Ingrid Jones se kosreis
Ingrid Jones, leefstylredakteur en gasvrou op Tussen Ons, het al oor die wêreld heen gereis en geëet. Sy deel haar beste en slegste koservaringe.
Ek het op die platteland grootgeword waar bredies, brood en die Sondagmaal die belangrikste kossoorte was wat ek geken het.
Kersfees was ’n fees, want dit was Sondagkos op steroïedes met nog slaai, tong en soutvleis, gemmerbier, trifle en koekies. En die Riviera-blikke word uitgehaal met die lekkerste happies en sjokolade en die bonus was die Amla- of Bashews-kissies wat spesiaal afgelaai was. Hope vars vrugte en groente elke dag, bo en behalwe die ingelegde vrugte wat ons gekry het deur die mense wat by die vrugtefabrieke in Ashton gewerk het. En kaas, of spesifiek kaaskaiings, want daar was ’n kaasfabriek. My kinderonthou is gevul met ant Spaas se varsgebakte brood met appelkooskonfyt en moerkoffie en my pa se bobotie. Hoe kan ek vergeet van die gerookte wors wat in Bonnievale net te kry was by Dôl se slaghuis? Penniepolonie, skaapniertjies, gebakte lewer en uiesmoortjie, varkvet op die brood en peppermenttert. Gevulde eiers, lemoene met toothpicks waaraan gekleurde uitjies en kasies vasgesteek is. Begrafniskos en trouekos. Ek verruil dit vir níks.
Nou hoe vergeet ek dan van die Paasnaweekvreugde van paaseiers, pickled vis en hot cross buns ná veertig dae van die vasperiode waartydens ons iets moes opgee waarvan ons baie gehou het.
Toe ek hoërskool toe was in Worcester en meer kans gekry het om met my
Muslim-familie te kuier, is ek voorgestel aan die vreugde van samoosas en daltjies, tuisgemaakte atjar, roti’s gevul met kerrie en warm koe’sisters wat stroopsoet teen jou ken afloop met klapper wat aan jou vingers vaskleef.
Dis eers op universiteit dat ek aan enigiets anders as Bonnievale-kos en Wimpy blootgestel was. Elke nuwe vriend het die belofte van ’n nuwe koservaring ingehou. Mense het elke naweek gebraai en nie net elke kwartaal nie. Hong Kong chicken, chicken à la king, Coke chicken, Coronation chicken, chicken schnitzel, casseroles, sosaties. Vir die eerste keer in my lewe het ek ’n pizza en spare ribs geëet.
Leer kos ken
My eerste faux pass was met Griekse slaai en antipasti. Dit het so grênd geklink op die spyskaart en toe bestel ek maar sodat ek ook kon posh lyk tussen al die gesofistikeerde stadsjapies. Toe is dit gewone tamatieslaai met fetakaas en koue vleis. Ek sien hoe kyk ander na my bord en lag agter hul hande en ek moes toe maar sê dis wat ek wou gehad ek, ek was nie te honger nie.
Toe begin ek lees en alleen na restaurante gaan sodat ek nooit weer soos ’n idioot hoef te voel nie. Baie disse het ook maar net fancy name en is gewoon – niks so grênd soos wat dit klink nie. Ek het my vriende begin aanpor om meer eksotiese plekke te begin besoek en meer gewaagd begin raak. Prawns. Lobster. Oesters. Oosters. Chinees. Thai. Indies. Italiaans. Frans. Grieks. Mexikaans. Tortillas. Quesadillas. Spanakopitas. Vreemd. Stadig, maar seker het ek my kos begin ken.
Toe gaan ek vir my eerste oorsese reis Dubai toe. Ons bly in ’n hotel so groot soos Lesotho en elke dag staan ek verslae voor die buffet wat voor ons uitgestrek lê. Die oorvloed skok my. Daar was kos van elke moontlike nasie en land. Cuisine en à la carte en SQ sluip my woordeskat binne. Ek eet en eet en kom die volgende dag om nóg lande se cuisine te proe.
