Oumas wat herinneringe inkleur
Van sy kleintyd saam met sy oumas het hy die mooiste herinneringe, skryf Landbouweekblad se kosblogger, die sjef en Karooboer JAY OELOFSE. En die eetgoed wat hulle vir hom gemaak het as kind, bly vandag nog sy hartskos.
OUMA RETHA
Margaretha Isabella Van Tonder (75) is op 30 September 1942 in Jansenville gebore. Haar ouers, Lena en Hannes van Tonder (my ouma- en oupagrootjie), het op die plaas Moederzoonskraal in die omgewing vanWaterford geboer.
My pa se suster Elna, wat toevallig ook ’n sjef is, soos ek, vertel my dat Moederzoonskraal ’n baie groot plaas was, maar nie besonder vrugbbaar nie. Oupagrootjie Hannes het egter groen vingers gehad en het ’n groot tuin gehad waarin alles gegroei het.
Die plaas was byna heeltemal selfversorgend. Slegs die stapelprodukte, soos meel, suiker en sout, is gekoop. Haar pa se tuin het in die groente- en vrugtebehoeftes voorsien. Daar was nie yskaste nie en kos moes op slim maniere gepreserveer word. Moederzoons- kraal se huis het ’n solder gehad, en dit was die ideale koel en donker bêreplek. Hoendereiers is met vet gesmeer om die suurstof uit te hou. Sodoende kon dit maande lank vars bly. In die winter is lemoene (met takkies nog aan die vrugte vas ) gepluk en dan in sand op die solder opgeberg. In die somer is daar dan heerlik lemoene geëet.
Vrugte is gedroog en in lapslope gebêre, konfyt is gekook en kwepers is ingemaak. Daar is selfs mampoer gestook van lemoene en ander vrugte. Oumagrootjie het graag vir ouma Retha-hulle vertel hoe daar ’n onderwyser by hulle geloseer het wat likeur kon maak en van die pret daarvan om alles te kon proe.
Daar was ook ’n katoenboompie op die plaas waarvan die “katoen” uitgepluis en gebruik is.
Die vark- en skaapboerdery het die vleis verskaf, en natuurlik was daar ’n melkkoei of twee. Oumagrootjie het later jare ’n kontak by die Cadbury’s-sjokoladefabriek gekry. Die sjokolade- sweepings is in sakke plaas toe gebring en oupa Hannes se varke het heerlik aan sjokolade gesmul.
Grysbokkies en duikers was volop en wildsbokkies is vir die pot geskiet. Biltong is gemaak en fyn pasteivleis is van die bokkies se vleis gekook.
Oupagrootjie het groente op naburige dorpe verkoop. Ouma Retha kan nog onthou hoe hy een dag op Somerset-Oos gaan groente verkoop en die aand ’n egte, wit bakkersbrood huis toe gebring het. Dit was die eerste keer dat hulle ’n brood uit ’n bakkery geproe het. Hul brood was altyd tuisgemaak.
Ek weet nie hoe baie waarheid in my kop woel as ek terugdink aan my voorskoolse gedagtes nie. Is dit prentjies wat ek regtig kan onthou, of is dit die stories wat aan my vertel is en ek self verder ingekleur het? Ek wil neig na “dit is soos ek die saak onthou”, want ek ruik nog die perculator- koffie in my ouma en oupa se huis en proe die melktertvulsel wat ek uit die bakke gelek het.
Ouma Retha is met oupa Boertjie getroud en hulle het op die plaas Blaauwkrantz in distrik Jansenville gaan bly. Daar het die kostradisies van Moederzoonskraal aangegaan. Oupa Boertjie was ’n joviale man wat gehou het van mense onthaal en daar was altyd kuiermense in hul huis.
Daar was ’n klompie melkkoeie en Floors het elke oggend die koeie gemelk. In ouma se yskas was daar altyd ’n mengbak vol dik room. Nadat ’n paar dae se room versamel
‘Ek het altyd vir ouma probeer namaak as sy daardie skaapnek met soveel genot afkerf en stukkie vir stukkie met die mosterd eet.’
is, is daar botter gemaak. Die karringmelk is afgegooi, want daarvan is beskuit gebak. Dan is die botter gesout en daai watertjies wat uitgekom het, weggegooi. Die houtvormblokkie met die goue skaniertjies is uitgehaal en die botter daarin gevorm. Een pond goudgeel botter, klaar.
