Boervrou in murg en been
Stilsit bestaan nie in Annatjie van der Merwe van Philipstown se woordeskat nie. Op 88 staan haar hande vir niks verkeerd nie.
Haar ouma Annatjie is 88 jaar jonk, vertel Bernice van der Merwe, spysenier en blomboer van Piketberg in die Wes-Kaap.
“Van stilsit is daar nie sprake nie, want daar is altyd iets wat nog gou ingemaak of gebak moet word. Sy doen dinge sommer so in die gesels. Jy dink nog jy proe ’n lepel marmelade wat sy vanoggend gekook het, dan moet jy alweer ’n foto van ’n potplant se blaar neem sodat ons dit kan Google en bestel!”
Só ken sy haar ouma van altyd af. Altyd bedrywig; altyd besig met kosmaak, tuinmaak of naaldwerk. En altyd reg vir ’n grappie.
KAROOKIND
Annatjie van der Walt is op 13 Januarie 1929 op Britstown in die Groot-Karoo gebore. Sy was een van vier kinders en pa Piet en ma Dinah se enigste dogter.
Van kleins af het sy haar ma in die kombuis gehelp en hand bygesit met die dagtake wat daardie jare op ’n plaaswerf verrig moes word.
“My ma was ’n uithaler-vleiswerker en ’n baie goeie boervrou. Sy het alles bewerk wat daar op die plaas was – vleis, groente, vrugte . . . Sy’t gekook vir funksies op die dorp. Sy het ingemaak en konfyt gemaak. Sy het ook seep gekook en klere gemaak. Ek het dit alles by haar geleer. Maar snaaks, my ma het min gebak. Ek het eers later jare lief geword vir bak,” dink Annatjie terug.
Toe sy sewe word, is sy na die klooster op De Aar gestuur om skool te gaan en van daar af Grahamstad toe vir haar hoërskoolloopbaan. Omdat kosmaak iets is waarin sy van kleins af belang gestel het, het sy ná skool huishoudkunde aan die Kaapse Technikon gaan studeer. “Maar net vir ’n jaar, want toe raak ek verloof. Ek het teruggegaan Philipstown toe, waar my verloofde geboer het.”
BOERDERY IS IN HAAR BLOED
Annatjie en Pietie van der Merwe is 1948 in die Karoo getroud. Sy was 19 jaar oud. “Oud vir daardie tyd!” lag sy.
Die Van der Merwes het op hul familieplaas Somerlus in die distrik gaan woon en die bloedjong boervrou was in haar element. Van kosmaak, inmaak en vleiswerk kon jy haar toe reeds niks meer leer nie.
“Die kinders lag deesdae as ek hulle vertel ons het elke Maandagaand skaap geslag. Maar dit was so! Daar was nie watwonderse koelhougeriewe nie en daar was baie mense op die plaas wat moes eet. Ons het ook baie gaste gekry. Die onderwysers van die dorp wat in die koshuis gebly het, was maar altyd
honger en het gereeld in die aand by ons kom eet. ’n Skaap is dus vinnig opgeëet. Sondagmiddag is dit hoender en die week se skaap se laaste boud, en Maandagaand slag ons weer.”
Tussen die kosmaak en vleiswerkery deur het sy ’n pragtuin op die plaas aangelê, hul vier kinders grootgemaak en almal se klere met die hand gemaak. Sy het ook met hoenders en kalkoene geboer.
“Verder was daar altyd ’n klomp hanslammers wat ek moes groot kry,” vertel Annatjie.
Pietie het met SA Vleismerino’s en Karakoele geboer, maar sy groot liefde was die resiesperde wat hy geteel het.
“Hy was ’n gerekende teler. Hy het pragtige perde geteel en dit dan in Johannesburg op die yearling sale verkoop. Dit was ’n duur stokperdjie, laat ek jou sê . . . die skape het eintlik vir die perde betaal!” vertel Annatjie.
Dit is ook op een van daardie veilings, tussen sy geliefde resiesperde, waar Pietie op vyftigjarige ouderdom aan ’ n hartaanval oorlede is. Hul jongste seun, Cecil, was maar nege jaar oud.
MA EN SEUN BOER VOORT
Dit was vir haar hartseer om Pietie se resiesperde te verkoop, maar daardie deel van die boerdery was te intensief en sy het nie kans gesien om daarmee aan te gaan nie.
Die lewe en die boerdery op Somerlus moes voortgaan en Annatjie het saam met haar oudste seun, Bernie, die skaapboerdery begin behartig. Die ander kinders was in die koshuis in die Paarl. Wanneer sy nie geboer of vleis bewerk het nie, het sy gebak – blikke koekies en beskuit vir haar koshuiskinders.
Soos voorheen is daar geslag, ingemaak en gekook en was daar altyd plek aan haar tafel vir gaste wat kom aansit het vir ete.
“Daar was nie ’n ding soos wors en tjops koop daardie tyd nie. Jy’t geëet wat jy op die plaas gehad het en wat jy self kon maak. Jy moes goed beplan. Ek moes sorg dat daar genoeg biltong, droëwors en droëvrugte gemaak word om ons te hou tot ons weer ’n bees kon slag of vars vrugte gehad het.”
Toe Bernie later met Hetta Erasmus trou, was daar weer ’n ywerige, jong boervrou op die plaas – net so ’n raakvatter soos haar skoonma – aan wie Annatjie haar kennis en vaardighede kon oordra.
’N OUMA WAT INSPIREER
Annatjie het later op Philipstown in ’n dorpshuis gaan woon.
“Ek het ’n groot Aga-stoof op die dorp gehad. Ek het daardie jare sommer my vrugtekoeke oornag in die Aga gebak,” vertel sy toe ek haar uitvra oor haar bakgeheime.
Die kinders en kleinkinders vertel juis van ’n spesifieke sponskoek wat sy al jare bak en waarmee niemand van hulle al ooit suksesvol was nie. “Ons almal het die resep, maar net sy kry dit reg dat die koek so hoog rys. Sy gebruik skaars ’n koppie meel, dan roerroer sy die beslag net so, en as jy die koek uit die oond haal, het dit hemelhoog gerys en is heerlik,” vertel Hetta.
Wat is haar geheim? wil ek weet. “Ek dink hulle is net te lui om die meel twee keer te sif,” sê sy saggies agter haar hand.
Annatjie het in haar vroeë tagtigs na ’n aftree-oord in Wellington verhuis. “Man, jy kan nie eintlik wat ek nou het, ’n kombuis noem nie. Dis sommer so ’n hoekie met ’n ou piepklein oondjie,” beduie sy.
“Maar ek geniet dit om nog om te bak en konfyt te kook. Ek kan nie net heeldag so sit nie,” sê sy en haal twee tamaai vrugtekoeke wat sy die vorige dag gebak het uit koekblikke.
Haar ouma is ’n inspirasie, sê Bernice, Hetta se dogter. “Wanneer sy praat oor haar jong dae in die Karoo en alles wat sy al gedoen het, hang ek aan haar lippe.
“Haar ander groot passie is reis. Sy was al oral. Sy het wraggies al na plekke soos Japan en Italië gereis voor baie mense geweet het waar dit is! Sy sit nie ’n oomblik stil nie en jy kan haar altyd deur ’n ring trek. En sy is vandag nog net so honger vir nuwe idees en uitdagings soos in haar goue jare op Somerlus.”
‘My ma was ’n uithaler-vleiswerker en ’n baie goeie boervrou. Sy het alles bewerk wat daar op die plaas was . . .’ — Annatjie van der Merwe