Kuier Combo

Lekkernye vir die soettand

Tussen die bestanddel­e en gemengery van haar ouma en ma se gebak en brou, het sy haar hart verloor op soetgoed. Nou, jare later, blus niks haar liefde daarvoor nie en gaan sy van krag tot krag!

- DEUR CHRISLYNN SIAS

Van bak en brou kan jy vir dié girl van Ceres, met die aansteekli­ke glimlag en blink oë, niks vertel nie. En dit is veral wanneer jy van Yolani se soetgebak proe dat jy besef sy mean serious business in die kombuis! Yolani Abrahams (27), oorspronkl­ik van Ceres in die Wes-Kaap, is nie net ’n bobaasbakk­er nie, sy het ook ’n kop vir besigheid en hou haar lyf TV-aanbieder op die SABC 2-program Spyskaart. Met ’n skaam laggie vertel sy dat sy al op so ’n jong ouderdom begin bak het dat sy nie eens presies kan onthou wanneer die bak-gogga haar gebyt het nie.

“Ek was seker so ses of sewe jaar oud toe ek my eerste poging in die kombuis aangewend het. Man, was dit nou vir jou ’n gemorsery!”

Sy lag weer skaam voor sy verklap dit het tyd gevat om haar kuns te verfyn.

“Daar was meel en eiers oral. Maar ek moet tog erken dit was vet pret.” Soos enige bakker het Yolani maar eenvoudig begin.“Die eerste en eintlik enigste ding wat my ma my toegelaat het om destyds te bak, was waffles. Ek dink dit is omdat ek so lief was daarvoor en knaend gevra het daarvoor. Ek het vir my ’n ou reseppie in een van my ma se kookboeke gesoek en dit is hoe my dae voor die stoof begin het.”

Sy erken dan eerlik:“My eerste poging was beslis nie iets om oor huis toe te skryf nie, maar soos die tyd verloop het, het dit al hoe beter geraak. Al hoe meer eetbaar.’’

Yolani vertel trots sy is die enigste kleinkind van haar oorlede ouma Sarah wat die bakgeen geërf het.“My ouma het die lekkerste brode en koeke gebak. Ek kan nog amper die spons van haar koek proe as ek my oë toemaak. Sy het al haar kennis aan my ma oorgedra dié weer aan my. Dit is iets wat van een generasie na die volgende oorgedra is.”

Maar dit is toe Yolani culinary arts gaan studeer het, waar sy eintlik besef het hoe lief sy is vir bak.“Ek het van kleins af ’n soettand gehad en dit is toe gelukkig ook my spesialite­it. Toe ek met my studies begin en die praktiese gedeelte daarvan voltooi, het ek besef dat bak my gawe van God is.” Dís toe sy ook besef het dat sy nêrens so gemaklik is as in die kombuis nie.“Dit is ’n gevoel wat ek nie kan beskryf nie. Ek is op my gemaklikst­e en ervaar ’n gevoel van vryheid wanneer ek in die kombuis is. Die spreekwoor­d lui‘home is where the heart is’en dit is presies waar my hart is – in die kombuis.”

Met ’n glimlag wat van oor tot oor strek beweeg Yolani ligvoetig rond in die kombuis. As sy nie hier ’n eier klits nie, smelt sy in ’n ander gedeelte van die kombuis sjokolade. Dan merk sy op:“Dit is vir my altyd so lekker om te bak en in die kombuis rond te beweeg terwyl daar klomp idees in my kop rondhardlo­op. Ek kry nie meer so baie tyd om te bak nie, maar wanneer ek dit die dag doen, dan doen ek dit sommer behoorlik.”

in haar element

Sy dink met heimwee aan haar ma, Maggie, se sjokoladek­oek. Dit is juis ook een van die koeke wat sy spesiaal vir Kuier se besoek gebak het.“Sjoe, my ma kan die lekkerste chocolate koek bak. Dit is die perfekte balans van soet en nat. Dit is net lekker, man! Dit is ’n koek wat so baie herinnerin­ge dra – verjaardae, Kersfees en sommer enige ander spesiale geleenthei­d. Dié koek is altyd ’n wenner en omdat ek so baie spesiale memories koester wat daarmee gepaardgaa­n, is dit ook een van my gunsteling­goed om te bak.”