Elke jaar was daar dokters van Port Elizabeth wat op die plaas kom jag het. Een van hul gunstelinge was ouma se vars gebakte brood, plaasbotter en tuisgemaakte perskekonfyt. Een jaar was dit verskriklik droog en daar was geen groenvoer vir die beeste nie. Die gevolg was dat die botter daardie jaar spierwit was. Ouma het agtergekom dat die jagters nie daardie jaar baie botter eet nie. Hulle dog toe al die tyd dis uitgebraaide vet, want hulle verstaan nie die wit botter nie.
Ek hoor nog die slingertelefoon vroegoggend lui (2231 – drie kortes en ’n lange), dan hardloop ek om te gaan antwoord, want ek weet dit is my pa wat bel om die dag se werk met oupa Boertjie te bespreek.
My pa het twee dae terug hier op my oupa se plaas klaar geskeer en is vandag weer op pad om die bokhaarbale klaar te pers. Vandag moet ek huis toe gaan. Dis bittersoet, want weer het die kabouters wat my ouma daagliks in die tuin sien, my ontglip . . . Die kabouter-ma wat onder die bruggie by die droë fontein bly, gee glo daagliks vir my ouma die spyskaart. Ek mis dit elke keer as ek my besig hou met iets anders, soos kettie skiet, babers in die riviergate vang of om papies te probeer uitlok. “Molletjie, molletjie, kom, ek het vir jou lekker botter en brood” het die rympie altyd gegaan terwyl ek met ’n dun stokkie in ’n versigtige sirkel in die grond se ronde kraters gekrap het.
Daar was daagliks groente op die kabouters se spyskaart. Al hoe ek hulle eendag gaan ontmoet, is as ek dieselfde kos as hulle eet, het ouma Retha my vertel. Dis hoe sy my geleer het om groente te eet. Ons praat nou nog daarvan as kabouterkos.
Toe ek laerskool toe is, het my ouma skielik vreeslik begin bak. Mense van die distrik het gedurig vir fyngebak gevra. Dankie tog daarvoor, want toe maak ouma ’n tuisnywerheid op Jansenville oop. Ons fietsbende in stan- derd 3 was groot eters en baie stout. Ons is so af en toe by die tuisnywerheid met ’n soetigheid bederf, maar dit was nie altyd vir ons genoeg nie en toe moes ons self plan maak . . . Ek is jammer dat Ouma nou op hierdie manier moet uitvind, maar dit was ons wat in jou huis ingebreek het en vir ons spookasem gedraai het tot ons naar geraak het. Dit het meer as een keer gebeur en ek het geweet ons moes nie voor die basaar jou spookasemsuiker opgebruik nie, maar dit was Johan Gerber (dominee se seun) se idee. My suster Mandre was ook by!
Tussen my bende bedrywighede en boomhuisbouery het ouma darem altyd tyd gehad vir my. Soos toe ek my eerste meisie tuisnywerheid toe gebring het vir ’n “ouma special” (gratis milkshake). Ek was darem nie so swaar op die melkskommels nie, want die verhouding het nie baie lank gehou nie. Hoe kon dit? Ons was te skaam om met mekaar te praat en my spelling en skrif in my kysbriefies was seker my ondergang.
Toe ek 11 was, het my pa my geneem om my eerste koedoe te gaan skiet. Dit was ’n groot dag en iets wat elke seun moet doen wanneer die tyd reg is. Ek onthou daardie gevoel van trots en adrenalien gemeng met die reuk van buskruit. Daardie oomblik sal ek vir altyd onthou, daardie sekondes wat dit voel of jy nou die hoogtepunt van jou lewe bereik het.
Nadat ek ’n volwaardige jagter geword het, het ek geweet die KTV-markdag vir jong entrepreneurs in Port Elizabeth is om die draai. En ek as ’n “jagter” was doodseker dat ouma Retha se alombekende kerriesosaties waaraan al die jagters so weglê op die plaas, sal loop soos spookasem op ’n kerkbasaar. Ek moes smeek en bedel vir die resep. Uiteindelik het ons ’n kompromie bereik dat ouma die sous sal maak en ek die sosaties sal ryg, maar ek mag nie in daardie stadium die resep gekry het nie. Sjoe, dis al 20 jaar later en nou het almal sommer die resep!
Ouma het altyd’ n rietmandjie met’ n blouen-wit blommetjies oortreksel saam met haar gedra. In die mandjie was ’n fles tee, ’n fles louwarm melk en daardie klein boksies sap wat soos ’n klapper skiet as jy hom reg opblaas en op hom trap. Ouma het later die boksies stukkend gesny voor sy dit weggegooi het, want haar hart kon dit nie meer hou nie. Ook in die mandjie was daar Provitas en ’n soutpunt wat styf met foelie toegedraai was. Gewoonlik was daar ’n heel skaapnek of ’n stuk boud wat ons afgekerf en met ouma se soetsuur mosterd geëet het. My pa sê altyd nie eens die honde wil ouma se vleisbene hê as sy daarmee klaar is nie.
Ek het altyd vir ouma probeer namaak as sy daardie skaapnek met soveel genot afkerf
en stukkie vir stukkie met die mosterd eet. Soveel so dat ek vandag nog op lui Sondae ’n nek vir my en een vir my vrou, Helette, moet maak. ’n Mens kan nie ’n skaapnek deel nie.
Almal dink hul ouma se resepte is lekker, maar hieronder is my ouma Retha se resepte. Dit vertel ’n storie van waar ons was, waar ek is en waarheen dié kosreis ons nog gaan neem. Dankie vir my wonderlike herinneringe, Ouma.
Liefde, die Rusper.
30 ml asyn (bruin vir ’n donkerder mosterd of wit vir ’n ligte mosterd) 1 eier, geklits 15 ml botter
Skaapnek: Druk met ’n skerp, dun mes sowat 10 gaatjies oral in die skaapnek en stop dit met knoffel, kappertjiesaad en roosmaryn. Smeer die nek met olyfolie, geur met sout en peper sit dit in ’n oondbak. Bedek liggies met foelie en bak teen 140 °C vir sowat 3 uur. Haal die nek uit en stel die oond op sy hoogste temperatuur. Haal die foelie af en plaas die nek terug in die oond. Oondrooster tot die vet lekker goudbruin en bros gebraai is. Mosterd: Meng die mosterdpoeier, suiker en kookwater saam. Klits die asyn en eier goed saam en voeg dit by die mosterdmengsel in ’n hittebestande mengbak. Sit die bak op ’n kastrol met water wat liggies prut en verhit, terwyl geroer word, tot die mosterd verdik is. Klop dan die botter by. Laat die sous afkoel en plaas in ’n lugdigte, seëlbare bottel. Die sous kan baie lank in die yskas hou, maar ek gee jou ’n week, dan is dit op! Lewer 125 ml mosterd.
OUMA PETRA
Soos baie dames van haar era het my ouma Petra Rademeyer (82) ’n ellelange lys doopname, maar ek is verbied om hulle hier op te noem, nes ek verbied is om te sê hoeveel kinders hulle was. Ouma het wel genoem dat haar pa, Isias Albert Koen, ’n groot, sterk en streng boer was en haar ma, Johanna Elizabeth Stander, ’n mooi, jong nooi was.
Toe ek vanoggend oor koffie met haar daaroor praat, het sy my gesê ek moet onthou daar was nie voorbehoedmiddels daardie tyd nie en sommer bygevoeg dat sy nie tevrede is met net een agterkleinkind nie.
Ouma Petra en oupa Manie het albei vir die spoorweë en lugdiens gewerk. Dit het hulle van Durban tot Kaapstad en uiteindelik na George geneem. Twintig jaar gelede het hulle Jansenville toe getrek na die buurplaas sowat 5 km van ons af.
