Knysna-Plett Herald

Eagle Stars salueer Sydwell

-

'n Boodskap aan Sydwell en sy familie van Sedgefield Eagle Stars voorsitter, Renwill Hardnick:

Ons as Sedgefield Eagle Stars (bestuur, spelers, toeskouers en borge) dra ons opregte meegevoel oor aan die familie en vriende van Sydwell Colin Muller, wat op Saterdag 12 Oktober tydens 'n wedstryd tussen Sedgefield Eagle Stars en All Blacks van Oudtshoorn in Smutsville, Sedgefield oorlede is. Die klub is steeds in skok en ontvang tans berading.

Sydwell, wat as 'n plaasverva­nger vroeg in die tweede helfte op die veld gekom het omdat hy nog Saterdag gewerk het, het onmiddelli­k 'n verskil op die veld gemaak en het net na hy opgedraf het, tot sy span se tweede drie bygedra. Sydwell was 'n fisieke speler en het altyd sy beste gegee op 'n rugbyveld.

Ons onthou met ons wedstryd teen All Blacks op die Plate in Oudtshoorn het hy ingestaan as stut al was hy 'n baie goeie losvoorspe­ler (nommer agt spesifiek). Dit is 'n teken van 'n baie toegewyde speler wat die klub se belange bo syne plaas.

Geen woorde kan vertroosti­ng bring vir die verlies van 'n geliefde nie. Ons wil egter die familie, vriende en All Blacks bemoedig met die woorde: "Sydwell het ons verlaat terwyl hy die sport gespeel het waarvoor hy baie lief was. Sydwell laat 'n groot leemte en hy sal gemis word."

Die klub wil ook almal wat Saterdagaa­nd gewag het tot Sydwell se oorskot die veld verlaat het, bedank vir hul ondersteun­ing en die respek wat hulle getoon het aan Sydwell se familie en die All Blacks. Sterkte aan die familie, vriende, All Blacks RVK asook die breë SWD rugbygemee­nskap.

Sydwell, Sedgefield Eagle Stars RVK salueer jou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa