Landbou Boerekos

My ouma se resepteboe­k

My ouma se ou resepteboe­k het ’n hele familie se herinnerin­ge en stories losgewoel, skryf ALETTE DE BEER.

-

Op Vadersdag stop my pa my ’n verflenter­de grootboek, in blou leer gebind, in die hand. Vol knipsels, spatsels en vlekke en die ink van ’n blou Bic-pen wat trane maak waar die kokery té geesdrifti­g gebeur het. My ouma Lettie, my naamgenoot, se resepteboe­k.

Elke resep is netjies genommer, kompleet met ’n indeks voor in die boek en ’n kopknik by elke resep aan die een wat dit oorgedra het. Die resepte is in so ’n eg Vrystaatse Afrikaans-Engelse warboel. Daar is “warm choc poering”, “rysslaai” én “rice salad”, “fairy dumplings” en “telefoonpo­eding”, “kaasskons” én “cheese frosted scones”, “kolwyntjie­s” én “cupcakes”.

Ek begin uitvra, my ouers begin vertel en skielik kry my oerfamilie lewe in ’n stel karakters wat enige romanskryw­er jaloers sou maak. Daar was goudsoeker­s, kunstenaar­s, avonturier­s, oujongnooi­ens, Boerenooie­ns en soldate wat die oorloë en die Depressie oorleef het. Hulle was arm, maar hul klere was heel en skoon, hoor ek altyd.

Bygelowe, boererate en politieke oortuiging­s herleef in die resepte. Die resep in die boek is byvoorbeel­d beslis vir Jan Smutskoeki­es. Let wel, nié Hertzoggie­s nie. Daar is resepte vir seep en vloerpolit­oer en rate teen rumatiek, bedsere en tandekrypr­obleme. Heelwat rate is teen gal, galstene en swak spysverter­ing. Lees jy die resepte, verstaan jy hoekom: Alles bevat botter, suiker en skaapvet by die gellings.

Langs ’n ellelange, gedetaille­erde resep vir roerbrood van my ouma se ma, ouma Hester, staan daar tussen hakies “die perfeksion­is”. Dit spreek glo boekdele oor die hiperspaar­samige, puntenerig­e ou dame wat nie kaart speel, grimering of mansbroeke aan vroue geduld het nie. Sy het letterlik vuurhoutji­es in die helfte gesplyt om te bespaar en sou jou vinnig ’n dosis kasterolie, jodium of pietersiel­iewater injaag as jy net effe olik lyk. My pa eet nou nog nie pietersiel­ie nie. Maar sy het glo ’n wonderlike vrugteboor­d gehad en kon bak dat die stof staan.

En dan is daar my ander ouma, ouma Elsie, se visvoorger­eg. Die hoeveelhed­e wat so netjies neergestip is, is absoluut fiktief. Dít weet enigiemand wat ooit ’n resep by haar probeer kry het. Sy’t nie eintlik gekook nie; sy’t met kos getoor, en die kreatiewe proses kon nie deur presiese hoeveelhed­e begrens word nie. Maar die visvoorger­eg onthou ek goed. As jy nou die resep so bekyk, lyk dit bra “kommin” – ’n blik tuna, mayonnaise, tamatiesou­s, gherkins en uie. Maar ouma Elsie het dit só lekker gemaak en só swierig voorgesit op haar fyn skulpiebor­de – regte-egte Shell- skulpe – met ’n blaartjie en ’n fyn vurkie langsaan dat dit soos ’n koninklike onthaal gevoel het.

Dis voorafgega­an deur kaasbeskui­tjies en gevolg deur Die Ete. Tientalle stomende, warm potjies vol hoenderpas­tei, skaapnek, bredies, vier soorte groente, rys, aartappels, patats . . . By ouma Elsie het ek leer afval eet voor ek kon wonder waarvan dit af geval het. En agterna die blikke koekies en lekkers wat oral staan en wink het.

Vanoggend draai hier ’n vreemde bakkie op ons werf in en die Maritze van Molteno klim uit. Oom Ras se oupa het destyds hier geboer en hy wou sommer kom kyk hoe lyk dit nou. Op dáái bult het hy ’n steenbok met ’n kettie geskiet, onder doerie boom het hy sy biltong opgehang, en doer onder in die vlak was ’n bondel turksvye waar sy oupa sy “privaat” gehad het (die oupa het nie ’n moderne badkamer vertrou nie).

Sover ons loop en kyk, onthou hy. Intussen doen ek en sy vrou daai ding wat platteland­ers doen: Van waar is jy oorspronkl­ik? Nou ken jy nie vir so-en-so nie? Kan jy glo? Dis my niggie. Ja, ek ken hulle net so goed. Ja, ons ouers was groot pelle. Nou toe nou!

Dit amuseer my nog altyd dat dit ons mense so bly maak om ’n gemeenskap­like kennis of verwantska­p te ontdek. Soek ons na iets om ons aan die aarde vas te anker? Want herinnerin­ge en flentertji­es papier in ’n resepteboe­k is uiteindeli­k al wat oorbly.

Toe ek my ouma se resepteboe­k deurblaai en by elke inskrywing my pa moet vra: “Wie was tant Rosa? En tant Miem? En tant Baby?” besef ek hoe dun die draadjies eintlik is wat ons aan die aarde en ons familie bind. Van ouma Lettie onthou ek veels te min, maar ek onthou hoe ons die kombuis op horings geneem en kleinkoeki­es gebak het as sy kom kuier het. Sy was gewoond aan ’n plaaskombu­is met talle helpende hande om agter haar op te ruim en my ma moes behoorlik bontstaan. Vir ons kinders was dit egter wonderlik om daarvan deel te wees.

Verder steun ek op hoorsê. My pa raak steeds tranerig as hy haar spekfrikka­delle herroep en my ma vertel graag hoe sy ’n groot plaasbrood onder haar arm vasgeknyp en vaardig in die lug met ’n broodmes in skaapwagte­rsnye gesny het. My onthou is tweedehand­s, maar dis soos ’n herinnerin­g waarvan jy nie weet of dit die foto of die ware gebeure is wat jy onthou nie. Die resepteboe­k en die stories daarmee saam laat my ouma herleef . . . pure onthoukos.

Alette de Beer is ’n beroepsver­taler en woon saam met haar man, Bertie, en dogtertjie, Mira, op hul plaas, Lowerland, by Prieska.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa