verwagting verniet was."
Hy is bewus van boere wat al die hekke van hul plase gesluit het en 'n ander heenkome gaan soek het.
Meyer verwag nie dat daar voedseltekorte sal wees nie, maar wel dat kos waarskynlik baie duur gaan wees.
Jannie Stander, bekende melk- en groenteboer van George, het gesê die kleinboere gaan nog swaarder kry. Die boodskap is nie goed vir die gemoed van die meerderheid boere wat in elk geval nie hulp kry nie.
"Boere het al geleer om aan te pas en self te voorsien."
Volgens Jan Volschenk wat by Ladismith saam met sy pa boer, sal dit veral veeboere en klein/bestaansboere raak. In die gebied is baie mense werkloos. Die vrugte-oeste was kleiner en minder werkers was nodig om die vrugte te oes.
By dit is daar ook baie vrae in die landbou oor byvoorbeeld klimaatsverandering. Boere wil weet of hulle nog die regte produkte produseer. Boere poog egter om steeds positief te bly.
Thys Sutherland, 'n melkboer van die Heidelberg-area, het saamgestem dat die jongste gebeure landbou nadelig gaan raak, veral boere wat betrokke is by droë- en saailande en veeboere.
Landbou is 'n groot werkverskaffer in die streek en dit raak ook die families en afhanklikes van werknemers.