BOEREKOS-LESERS ONTHOU
Ons versoek aan lesers om hul kosstories vir ons te vertel, het baie reaksie uitgelok. Lees die weninskrywing deur Isabel Martinson op bl. 128. Al is die meeste van die stories te lank om op die brieweblad geplaas te word, het dié twee korter inskrywings ons lekker laat lag.
’N SKELM VETKOEK
Ons was ’n gesin van 11 siele in die huis op Colesberg. My ma was ’n ywerige kok en was ook vreeslik lief daarvoor om brood te bak. Soggens voor skool het sy geknie, en by die tyd dat ons opstaan, het die deeg al uitgerys en rond gestaan in die wit erdeskottel. Sy het altyd ’n stuk van die brooddeeg gehou vir vetkoek en die vetkoeke dan in olie op ’n primusstofie gebraai.
My ma was blind in haar een oog en ek het altyd mooi gekyk of die bak waarin sy die vetkoek gooi, aan die kant van die blinde oog staan. Sodra daar ’n paar vetkoeke in die bak was, het ek vinnig vir my een uitgehaal en kamer toe verdwyn, want dit was vir my net te lank om te wag tot ons aan die tafel sit.
Een Sondagaand het Ma melksnysels vir aandete gemaak. Toe my pa die tafelgebed doen, stop my jongste boetie hom midde-in sy gebed met die volgende woorde :“Maar Pa ,’ n mens bid mos nie vir pap nie!” HESTER SPIES Brief per e-pos
SOETSOUT SKONS
Ek was lief vir bak vandat ek by die kas kon bykom en my ma my met ’n klitser en oond vertrou het. Huishoudkunde was ’n natuurlike vakkeuse in graad 8
en saam met juffrou Matthee, huishoudkunde-onderwyseres by die Hoërskool Ermelo, het ons vele kos-avonture aangepak. Ons eerste praktiese taak vir punte was om skons te bak. Juffrou Matthee het die basiese resep gegee en ons het in groepies van twee verdeel. My vriendin, Sylvia, se taak was om die oond aan te skakel en die toerusting reg te kry. Ons het besluit op soet skons en het die vorige dag ons versiering fyn beplan vir ’n versekerde volpunte.
Ek was verantwoordelik vir die afmeet en aandra van bestanddele. Die bestanddele was in groot houers voor in ons huishoudkundeklas uitgepak. Ons was voorbereid en ek het voor die ander my bestanddele gaan afmeet. Die gewone botter, meel, bakpoeier, ens. was van toepassing en ’n koppie suiker vir die soet weergawe.
Ek en Sylvia het die bestanddele gemeng en sorgvuldig die deeg uitgerol en met koekiedrukkers volmaakte skons uitgedruk en op die bakplaat gesit. Die oondliggie was af en ons het ons skons ingesit en op die horlosie gekyk om die tyd dop te hou. Ons het ons bordjies voorberei en versierings van versuikerde vrugte en geklopte room reggesit. Ons het ons skottelgoed begin was. Daar was ’n stukkie
deeg wat aan die koekiedrukker vasgesit het en ek en Sylvia het dit gedeel. Ons het skielik albei begin spoeg. Dit was sleg. Vrek sleg! Dit het soos soutklei geproe en ek het skielik besef dat my koppie “suiker” uit die verkeerde houer geskep is en sout was.
Dit was te laat. Daar was nie tyd om ander te bak nie.
Toe die skons uit die oond kom, het ons besluit om ons fout te probeer verbloem met nie net snippersvrugtelekkersnie, maar sommer die helfte van die pakkie en baie gesifte versiersuiker. Toe juffrou Matthee naderkom, het ons gebid dat sy nie vandag proe nie. Sy het die skons oopgesny en gesê dis effens kluitjie en daar is te veel versiering op.
Toe sy die koekvurkie met ’n stukkie op na haar mond bring, het ons albei asem opgehou. Gelukkig was sy taktvol en het sy ’n servet gegryp om die happie in uit te spoeg. Ek sal nooit haar gesigsuitdrukking vergeet nie.
Al was ons punte daardie dag nie goed nie, is s ek en Sylvia 21 jaar later steeds ds vriendinne en kom daar r heelwat geslaagde gebak bak uit ons oonde. Maar ’n n sout skon sal vir ons nooit t dieselfde betekenis as vir iemand anders hê nie! NANETTE BOT THA Brief per e-pos