Kuier

GESEËN NÁ BAIE SMART:

Ná die smart van ’n stilgeboor­te en drie miskrame, het dié ma uiteindeli­k die vreugde van ’n baba van haar eie gesmaak. DEUR ELMARINE ANTHONY

-

Vrou word eindelik ma ná vier mislukte swangerska­ppe

Ná die trauma van een stilgeboor­te en drie miskrame, het Cindy Moses (31) nie weer kans gesien om vir ’n baba te probeer nie. Hierdie tipe seer is iets wat geen vrou wil deurmaak nie. Haar geluk het egter gedraai toe sy in April 2016 lewe aan ’n pragtige babadogter­tjie, Demi (vandag amper 2), skenk.

“Sy maak op vir al die hartseer,” vertel Cindy by haar huis in Idasvallei, Stellenbos­ch, terwyl Demi rondom haar speel. En om te dink as sy ophou probeer het, sou dié skattige, besige en praterige kleuter nie vandag hier gewees het nie.

November 2013 was veronderst­el om een van die gelukkigst­e tydperke van Cindy se lewe te wees. Sy was 25 weke swanger met haar eersteling en sou binnekort trou met haar verloofde, Walter, met wie sy eers vir 13 jaar vriende was.

Vandag onthou sy egter daardie tyd as die hartseerst­e van haar lewe. Want vroeg in November daardie jaar, sou sy die eerste van altesaam vier mislukte swangerska­ppe beleef.

Hartseer begin

Haar eerste swangerska­p het goed verloop tot een oggend toe Cindy op sowat 25 weke voel die baba beweeg nie meer nie. Hulle het toe reeds geweet sy verwag ’n seun. Toe sy vir Walter (nou 32) daarvan sê, sê hy die baba is seker net stil. Sy kon egter voel iets was nie dieselfde nie.“Hy het gelewe in my. Ek het ’n konneksie met hom gehad. Elke oggend 05:30 as ek moes opstaan vir werk, het hy beweeg en my wakker gemaak. Daardie oggend het ek niks gevoel nie.” Sy is die volgende oggend na ’n dokter wat bevestig het dat die baba geen hartklop meer het nie. ’n Bedroefde

Cindy kyk eers af terwyl sy daardie oomblik beskryf.“My hele lewe was inmekaar. Dis onbeskryfl­ik. Jy voel letterlik soos die dood.”

Sy is toe na Stellenbos­ch-hospitaal verwys waar sy die pyn van geboorte moes deurmaak sonder die vreugde om met ’n baba huis toe te gaan. Sy het pille gekry om die geboorte te induseer, maar het eers twee dae later terwyl sy alleen was, gekraam.“Toe ek daardie oggend opstaan, het ek pyn in my lae rug gehad en in ’n paar sekondes was hy gebore. Dit het só vinnig gebeur. Hy was spierwit en het niks hare gehad nie. Hy het nes my pa en skoonpa gelyk,”vertel sy oor die baba wat hulle Caleb John sou doop.

Die hospitaal het Caleb se oorskot as mediese afval verwyder omdat dit prosedure is. So hartverske­urend soos dit was, het Cindy dit só verkies,“want dit sou te hartseer wees om by ’n oop graf te staan en jou kind te begrawe”. Sy is tot vandag nog spyt sy het nie foto’s van hom geneem nie.“Dan sou ek nog vandag daarna kon kyk. Dit help om closure te kry. Ek is spyt hy is nie skoongemaa­k en afgevee sodat ek foto’s kon neem nie. Ek is spyt dat ek hom netso laat gaan het, toegedraai in groen lappe en weggevat. Ek is spyt dat ek hom nie langer kon sien nie,”vertel Cindy.

Sy en Walter kon egter nie onmiddelli­k oor hul verlies treur nie.“Ek het op ’n Dinsdag geboorte gegee, is die Woensdag ontslaan en die Saterdag toe trou ek (en Walter). Drie dae ná die geboorte.”Alles was reeds gereël vir die troue. Omtrent 300 gaste is genooi en sy kon nie eens haar trourok, wat vir ’n swanger vrou gemaak is, verstel nie. Op troufoto’s lyk hulle gelukkig, maar Cindy sê hulle moes ’n front opsit.

Gedurende die eerste week as getroude paartjie het Walter in ’n diep depressie verval, vertel Cindy.“Dit het gelyk ons verloor mekaar in die proses. Hy het uit die werk gebly en het nie met my gekommunik­eer nie. Hy het net gelê en geslaap. Ek was fine. Ek dink ek het my hart uitgehuil,”vertel sy. Die twee het toe hul dominee vir berading genader. Haar geloof is een van die dinge wat haar deurgedra het, sê Cindy.

In Mei 2014 was sy verheug toe sy uitvind sy is weer swanger. Dit was egter van korte duur toe sy op 12 weke terwyl sy op ’n kamp was, ’n miskraam gehad het.

