ANTON VILJOEN JR.
Anton Viljoen boer op agt plase in die Hexvallei met sowat 285 ha tafeldruiwe, onder meer die gesogte kultivar Crimson Seedless. Hy produseer alles vir die uitvoermark.
VERTEL KORTLIKS VAN JOU BOERDERY. HOEVEEL TAFELDRUIWE PLANT JY, WAARMEE BOER JY ALLES EN HOEKOM IS DIE HEXVALLEI SO GOED VIR TAFELDRUIFBOERDERY?
Ons het ’n matige klimaat met koel nagtemperature. Ons reënval in die somer is laag. Dis ’n goeie ding, want in die druiweseisoen kan reën baie siektes in die wingerd veroorsaak of die vrugte laat bars en bederf.
CRIMSON SEEDLESS IS ’N BAIE GEWILDE KULTIVAR ONDER PLAASLIKE TAFELDRUIFBOERE. WAT MAAK HIERDIE DRUIFSOORT SO SPESIAAL?
Die Amerikaanse departement van landbou het hierdie kultivar gekweek. Ons het die eerste Crimson in 1999 geplant, en vandag is dit die grootste kultivar waarmee ek boer. Die korrel is langwerpig en ferm, wat hom gesog maak op alle markte — plaaslik en internasionaal. Vir boere is dit ook ’n aanloklike kultivar, want daar is geen tantieme of bemarkingsbeperkinge op die kultivar nie. Die Crimson uit die Hexvallei is van die beste ter wêreld. Ons koel nagtemperature laat hom mooier verkleur as in die warmer produksiegebiede, soos Upington en Trawal.
AS JY EEN DING KON VERANDER OM DIE LEWE AS TAFELDRUIFBOER MAKLIKER TE MAAK, WAT SOU DIT WEES?
Ek sou meer marktoegang vir ons produkte in die buiteland bewerkstellig. Dit sal ons in staat stel om beter met Australië en Suid-Amerika mee te ding.
WAAR LÊ DIE BELANGRIKSTE MARKTE VIR JOU TAFELDRUIWE?
Die groot supermarkte in Brittanje, Europa en die Verre-Ooste. Marktoegang is vir ons ’n probleem in die Verre-Ooste en Suidoos-Asië, maar die Regering en bedryfsorganisasies gee die afgelope paar jaar baie meer aandag daaraan.
HOEVEEL WERK SKEP JULLE IN DIE BOERDERY?
In die druiweseisoen neem ons 1 200 mense in diens. Dis baie moeilik om te meganiseer met tafeldruiwe, maar kwekers regoor die wêreld kry dit reg om kultivars te kweek wat minder arbeid nodig het.