Ek kom terug huis toe met my neus effe in die lug, want nou is ek ’n internasionale reisiger wat kos van regoor die wêreld geëet het. ’n Kossnob, noem my suster my, en ek dra dit soos ’n badge.
Gelukkig word ons almal ouer en wyser en ek het my snobjurk lankal afgegooi. Ek weet definitief waarvan n ek hou en nie hou nie. Ek hou nie van Chinese of Japannese kos nie. Stir-fry laat my koud, só ook sushi e en antipasti. Kalkoen is droog, en só ook volstruis, ek eet ni e pap as dit nie ontbytpap is n nie, mopanie-wurms smaak na n niks, deconstructed bobotie is vir r die voëls, oesters is walglike slym m, tortillas is grênd chips en kan n mense asseblief tog ophou om hoender op te dress met souse wat jou bloedsuiker tot vlakke laat styg wat hoër as Everest is. Ek sal nooit weer krokodil of zebra eet nie, en nog minder bosvark. En wat is macon en kale? As mens dit nie kan uitspreek nie, moet jy dit nie eet nie.
Ek en my gesin het gereeld uitgeëet voordat my man se beroerte ons ritme kom versteur het. Elke Saterdag was ’n geleentheid om nog ’n restaurant op die proef te stel, want daar is so baie. My werk as leefstyfredakteur maak dat ek ook gereeld na restaurante uitgenooi word. Ek hou van eet, maar ek is nie ’n foodie of koskenner wat die tikkie smaak van tiemie in ’n dis sal optel nie.
disse wat harte steel
Ek hou bloot van goeie gehaltekos, ’n interessante menu, ’n sjef wat sy of haar sout werd is en dat dit wat op my bord is mooi is. My beste was seekos vars op die kole in Zanzibar op ’n sandbank in die middel van die oseaan voor die gety inkom en die sonsondergang die mooiste in die wêreld is. Onpretensieus en heerlik. In Tallinn, Estonia, het ons op soek gegaan na ’n klein restaurantjie met ’n opgestopte jakkals, fisant en ander diere. Die kos was van die beste wat ek al geëet het, vanaf smaak, aanbieding, diens, ambience, die sjef wat na ons tafel gekom het. Ek het weggebly van die beervleis, maar die fisant was heerlik.
Die Russiese kos in St. Petersburg was glad nie vir my lekker nie. Te veel aartappels en te min speserye en te vaal. Tydens daardie luukse bootreis na Rusland, Swede en Estonia het ek van die beste kos ooit geëet. Vars salm elke uur van die dag terwyl jy op die dek sit terwyl die boot oor die Swart See seil en jy aan sjampanje sluk. Vars vis was elke dag ingevlieg na die boot en een aand in die wêreldbekende NOBUNOBUrestaurant aan boord die luukse boot was ’n absoluut onvergeetlike ervaring. In Amsterdam was elke dag ’n koservaring. Van die poffertjies tot die bitterballen en uitsonderlike disse by elke plek waar ons geëet het. Die hoogtepunt was ’n restaurant waar van die mure tot die kos tot die drankies alles pienk was. Ek het gehuil van vreugde toe hulle die pienk lobster en pienk sjampanje voor my neersit en my man kon omtrent nie ophou glimlag oor sy vis wat in pienk sout toegedraai en gaar gestoom was en baie dramaties voor ons onthul is nie. En die massiewe kaas waarin ons pasta in wynvlamme gaargemaak is terwyl ons in absolute verstomming daarna staar!
Ek steur my weinig aan restauranttoekennings, maar laat my lei deur ’n ontdekkingsreis om die beste te ontdek. Van die plekke wat die heerlikste kos maak, haal nie die lyste wat die beste restaurant aanwys nie, en nie elke goeie maaltyd kos ’n Lamborghini se prys nie. Ek vra nie vir vis in ’n vleisrestaurant nie en nie vir vleis in ’n visrestaurant nie en eet ook nie vis in ’n plek ver van die see nie.
Die beste kos word steeds deur my vriende en tannies gemaak, van ’n bredie to fine dining. Ek bly maar ’n plaasmeisie met ’n glitterbroek wat hou van ’n stewige bord kos.