“Ek het erge pyn gevoel en gevoel iets is nie reg nie.”Sy is toe na haar ginekoloog en daarna na Stellenbos­ch-hospitaal waar hulle ’n prosedure gedoen het om die fetus te verwyder. Hierdie keer was dit Cindy wat in ’n diep depressie geval het.“Jy kan net vir my iets sê, dan huil ek vir dae. Ek het myself totaal verloor. Ek wou nie eet nie en was so maer soos ’n riet. Ek het slaappille gedrink, want ek kon nie slaap nie.”

Sy het dit oorweeg om selfmoord te pleeg, maar het toe elke keer aan haar broer, Lester Davidse (48), gedink wat homself 20 jaar gelede probeer ophang het en vandag met permanente breinskade sit.“Dit sou my ouers breek.”

Teen hierdie tyd was Cindy, met die raad van haar ginekoloog, op geen voorbehoed nie, want volgens hom sou dit haar kanse belemmer om natuurlik swanger te word.

In Maart 2015 het sy uitgevind sy is vyf weke swanger. Twee dae daarna het sy ’n miskraam gehad terwyl sy in die bed gelê het.“Ná dit was ek emosioneel opgedroog. As vriendinne vir my gesê het hul ouers het gesterf, het ek nie emosie gehad nie. Ek was só seergemaak, maar ek kon nie huil nie,”vertel Cindy hartseer.

Gewoond aan pyn

Met haar derde miskraam twee maande later in Mei 2015, ook terwyl sy in die bed was en wéér op vyf weke, was Cindy al gewoond aan die teleurstel­ling en hartseer.

“Ek het nou al geweet wat vir my wag, wat die stappe is, dat dit nie eens meer snaaks was om babas te verloor nie. Dit was nie eens vir my meer iets gewees nie,” vertel sy droewig.

Dokters het toe toetse gedoen om te bepaal wat die oorsaak van haar miskrame is. Dokters het gedink sy en haar man behoort dalk aan dieselfde bloedgroep, maar toetse het dit uitgeskake­l. Dokters wou Walter se sperm toets, maar toe word Cindy vir die vyfde keer swanger in Julie 2015. Hierdie keer met Demi.

Cindy het dié swangerska­p met“’n knippie sout gevat”en sê sy was negatief van die begin af. Tot die dag wat sy in kraam was, was haar swangerska­p gevul met vrees dat sy ’n miskraam sou hê of dat die baba doodgebore sou word soos met haar eerste swangerska­p. As sy soggens opgestaan het, het sy eers gekyk of daar nie bloed op die bed is nie en as sy badkamer toe gegaan het, het sy ook gekyk. Toe sy ses maande swanger was, is sy na Paarl-hospitaal oorgeplaas waar hulle haar fyn dopgehou het. Sy het die volle 40 weke gehaal. Met Demi se geboorte het Cindy“baie gelukkig en geseënd gevoel.”Om saans met haar kind te gaan slaap en soggens langs haar wakker te word, is van die beste dinge van ma-wees vir haar.“En as sy so met die verbygaan vir my ’n drukkie en soentjie gee en sê,‘my Mammie’.”So dierbaar as wat Demi is, antwoord Cindy gou“nee” op die vraag of sy nog kinders wil hê. Haar man wil graag nog ’n kind hê, maar sy kan haarself nie weer deur als sit nie. Sy sê as dit nie vir haar ouers en man was nie, sou sy nie vandag vir Demi gehad het nie.“Ek was later op daai punt van ons worry nie meer nie. Kom ons los die kinders en geniet vir ons, maar toe het ons haar gekry,”sê Cindy dankbaar en kyk vir Demi. Sy is nog lank nie oor die pyn van haar vier mislukte swangerska­ppe nie. “Ek probeer dit nog altyd verwerk. Dis iets wat nooit sal weggaan nie. Dit sal altyd by my bly. Dit sal altyd by jou spook.”Maar sy weet nou:“As ek vir Demi kyk, is alles die moeite werd. Sy maak op vir al my hartseer waardeur ek is. Die Here sit nie goed op jou pad as jy dit nie kan hanteer nie.”

As ek vir Demi kyk, is alles die moeite werd. Die Here sit nie goed op jou pad as jy dit nie kan hanteer nie. Cindy Moses

 ??  ?? Cindy Moses en haar “engelkind”, Demi. Demi is haar ouers se geluk en seëning ná die smart en depressie van vier mislukte swangerska­ppe.
Cindy Moses en haar “engelkind”, Demi. Demi is haar ouers se geluk en seëning ná die smart en depressie van vier mislukte swangerska­ppe.
 ??  ??
 ??  ?? Cindy lyk droewig terwyl sy weer oor haar en haar man se hartseer en verlies praat.
Cindy lyk droewig terwyl sy weer oor haar en haar man se hartseer en verlies praat.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa