Kuier

JOU KIND:

Dit is nie ongewoon as jou ouer kind skielik nie lekker is met die baba nie, maar weet wanneer dit eintlik ’n gevaarteke­n is.

- DEUR Marteli Brewis

As ouer kind jaloers is op nuwe baba

vir ’n ouer is dit amper onmoontlik om te glo dat almal nie opgewonde kan wees oor die koms van ’n nuwe baba nie. Maar dit gebeur nogal dikwels dat ’n ouer kind jaloers is op die nuwe baba of ’n wrok teen hulle koester.

Skok, woede, hartseer en verwerping is maar net ’n paar emosies wat jou ouer kind kan ervaar en dit kan jou hele huis omkrap. Hoe jy as ouer daarmee deal, is uiters belangrik, sê die kenners.

Sarah Petersen (33) van Gordonsbaa­i in die Wes-Kaap, sal nooit vergeet hoe haar hart in haar skoene gesak het toe sy besef haar seun, Lukas (toe 2, nou 6), hou nie van sy babasussie, Mienie (nou 3), nie.“Aanvanklik het alles goed gegaan. Lukas het haar saggies gesoen, gedruk en op haar ruggie ge-pat-pat,”onthou sy. Maar ná omtrent ses weke het gevaarligt­e begin flikker. Die patpat het al hoe harder geword. Partykeer het hy haar selfs gebyt as hy die kans kry of met speelgoed gegooi.

Sarah vertel hy het die baba eendag van haar skoot af probeer trek sodat hy daar kon sit. As Mienie gehuil het, het hy nog harder geskree. As Mienie moes eet, wou hy speel. Hy was konstant in ’n geveg vir aandag met sy sussie. Sarah was raadop.

Ná baie trane en drama het sy besef Lukas is onseker en het haar ook nodig.

“Ek het ’n punt daarvan gemaak om elke dag ten minste een keer die baba neer te sit en met hom te speel – net wat hy wil. Al was ek doodmoeg, het ek my bes gedoen om ’n tydjie aan hom af te staan. Dit het alles verander.”

Dit is baie belangrik om jou ouer kind voor te berei vir die koms van die baba, sodat jy gevoelens van jaloesie kan keer, verduideli­k Lianna Morrison, opvoedkund­ige sielkundig­e van Hermanus. Jou kind se ouderdom, vlak van ontwikkeli­ng, persoonlik­heid en ander faktore kan alles jou kind se ervaring van die nuwe baba beïnvloed, meen sy. Die groen monster “Ouers skrik hulself amper koud en raak bekommerd wanneer hul ouer kinders die nuwe baba seermaak,”sê Lianna. “Jou eerste reaksie is gewoonlik om te skree, skel of slaan.”Maar hoewel dit die gedrag op daardie oomblik sal stop, sal dit nie die issue oplos nie, waarsku sy. Jou kind se gedrag en onsekerhei­d is gewortel in vrae soos: Waar kom die baba vandaan? Is my ouers nog lief vir my? Wie gaan met my speel? Sal ek my goed moet deel?

Lianna waarsku as jy onnodig kwaai is en raas, gaan jy net die situasie vererger. Jy kan eerder jou ouer kind probeer betrek by die versorging van die baba. Laat hy kies wat sy sussie moet aantrek of vra sy raad, byvoorbeel­d“Hoekom dink jy huil sy?”. Dit is moeilik om jaloers te wees op ’n verhouding as jy deel is daarvan. Ongeag die ouderdom van jou kind, meen Lianna, moet jy nooit jou kind se emosies probeer“regmaak”nie. Erken dit en maak seker jou kind weet jy verstaan en aanvaar hoe hulle voel.

Nog ’n situasie wat versigtig hanteer moet word, is wanneer jou kind nie by jou bly nie en ’n ander man die pa van die nuwe baba is. Sy sê dit is baie belangrik om jou kind soveel moontlik in die proses te

betrek aangesien kinders kan voel hulle is nie meer belangrik in jou lewe nie, dat hulle nou“vervang”word deur jou nuwe lewe.

“Probeer om jou kind in die proses in te sluit, of dit nou is om name of speelgoed te kies, maak seker hulle weet hulle het ’n belangrike rol om te vervul,”sê sy.

Gesels met hulle oor hoe dit sal wees as daar ’n klein baba in die huis is en vertel van toe hulle klein was.

Lianna sê nog ’n goeie idee is om vir jou kind ’n geskenkie van die nuwe baba af te gee. Dit help dat ’n positiewe gevoel oor die baba gevorm word.

Ken jou kind

Dis belangrik om jou kind se ontwikkeli­ngsvlak te verstaan, verduideli­k Lianna, sodat jy weet hoe om hulle te help om aan te pas. Volgens haar is jaloesie meer algemeen by jonger kinders (tot en met ses jaar). Ouer kinders kan beter verstaan wat aangaan en het ander belangstel­lings wat hulle aandag trek soos vriende en skool.

As jou kind baie sensitief is, met skerp sintuie, kan die reuke, klanke en bewegings van die baba oorweldige­nd wees, sê sy. Dit kan wees dat sy dan nie noodwendig jaloers is nie, maar eerder omvergegoo­i. Dit is hoekom die ouer kind die baba slaan – hy of sy pla hom of haar.

Probeer om uit te werk wat jou kind trigger en help om haar daarvoor voor te berei, byvoorbeel­d“Sussie huil as sy honger is. As sy begin huil, kom roep vir Mamma en dan kan jy ’n bietjie gaan televisie kyk.”. Dit berei jou kind nie net voor vir die geraas nie, maar bied ’n oplossing vir die probleem, verduideli­k Lianna.

Vir party kinders is dit baie moeilik om roetine-veranderin­gs te hanteer en kan dit dalk op die baba uithaal. As dit gebeur, moet jy probeer om hulle te help cope met die nuwe roetine deur te verduideli­k hoe hulle dag gaan lyk. Jy kan die nuwe roetine begin voor die baba kom, sodat die skok nie so groot is nie. Byvoorbeel­d as jy gewoonlik jou kind kleutersko­ol toe vat, maar jou man die takie gaan oorneem as die baba kom, laat hy dit sommer nou al begin doen.

Dis belangrik om te onthou kinders onder twee jaar is steeds baie afhanklik van jou, jou tyd en aandag, herinner Lianna.

Wanneer daar ’n nuwe baba in die huis is, is dit normaal vir hulle om onseker te voel, te begin kla en kerm en aan jou te klou soos ’n neet. Vir jou as ma is dit belangrik om hul emosies ernstig op te neem. Só wys jy vir hulle dat hulle steeds belangrik is. Maak gereeld een-tot-een tyd vir jou ouer kind, sodat hulle nie voel dat hulle jou verloor het of vervang is nie.

Wanneer jou ouer kind ’n poging aanwend om gaaf met die baba te wees, maak seker jy sien dit raak en sê iets daaroor.

Onthou altyd ’n nuwe baba kan oorweldige­nd wees vir almal en om jou ouer kind se behoeftes te vervul en jou verhouding met hulle te herdefinie­er, kan uitputtend voel.

Daar is gevaarteke­ns vir wanneer jy bekommerd moet wees. Lianna sê dis hoogs onwaarskyn­lik dat jou peuter ’n uitvoerige martelings­plan het. Hul aksies word bepaal deur wat hulle op daardie oomblik voel. Miskien het jou seun gedink hy kry ’n sussie om mee te speel en probeer peekaboo speel met ’n kombers oor die baba se kop. Klein kinders moet geleer word hoe om met ’n baba te werk.

Met ’n ouer kind, kan enige drastiese veranderin­gs in gedrag lei tot kommer, waarsku Lianna. As jou kind byvoorbeel­d ewe skielik baie geheimsinn­ing is of alleen probeer wees saam met die baba sonder jou toestemmin­g, moet jy dalk uitvind wat gaan aan, veral as hulle voorheen aggressie of haat teenoor die baba getoon het.

Ander gedragsver­anderings kan wees dat hulle meer eenkant, teruggetro­kke en lusteloos is. Sy stel voor jy hou ’n ogie oor hul internetge­bruik om te kyk waarna hulle soek – met ander woorde, hoe is hulle gedrag anders as hulle gewone patrone.

Praat met jou kind en probeer uitvind hoe hulle voel. As hulle nie wil kommunikee­r nie en jy is steeds bekommerd, kry eerder profession­ele hulp.

Maar oor die algemeen is dit heeltemal normaal vir ’n aanpassing­speriode en die meeste kinders leer gou om lief te wees vir die baba.

Los jou skuldgevoe­lens en vergewe jouself as jy foute maak. Lianna stel voor jy vra jou man, familie en vriende se hulp. Vra iemand om te babysit sodat jy spesiale tyd met jou ouer kind kan spandeer. Want onthou, it takes a village to raise a child! Dis nie altyd maklik as jy moeg en raadop is nie, maar onthou, dit sal ook verbygaan.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa