’n Stroperige storie
Dit is danksy twee Hollandse resepte en ’n goeie skeut verwarring dat goue, stroop deurdrenkte deegvlegsels deel van ons koskultuur is. En ook nie net ’n deel daarvan nie. In ’n onlangse meningspeiling het Landbou Boerekos se lesers onomwonde verklaar dat koeksisters die kroon as die voorste boerekos-lekkerny behoort te dra.
Koeksisters het in die 17de eeu aan die Kaap ontstaan deur die vermenging van twee Hollandse resepte: Een vir oliebolle (wat ook oliekoek of bolle genoem is) en een vir krullers (wat uit ’n pastadeeg berei en gedraai is).
Kaapse kokke het in ’n stadium begin om olieboldeeg te vleg soos soms met krullers se deeg gedoen is. Dit het mense só verwar dat hulle later nie meer geweet wat die regte naam vir hul gebak was nie. Die benaming koeksister het eers teen die middel van die twintigste eeu sy verskyning gemaak.
H.W. Claassens skryf in haar boek Die geskiedenis van Boerekos, 1652-1806 dat in vroeë resepte vir bolle, krullers en koeksisters in sommige gevalle presies dieselfde deeg gebruik is, maar dat sekere weergawes in ’n gesmelte suikerstroop gedompel en ander weer in suiker gerol is.
In Kos en Kookkuns (in 1938 uitgegee deur die Unie van Suid-Afrika se Departement van Landbou en Bosbou) sowel as in E.J. Dijkman se Di Suid-Afrikaanse Kook-, Koek- en Resepteboek (1891) is daar resepte vir oliebolle met kaneelsuiker en vir sprits (basies gegeurde chouxdeeg wat in diep vet gebraai word). Daar verskyn egter in geen van dié boeke ’n resep wat herinner aan koeksisters wat ons ken nie.
Hildagonda Duckett en S. van H. Tulleken skryf wel daaroor in hul boeke. In Tulleken se Die praktiese kookboek vir SuidAfrika (1937) gee sy ’n resep vir koeksisters. Die deeg word egter nie gedraai of gevleg nie, maar in bolletjies gerol. Tog skryf sy dat die gaar deegbolletjies deur stroop deurtrek moet word.
Toe S.J.A de Villiers in 1951 haar treffer, Kook en Geniet, die lig laat sien het, het haar resep vir koeksisters as die eerste verwysing vir talle Suid-Afrikaanse kokke gedien. Sy het haar koeksisterstroop met vars gemmer en pypkaneel gegeur. Die deeg stem tot op die letter ooreen met die weergawe wat ons vandag bak.