Landbou Boerekos

Skaap-en-groentepot

-

Die vleis in hierdie potjierese­p is ekstra geurig omdat dit vooraf gemarineer word.

Marinade 80 ml worcesters­ous 7 ml sojasous 60 ml rooiwynasy­n 30 ml olyfolie 5 ml vars gemaalde swartpeper 10 ml vars tiemie, fyn gekap 5 ml vars roosmaryn, fyn gekap

Potjie 1,2 kg stoweskaap­vleis, in stukkies gesaag

Olie, vir braai 2 groot uie, grof gekap 4 knoffelhui­sies, grof gekap 5 cm vars gemmer, fyn gerasper 5 ml gemaalde koljander 5 ml fyn komyn 5 ml paprika 625 ml vleisaftre­ksel 30 ml appelkoosk­onfyt 3 aartappels, geskil en in stukke gesny 3 groot wortels, in stukkies gesny 250 g knopiesamp­ioene 350 g broccoli, in stukke gesny Sout en vars gemaalde swartpeper

Meng ál die bestanddel­e vir die marinade saam en giet oor die vleis (in ’n nie-metaalbak). Bedek en verkoel vir 1-2 dae.

Skep die vleis uit die marinade, maar hou die marinade eenkant. Verhit ’n bietjie olie in ’n groot swartpot oor warm kole. Braai die vleis in lotte daarin bruin. Skep uit en hou eenkant. Braai die uie in dieselfde pot tot sag. Voeg die knoffel, gemmer, koljander, komyn en paprika by. Skep die vleis (en enige pansouse wat gevorm het) terug in die swartpot. Meng die aftreksel en appelkoosk­onfyt met die vleismarin­ade en voeg dit ook by die vleis in die swartpot. Verhit tot kookpunt, bedek en laat prut die pot stadig oor matige kole vir ongeveer 2 uur of tot die vleis sag is. Voeg die aartappels en wortels by, maar moenie roer nie. Bedek en laat prut vir 30 minute. Voeg nou die sampioene en broccoli by, bedek weer en laat prut vir nog 20-30 minute tot die groente sag, die vleis murgsag en die sous dik en geurig is. Geur na smaak met sout en peper en sit voor op rys. Lewer 8 porsies.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa