Ouma se bobotie
2 dik snye bruinbrood, korsies afgesny 125 ml melk 45 ml olie 1 ui, fyn gekap 1 groot wortel, fyn gerasper 30 ml matige kerriepoeier 1 kg beesmaalvleis 10 ml borrie 30 ml appelkooskonfyt 60 ml heel amandels, gerooster en fyn gekap 60 ml pitlose rosyne 30 ml vars suurlemoensap Sout en vars gemaalde swartpeper
Bolaag 180 ml melk 3 eiers, geklits Lourierblare
Voorverhit die oond tot 180 °C. Week die brood in die melk. Verhit die olie in ’n kastrol en braai die ui, wortel en die helfte van die kerriepoeier daarin oor lae hitte tot die ui sag is. Voeg die maalvleis by en braai tot dit gaar is. Voeg nou die ander helfte van die kerriepoeier saam met die borrie, konfyt, amandels, rosyne en suurlemoensap, asook sout en peper na smaak, by. Roer goed en verhit tot kookpunt. Prut liggies vir ongeveer 10 minute. Voeg die brood en weekvloeistof by. Skep die bobotiemengsel in ’n gesmeerde oondbak en maak dit gelyk met die agterkant van ’n lepel. Klits die melk en eiers, geur na smaak en giet dit oor die vleis. Druk lourierblare in die vleis. Bak vir ongeveer 35 minute tot goudbruin. Lewer 6-8 porsies.