Lensiesop met beesskenkel
400 g beesskenkels 45 ml olie 2 uie, gekap 10 ml kerriepoeier 1,75 liter beesvleisaftreksel 4 groot, ryp tamaties, geskil en gerasper 30 ml tamatiepesto of -pasta 10 ml suiker 250 g rooi lensies Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Braai die vleis in die olie bruin en skep op ’n bord uit. Braai die uie in dieselfde kastrol tot sag. Voeg die kerriepoeier by en braai vir 30 sekondes. Voeg die aftreksel, tamaties, tamatiepesto, suiker, lensies en bruingebraaide vleis by en verhit tot kookpunt. Prut vir sowat 2 uur baie stadig oor lae hitte. Geur na smaak en voeg ’n hand vol vars koljander by. Roer deur en skep in warm bakkies. Drup ’n bietjie olyfolie oor en rond af met ekstra vars koljander. Lewer 4-6 porsies. ONS LIEFDE VIR VLEIS
Suid-Afrikaners se lus vir vleis is onblusbaar. Jy kan (en ons het al) ’n hele uitgawe aan ons tradisionele vleisgeregte wy. Vir die doel van hierdie afdeling gaan ek dus net bolangs skryf oor ’n paar van die ikone. In die Vleisafdeling op bl. 36 is daar heelwat lekker resepte, asook raad oor hoe om met elke snit van ’n bees-, skaap-, vark- of hoenderkarkas te werk.
In die beginjare was daar ’n tekort aan vars vleis aan die Kaap. Kleinvee het gevrek, is gesteel of deur roofdiere opgevreet. Hoewel groot- en kleinwild volop was aan die Kaap, was die Hollanders swak jagters en die lomp vuurwapens van daardie tyd het jag nóg moeiliker gemaak. Vleisbronne wat volop en maklik bekombaar was, soos dassies, pikkewyne en selfs seemeeue, is op die tafels aangetref. Van Riebeeck was liries oor dassievleis en het dit beskryf as van die lekkerste vleis wat hy al geëet het, selfs beter as speenvark of lam. Die vleisskaarsste het waarskynlik ook daartoe bygedra dat ons ’n nasie van afval-eters geword het. Elke eetbare stukkie van ’n karkas is benut.
Hierdie vleisnood was egter iets van die verlede teen die tyd dat Van Riebeeck die Kaap tien jaar later verlaat het. Vleis was toe reeds ’n onontbeerlike deel van die eetkultuur aan die Kaap.