Elke resep het ’n storie
Ek dink alle kosskrywers het een. ’n Gunsteling-onderwerp om oor te skryf. Vir my is dit onthoukos, die smake waarmee ons grootgeword het.
Vroeër vanjaar bring een van my vriende se ma vir my ’n geskenk waaroor sy effens verleë lag en verduidelik dat ek dit nie hoef te gebruik as ek nie wil nie. Sy en haar man trek na ’n aftree-oord en sy is besig om minder te maak. Dis ’n paar goedjies wat haar ma s’n was.
Toe ek later die swaar boks oopmaak, het ek onmiddellik geweet waaroor hierdie uitgawe van Boerekos moes gaan. Want binne-in was alles wat my nostalgiese hart roer. Kookboekjuwele: ’n Eksemplaar van Renata Coetzee se Spys en Drank, ’n kosbare eerste druk van S.J.A. de Villiers se Kook en Geniet, Peter Veldsman se Eet saam met Leipoldt en ’n 1938-eksemplaar van Kos en Kookkuns, die destydse Departement van Landbou en Bosbou se gids vir die Suid-Afrikaanse huisvrou.
Onder die boeke ’n stapel handgeborduurde tafeldoeke en servette wat haar ma self gemaak het. En in ’n lap toegewikkel ’n pragtige Maddock-vleisbord en -sousbeker wat sekerlik stories van baie Sondagmiddagetes kan vertel. Ek was in vervoering.
Maar nog ’n groter geskenk sou binne die boeke wag. Natuurlik is die gedrukte inhoud spesiaal. Dis immers die werk van legendariese skrywers wat ek bewonder; mense wat bydraes van onskatbare waarde tot ons koskultuur gelewer het. Maar daar was meer as dit. Met die oopslaan van die eerste boek het daar ’n paar vergeelde papiertjies op my skoot geval. “Tant Trynie se rolkoek” staan op die een in netjiese, vloeiende handskrif. Op die keersy ’n resep vir “E. de Bruyn se Kweperlekkers”. Tussen die boekblaaie kry ek nog papiertjies met handgeskrewe resepte vir bola, “Lekkerbek koekies”, “Curried Fish”, “Warm teekoek (Fien se resep)” en “Growwe botterbroodjies”. Op die boeke se skudblaaie en op die stukkies oop spasie tussen die gedrukte teks is nog resepte neergepen, elk met krediet aan die bron (in dieselfde netjiese handskrif) tussen hakies langsaan.
Dit was soos om in hierdie familie se kombuis ingenooi te word, saam met hulle aan tafel te sit en hul gunstelingkos te proe.
Resepte het ’n manier om herinneringe los te torring. En skielik sien ek weer my ma met haar oop swart oefenboek in ons kombuis staan, die telefoon tussen haar linkerskouer en oor vasgeknyp, besig om ’n resep neer te skryf wat (ek raai) ’n VLV-vriendin besig is om vir haar te lees. Die tan- nie se naam sou agterna langsaan geskryf word en dikwels ook kommentaar, soos “baie lekker!” of “te sout”, wanneer sy die resep beproef het.
Die kos waarop jy en jou familie grootgemaak is, is jul onthoukos; jul eie erfkos. Dit hoef nie kultuurhistoriese kosskatte te wees nie. Dis daardie skaapnek uit die Aga wat jou pa altyd met sy knipmes by die kombuistafel gesit en afeet het, die veerligte pannekoeke waarvan jou ma die resep uit haar kop geken het, soetkoekies wat proe soos ’n ouma se liefde. ’n Familieresep vertel ’n storie. Dis stories wat gekoester en oorvertel moet word aan kinders en kleinkinders sodat dit deel bly van jul familie. Só hou ons kosbare tradisies aan die lewe.
Ek hoop jy lees iets op die blaaie van hierdie uitgawe raak wat jou die mengbakke laat nader trek of sommer net ver laat terugverlang en iets moois laat onthou. Skryf vir ons en vertel van jóú onthoukos.
Tot ons weer gesels in Mei 2018, wanneer ons 12de uitgawe op die rakke sal wees, lekker kosmaak!
ARINA DU PLESSIS KOSREDAKTEUR aduplessis@landbou.com