Nóg een van Yolani se gunsteling­e is haar wortelkoek.“Daar is niks so lekker as ’n lekker deurgebakt­e en neuterige sny wortelkoek nie. Jy kan my maar nou wat sê, maar wys my die mens wat uit eie wil nee gaan sê vir so ’n novelty.”

Op die vraag oor waar sy haar resepte vandaan kry, tik sy laggend met haar vinger teen haar kop en antwoord:“Hier. Wanneer ek besig is om iets te maak, pop daar ’n idee op in my kop en dan voer ek dit uit. Baie keer werk dit, ander tye nie, maar ten minste weet ek dan ek het dit ten minste probeer. Dit is iets wat ’n mens nie regtig kan verduideli­k nie – dit kom net . . .”

Sy raak nostalgies wanneer sy praat oor haar kuns en die geluk wat dit haar bring. “Ek het wel culinary arts gaan studeer om my kuns te verfyn, maar ek sê altyd om te bak en brou, is nie iets wat iemand jou kan leer nie. As jy dit het, dan het jy dit. Jy kan kursusse doen om jou nuwe truuks te leer, maar dit is regtig iets wat hier begin.” Sy hou haar hand op haar hart en verduideli­k voorts.“Wanneer ek in die kombuis is, is ek in my element. Ek blok alles rondom my uit en raak een met die bestanddel­e. Ek ruik dit, voel dit en proe dit. Dit is soos om ’n koek te bak – jy moet alles saam meng om die eindproduk te kry en dit is presies wat gebeur wanneer ek bak. Dit is ’n samesmelti­ng van my en alles wat in die kombuis is.”

En hoewel die kombuis haar niks minder as geluk bring nie, moet Yolani eerlik erken dat die bakkerybed­ryf nie ’n maklike een is nie.“Dit is regtig ’n tawwe industrie en jy moet deur jou passie aangedryf word. Met die pryse wat die hoogte inskiet, raak dit ook moeilik om bestanddel­e te bekostig, maar dit is juis wanneer dinge moeilik gaan wanneer jy moet deurdruk en volhard.”

Yolani sê sy sal graag in die nabye toekoms by skole betrokke wou raak.

“Ek wil baie graag praktiese klasse aanbied om die leerders ’n bietjie touwys te maak. Dit baat nie ’n mens sit met die kennis en jy deel dit nie met die jonger generasie nie. Mededeelsa­amheid is Godsliefde en iets wat ons in alle aspekte van ons lewens moet toepas.”

En wat is volgende vir die bakker met die aansteekli­ke glimlag?“My eie bakprogram. Soos die tyd verloop, sal daar meer besonderhe­de aan die lig kom, maar vir eers kap ek zip. Ek is ook besig om aan iets te werk hier iewers in die wynland en dit sal julle ook binnekort uitvind. Wat ek wel kan sê, is dat albei dié projekte my liefde vir bak met mense gaan deel. Om te bak, sal altyd my eerste prioriteit bly.”

Sy sê sy het al van kleins af geleer niks is onmoontlik nie.“Niemand kan gawe en passie koop nie en as jy dié twee goed saam het, is dit ’n wenresep. Dit is net jy wat jouself kan keer of beperk. Moenie laat enigiemand vir jou bogstories vertel nie. Do you en die res sal volg!”

So ’n bek kort ’n jêm-tertjie!

Blaai om vir van Yolani se heerlike soetgoedre­septe. Die fotosessie het plaasgevin­d by die Kole & Deegrestau­rant op Ceres.

Om te bak, is ’n samesmelti­ng van my en alles wat in die kombuis is. YOLANI ABRAHAMS

 ??  ?? REGS: Yolani Abrahams is die aanbieder van die kosprogram Spyskaart op SABC2.
REGS: Yolani Abrahams is die aanbieder van die kosprogram Spyskaart op SABC2.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa