Op TV: ­Ru­mar­ques­vanPa­sel­la­maak­naam

Ná sy kan­ker­stryd het hy be­sluit om al­les te pro­beer en vol­uit te leef en nou is hy op TV!

Kuier - - Die Span - DEUR TARREN-LEE HABELGAARN

Wan­neer ie­mand van ’ n klein dor­pie skie­lik op ’ n groot ra­di­o­sta­sie, TV-pro­gram of in ’n fliek ver­skyn, dink men­se mak­lik hul­le het dit “ge­maak” en dat hul­le een van die ge­luk­ki­ge men­se is wat van rags tot ri­ches ge­gaan het. Maar Ru­mar­ques Gel­der­bloem (33) van Worcester in die Wes-Kaap, een van die nu­we ge­sig­te op die SABC2 se leef­styl­pro­gram, Pasella, voel glad nie só nie.

Vol­gens Ru­mar­ques, ook be­kend as die rap­per, Ox­i­jin, kan jy eers sê ie­mand het dit ge­maak wan­neer hul ge­meen­skap ook vo­ren­toe be­weeg, want hy voel daar is niks wat hom spe­si­aal of an­ders maak as e­nig­ie­mand an­ders in sy ge­meen­skap nie. Hy was net ge­luk­kig dat men­se po­ten­si­aal in hom raak­ge­sien en hom ’ n ge­leent­heid aan­ge­bied het.

Nou wil hy sy ge­leent­he­de ge­bruik om an­der kin­ders en men­se in sy ge­meen­skap be­wus te maak van húl po­ten­si­aal en om hul­le aan te spoor om el­ke ge­leent­heid aan te gryp wat hul­le kant toe kom.

Wan­neer jy met Ru­mar­ques ge­sels, voel jy som­mer as­of jy met ’ n ou vriend praat. Ru­mar­ques ver­tel hy het as ou­ma­kind in die la­ne van Worcester groot­ge­word en nooit ge­dink hy sal een­dag op TV as aan­bie­der werk of by groot kuns­te­fees­te as rap­per op­tree nie. Maar hy het al­tyd ’ n ge­voel ge­had dat hy iets in an­der se le­wens sal be­te­ken.

“Dit is moei­lik om te ver­dui­de­lik. Jy weet, soms kry ’ n mens net daar­die ge­voel – jy kan dit nie be­skryf nie, maar jy weet dat jou le­we ’ n gre­a­ter pur­po­se het

en dat dit iets gaan be­te­ken. Ek is nog nie heel­te­mal se­ker wat my pur­po­se is nie, maar ek weet deur din­ge wat al met my ge­beur het, dat men­se an­der men­se no­dig het,” sê hy.

“Men­se het al vir my baie be­te­ken, of dit nou was toe ek teen kan­ker ge­veg het of dit nou was toe ek hier­die werk as aan­bie­der ge­kry het, en of dit nou is deur my mu­siek wat men­se on­der­steun. Men­se het my al baie ge­help om te kom tot waar ek van­dag is en daar­om wil ek ook vir an­der men­se daar wees.”

Op skool het hy nooit reg­tig in a­ka­de­mie of sport uit­ge­blink nie. Hy was ook nie te swak nie, maar hy het al­tyd net ge­noeg pun­te ge­kry om te slaag. Hy het wel uit­ge­blink in lei­er­skap en hy het al­tyd moei­te ge­doen om se­ker te maak dat hy ’n goeie voor­beeld vir an­der stel en hy an­der kon help.

Hier­die waar­des glo hy kom van sy ou­ma, ou­pa, ma en pa af, wat hy by hul­le as kind ge­leer het. Hy sê selfs as kind het hy dank­sy hier­die sterk men­se in sy le­we al­tyd sy oë op die He­re ge­had en hy het ge­glo dat die He­re sy pad vir hom uit­ge­sit het en hom lei.

GE­LOOF IS AL­LES

“Dit was al­tyd snaaks vir men­se, want op skool het ek nie baie oor sport of a­ka­de­mie ge­wor­ry nie, ek wou ’n lei­er wees en ek wou net oor die He­re praat. Vir my was dit Je­sus of niks en ek ont­hou selfs toe ek nie geld ge­had het nie, het ek al­tyd ’n By­bel­vers in my beur­sie ge­sit en ge­glo dat daar geld gaan kom.”

Dit is met hier­die ge­loof dat Ru­mar­ques al baie din­ge in sy le­we aan­ge­pak het, maar sy groot­ste toets en iets wat hy glo sy le­wens­pad vir al­tyd ver­an­der het, was toe hy in 2015 op die ou­der­dom van 29 met ko­lon­kan­ker ge­di­ag­no­seer is.

Twee jaar voor dit was hy op sy vet­ste en het hy om­trent 130 tot 140 kg ge­weeg. Hy het on­ge­sond ge­voel en het ge­sien hoe dit sy le­we en ver­troue be­gin aan­tas. Hy het be­sluit om by plaas­li­ke rug­by be­trok­ke te raak en het ook be­gin draf. Hy wou dit vir sy ge­sond­heid doen, maar ook om be­ter te voel.

Hy het on­mid­del­lik ge­wig be­gin ver­loor en teen die tyd toe hy met kan­ker ge­di­ag­no­seer is, was hy op sy fiks­ste en die ge­sond­ste wat hy in ’n lang tyd was.

SY LE­WE VER­AN­DER

Toe hy be­gin siek voel, het hy nooit ver­wag dat hy moont­lik kan­ker kon het nie en toe hy die di­ag­no­se ont­vang, het dit sy wê­reld ge­ruk.

“Ek kon nie meer werk nie, ek moes on­mid­del­lik vir ’n o­pe­ra­sie gaan om die kan­ker te ver­wy­der en daar­na het ek met che­mo be­gin. Toe ek huis toe is, was dit Kers­fees en al­mal was be­sig om hul­self te ge­niet en te eet, maar ek kon niks eet nie. My derms moes nog her­stel, so ek kon net sop en slaaie eet. Ek moes ook toe baie ver­an­de­rings aan my di­eet maak en ek kon ook glad nie meer rug­by speel nie,” ver­tel Ru­mar­ques.

“My ma moes my was en dit het ’n vol­le jaar ge­vat voor­dat ek weer kon hard­loop. Dit was ’n baie moei­li­ke tyd in my le­we, maar dit het my ver­stom hoe men­se se har­te vir my oop­ge­gaan het en hoe men­se wat ek nie eens ver­wag het nie, net daar was vir my. Dit was toe ek reg­tig be­sef het dat men­se an­der men­se no­dig het. Dit was ook ty­dens hier­die tyd dat ek lied­jies be­gin skryf het en met my rym­klet­se­ry be­gin het.”

Ru­mar­ques sê daar was so baie din­ge waar­aan hy ge­dink het en wat hy vir men­se wou sê en dit is hoe hy be­gin skryf het. Hy sê wan­neer jy nie kan be­weeg nie, sien jy al­les rond­om jou raak en dan waar­deer jy al­les nóg meer. Dit is ook hoe hy aan sy ver­hoog­naam, Ox­i­jin, ge­kom het, want toe hy so na aan die dood kom, het hy be­sef son­der suur­stof kan niks in die le­we ge­beur nie en kan ons nie be­staan nie.

Dit was ook toe hy be­sluit het om al­les in die le­we te pro­beer, ver­al as dit reg­tig ’n ver­skil in sy le­we, sy ge­meen­skap of in e­nig­ie­mand an­ders se le­we kan maak. Hy het dus die ge­leent­heid aan­ge­gryp om ’n ou­di­sie vir Pasella te doen al het hy nooit ge­dink dit is iets waar­in hy sou be­lang­stel nie. Hy het tog pro­beer, want as dit uit­werk en ie­mand sien iets in hom raak, het hy ge­weet dit sal an­der kin­ders ook aan­spoor om groot te droom.

“Toe kry ek die werk en ek kon dit am­per nie glo nie. Ja, ek is al vir ja­re deel van die be­dryf, maar om ’n rym­klet­ser te wees en om op te­le­vi­sie te wees, is twee ver­skil­len­de per­de,” sê hy lag­gend.

“El­ke werk kom met sy eie uit­da­gings en perks, maar ek moet sê ek ge­niet dit ver­skrik­lik baie. Ek het hoog­te­vrees, ek kan nie reg­tig swem nie en ek hou glad nie van per­de nie, maar ek moes nou al daar­die din­ge voor die ka­me­ra doen en el­ke keer as ek iets an­ders reg­kry, dan voel ek goed.

“Ek het ook al men­se ont­moet wat ek nooit ge­dink het ek ooit in my le­we sou ont­moet nie en vir dit al­les is ek net dank­baar. Toe ek kan­ker oor­win, het ek be­sluit die le­we gaan ek vol­uit le­we en dit is wat ek nou doen,” sê Ru­mar­ques pas­sie­vol.

Hy sê men­se wil net iets hê om na te stre­we en hy hoop om dit vir die jong­men­se in sy ge­meen­skap te wees – net ’n voor­beeld van dit wat reeds bin­ne hul­le al­mal ook is. Hy is ook op­ge­won­de oor sy nu­we CD waar­aan hy werk, maar vir nou het hy geen haas nie en wil hy eers ge­mak­lik voor die ka­me­ra word en lééf!

HOOFFOTO: Ru­mar­ques Gel­der­bloem, ook be­kend as die rap­per Ox­i­jin, is ’n aan­bie­der op Pasella.

BO: Ru­mar­ques klink ’n gla­sie met gas­te op Pasella. ON­DER: Hy en ’n gas­kuns­te­naar op die pro­gram.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.