RESEPTE Annatjie se vrugtekoek
Hierdie tradisionele, ryk vrugtekoek is ’n resep wat sy al jare lank bak, vertel Annatjie.
250 g vye (gedroog of ingemaak), gesnipper 450 g pitlose rosyne 250 g sultanas 250 g rooi en groen glanskersies 250 g ontpitte dadels, gesnipper 200 g versuikerde lemoenskil, fyn gesnipper 200 g verglansde vrugte, gesnipper 200 ml brandewyn 600 g koekmeel 7 ml sout 7 ml koeksoda 10 ml fyn kaneel 10 ml gemmer 5 ml fyn naeltjies 5 ml neutmuskaat 200 g neute van jou keuse, fyn gekap (opsioneel) 450 g sagte botter of margarien 450 g sagte bruinsuiker 8 ekstragroot eiers, teen kamertemperatuur 50 ml kakao, opgelos in ’n bietjie warm water 50 ml gladde appelkooskonfyt
Dag 1: Meng die vrugte en giet die brandewyn oor. Bedek en laat die vrugte oornag in die brandewyn staan. Dag 2: Voorverhit die oond tot 150 °C en voer die boom en kante van ’n gesmeerde koekpan van 23 cm met hoë kante (ongeveer 15 cm) met drie lae bakpapier uit. Sif die meel, sout, koeksoda en speserye saam en voeg die neute by. Hou eenkant. Verroom die botter en bruinsuiker baie goed en klits die eiers een vir een by. Klits goed ná elke byvoeging. Roer die kakaomengsel en appelkooskonfyt by en voeg die droë bestanddele by. Meng liggies en roer die vrugte in brandewyn by tot ’n goed gemengde, stywe beslag vorm. Skep die beslag in die voorbereide pan en smeer gelyk. Bak vir ongeveer 4 uur of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat die koek in die pan afkoel. Klam met ’n sopie of twee brandewyn aan voor die koek in foelie toegedraai en in ’n lugdigte houer gebêre word om ryp te word. Lewer 1 groot vrugtekoek.