Drywende eilande
Crème anglaise (eiervla) 4 eiergele 125 ml strooisuiker 7 ml mielieblom 500 ml volroommelk 5 ml vanielje-ekstrak (of –geursel)
Karamel 375 ml suiker 125 ml water 60 ml water, ekstra 5 ml vanielje-ekstrak (of –geursel)
Eilande 4 eierwitte 200 ml strooisuiker 150 ml melk 375 ml water
125 ml gekapte neutebroslekker, om oor te sprinkel
Vir die eiervla: Klits die eiergeel en strooisuiker saam tot liggeel. Voeg die mielieblom by en klits deur. Voeg 50 ml van die melk by die eiermengsel en klits deur. Verhit die res van die melk tot net onder kookpunt. Voeg die helfte daarvan by die eiermengsel en roer goed. Giet alles terug in die kastrol en verhit stadig oor lae hitte tot die vla net dik genoeg is om die agterkant van ’n lepel te bedek. Verwyder van die hitte en hou eenkant. Vir die karamel: Verhit die suiker en 125 ml water saam tot die suiker alles opgelos is. Verhit tot kookpunt en laat borrel tot ’n ligte karamelkleur. Voeg die water en vanielje-ekstrak by (versigtig, dit sal woes begin kook en borrel). Verhit weer tot kookpunt, terwyl aanhoudend geroer word, en laat prut vir ’n paar minute. Hou eenkant. Vir die eilande: Klits die eierwitte in ’n skoon glas- of metaalbak tot stywe punte vorm. Voeg die strooisuiker lepel vir lepel by en hou aan klits tot die meringue blinkwit en dik is. Verhit die melk en water saam in ’n groot, diep pan tot kookpunt. Skep groot eetlepels vol van die meringue in die kokende melk-en-watermengsel. Kook vir sowat 30 sekondes aan die een kant, draai om en kook vir nog 30 sekondes aan die ander kant. Die meringue gaan heelwat groter word soos dit kook. Lig uit met ’n gaatjieslepel en dreineer op ’n fyn draadrak. Herhaal die proses met die res van die meringue. Om voor te sit: Skep ’n lagie crème anglaise (eiervla) in poedingbakkies. Skep ’n meringue-eiland of twee op die vla. Drup ’n eetlepel van die karamel oor en rond die poeding af deur ’n bietjie gekapte neutebroslekker oor te sprinkel. Sit dadelik voor. Lewer 10-12 porsies