Vetkoek
Onthou om vetkoek nie in té warm olie te braai nie. Die deeg binne-in het tyd nodig om gaar te word sonder dat die buitekant brand.
500 ml witbroodmeel 500 ml koekmeel 10 ml sout 1 pakkie (10 g) kitssuurdeeg 15 ml suiker 315-375 ml warm water Olie, vir diepbraai
Meng die meel, sout, suurdeeg en suiker in ’n groot bak. Voeg die water bietjie vir bietjie by en meng goed. Knie die deeg vir minstens 10 minute op ’n meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties. Smeer ’n groot bak met olie en sit die deeg daarin. Smeer ook ’n bietjie olie oor die deeg en bedek losweg met ’n klam teedoek of kleefplastiek. Laat die deeg op ’n louwarm plek rys tot dubbel die volume. Knie die deeg af. Rol dit in ’n lang ovaalvorm en verdeel in 8-12 vetkoeke. Plaas die vetkoeke op ’n gesmeerde bakplaat of skinkbord en laat weer vir sowat 30 minute rys. Verhit genoeg olie in ’n kastrol tot matig warm en braai ’n paar vetkoeke op ’n slag. Draai om wanneer die een kant begin verbruin. Verlaag die olie se temperatuur en draai die vetkoeke nou en dan om. Braai tot deurgaar. Lewer 8-12 vetkoeke. NAGEREG Gestolde melkpoedings (soos blancmange en melkjellie), ryspoeding, sagopoeding, doekpoeding en broodpoeding word al in vroeë resepmanuskripte aangetref. Droëvrugte, veral rosyne en korente, is algemeen in nageregte gebruik. Fyner soetgoed en nageregte, soos oblietjies, makrolletjies, meringue, chouxdeeg en drywende eilande, is erflatings van die Franse Hugenote. Om ’n gestolde nagereg te maak, was ’n storie. Gelatien is eers in die 19de eeu aan die Kaap gebruik. Voor dit is beespote vir ure aaneen in water gekook. Die vloeistof is deur ’n doek gesyg en weer gekook tot gekonsentreerd. Suiker is dan daarin opgelos voor die res van die bestanddele daarby geroer is en dit in ’n poedingvorm gegiet is om te stol. Harde werk!
Pannekoek was gewild in Nederland sowel as in Frankryk en staan dus met albei voete stewig in ons koskultuur geplant. Ons reëndagpannekoek met kaneelsuiker is meer Nederlands, terwyl papierdun, klein nageregpannekoek wat met ’n sous voorgesit word, van Franse afkoms is.
Ander ikoniese soetgoed, soos melktert en koeksisters, was ook van die begin af deel van die lekkernye wat aan die Kaap gemaak is. Die Europeërs was uitstekende bakkers, en toe daar eers genoeg graan vir meel aan die Kaap verbou is en eiers en botter nie meer so skaars was nie, was daar geen keer nie. Lees vanaf bl. 91 hoe hierdie boerekostreffers ontwikkel het tot die trots Suid-Afrikaanse teetafeltreffers wat dit vandag is. Hertzoggies het eers baie later tot die toneel toegetree, en dít nogal vanweë die politiek. Lees die storie agter dié koekies op bl. 93.