Van my vroegste herinneringe is waar ek in die agterkamer in ouma se “handwerken-wolsentrum” in George speel en sy my geleer het hoe om te vleg en tolletjie te brei. Die lekkerste was die soet bederfies
‘My gunsteling was die piesangpannekoeke met suurlemoenstroop, haar pampoenkoekies met kaneelsuiker en tuisgemaakte vla op daardie reënerige George dae. Ek onthou die reën en nattigheid goed, want ek het dit selde gesien in die Karoo waar ek grootgeword het.’
wat ouma my smiddae gegee het as die rooimiere begin pla, want dit was sekerlik nie makli kom’ n plaaskind indies t ad besig te hou nie. My gunsteling was die piesang pannekoeke met suurlemoenstroop, haar pampoenkoekies met kaneelsuiker en tuisgemaakte vla op daardie reënerige George-dae. Ek onthou die reën en nattigheid goed, want ek het dit selde gesien in die Karoo, waar ek grootgeword het.
Elke keer as ouma en oupa vir ons op die plaas kom kuier het, was daar sekere instellings. Elke oggend kon ons vir hulle koffie in die bed neem in ruil vir koekies vir ontbyt. Daarvan het ek gehou. Met elke keer se kuier het ouma my ma weer geleer hoe om daardie lekker, soet bobotie met die klapperskaafsels te maak. Daarvan het ek ook gehou.
Maar wat ek verpes het, was ouma se omkopery. Ek is amper seker my ouers het nie daarvan geweet nie. Ek sal hulle moet vra. Ouma glo vas aan die genesende kragte van Engelse sout. Ek dink nie Engelse sout of koffie was vir voorskoolse kinders bedoel nie. Tog ek het elke keer die R2 by ouma gevat en geweet hierdie koppie swart koffie wat ek nou moet drink, proe snaaks. En ek het ook geweet dat ek nie te ver van die huis af moes speel nadat ek dit gedrink het nie.
Die beste tye van ons kinderjare was om vir ouma te gaan kuier wanneer dit tyd was vir George se skou. Ouma is ’n statige vrou en was vir ’n paar jaar George se skouvoorsitter. Nou, as jy die skouvoorsitter se kleinkind is, het jy basies ’n goue kaartjie gehad en kon oral ingaan. Ek het wel een jaar daar in die moeilikheid beland toe ek ’n draai gaan loop het op die lang gras langs die hoofsaal (gras was vir my bekend as bokkos en jy kon maar ’n draai gaan loop as jy moes.)
Hoërskool was lekker en die koshuis nog lekkerder. So nou en dan het dinge egter nie verloop soos dit moet nie. Dan het ek by oupa afgepak oor ’n girl of ’n moeilike eksamenvraestel of die rugbywedstryd wat nie regverdig geblaas is nie. Hy was ’n baie rustige man en het altyd aandagtig geluister, terwyl hy aan sy skemerwhiskey geteug het. Deesdae kla ek by ouma oor die droogte, swak pryse en roofdiere, terwyl ek aan my skemerwhiskey teug.
Een ding wat deur die jare dieselfde gebly het, is ouma se Marmitetert wat amper elke naweek van my skooldae tot nou toe by die deur afgegee word vir bederf.
Ouma Petra is ’n trotse, netjiese, hardwerkende vrou. Altyd geklee in haar beste. ’n Bobaastuinier en meesterkwiltster wat al vir ál sewe haar klein kinders ’n kwilt met die hand gemaak het (twee van daardie kwilts het haar ’n eerste en tweede plek by die nasionale kwiltfees besorg). Sy hou my kaste vol van die lekkerste konfyt, ingemaakte groenvye en blikke vol van haar bruinbeskuit.
Dankie vir al die mooi herinneringe en dat ons die afgelope tyd weer kon remenisce en lag daaroor. Dankie vir die goeie rolmodel wat ouma vir ons en vir jou agterkleindogter is. Sy is so bevoorreg om elke dag met jou te kan speel.
Liefde, Jay.