Die room van Afrika
Binne minder as 30 jaar het Amarula-roomlikeur, gemaak van maroelavrugte wat moeder natuur jaar ná jaar voorsien, ’n Suid-Afrikaanse ikoon geword. Dit gee romerige skop aan moerkoffie en bied fluweelsagte lafenis saam met ’n paar blokkies ys. Hoe ook al,
W anneer ’n soet, swaar reuk die warm somerslug teen Januarie begin vul, soek Afrika se olifante spontaan die naaste maroelabome om by die ryp, gesonde vruggies uit te kom.
Eeue lank was dit net die olifante en plaaslike mense (om byvoorbeeld bier te brou) wat die vrugte se waarde geken het. Dit het alles in die 1980’s verander toe dié vlesige vruggies met die groot, harde pitte die wêreldmark oorrompel het as die sterbestanddeel in Amarula, een van Suid-Afrika se bekendste drankies wat in ongeveer 100 lande verkoop word.
Nou staan Januarie en Februarie onder die locals in Limpopo bekend as “skoolgeld”maande, want dit is wanneer hulle die kans kry om maroelavrugte te versamel en aan Distell se verwerkingsaanleg in Phalaborwa, ’n plek wat ook bekend is as die Vallei van die Olifante, te lewer.
Die Amarula-storie het egter ’n lang aanloop, vertel die drankhandelaar-en-bemarker Robert Riedel, wat destyds hard gewerk het om Amarula na die buiteland te neem.
“Dit was eintlik ’n groot mislukking wat tot die uiteindelike enorme sukses van die han-
LINKS: Die soet geur van ryp maroelavrugte is soos ’n magneet vir olifante.
REGS: ’n Suid-Afrikaanse gunsteling. Amarula en ys smaak vorentoe, veral wanneer jy ’n sonsondergang het om daarmee saam te geniet. delsmerk gelei het.”
Alles het by die produkontwikkelaar Jack Thirion en miljoene maroelavrugte begin.
“Jack, ’n towenaar en kundige in die laboratorium, het met verskillende tipiese Afrika-vrugsoorte (soos die vrugte van die kremetartboom) geëksperimenteer op soek na ’n unieke smaak met die potensiaal om ’n alkoholiese drankie te skep. Só is Amarula Spirit gebore, ’n spiritus met 43%-alkohol, wat later verminder is na 40% en toe tot 36% om dit aangenamer te maak.”
Amarula Spirit het teen 1984 op die mark verskyn, maar het skouspelagtig misluk omdat dit so sleg gesmaak het. Kort daarna het
roomlikeur wêreldwyd hoogmode geraak en almal het geteug aan glasies gevul met Baileys of Cape Velvet.
“Die roomlikeur was eintlik (die sakeman) dr. (Anton) Rupert se idee. Hy het verskeie bekende produkte geskep en was ’n man om mee rekening te hou as dit by bemarking kom. Jack het toe Amarula Cream geskep met die oog daarop dat dit Distell, en selfs Suid-Afrika, se voorste alkoholiese drankie vir die uitvoermark word,” sê Robert.
Die betrokkenes het dadelik geweet hulle het ’n wenner beet. ’n Skouspelagtige bekendstellingsfunksie is in 1989 gereël om Amarula Cream se aankoms op die roomlikeurmark aan te kondig.
Danie Keet, redakteur van Eikestad Nuus, was destyds as skakelpersoon by die reëlings betrokke. In kommunikasie oor die bekendstelling is die kodenaam “Limpopo” gebruik om te keer dat die aap voortydig uit die mou gelaat word, vertel hy.
Amarula is die wêreld ingestuur by Mabula Lodge naby Bela-Bela en die destydse leefstylprogram Sundowner, aangebied deur Penny Smythe, het die geleentheid op televisie uitgesaai.
“Die olifanthanteerder Randall Moore het ’n olifant geleer om die venue binne te loop, ’n bottel met sy slurp op te tel en Amarula in ’n glas te skink,” onthou Danie.
WILD EN WONDERLIK
Die drankie, met sy bekende verpakking, was dadelik in tien Afrika-lande en Nederland beskikbaar. In Suid-Afrika was dit die onbetwiste koning van die roomlikeurs, met mededingers wat lelik op hul neus moes kyk sedert Amarula op die mark verskyn het.
Soos Robert sê: “Dit was die roomlikeur was Afrika se suksesverhaal sou word omdat alles daaraan so uniek was. Dit is gemaak van Afrika se wilde maroelavrugte en die produk se volronde, romerige smaak met die kenmerkende note van soet maroelavrugte, is goed aangevul deur ’n unieke bottelvorm met ’n handgevlegte tossel. Die elegante etiket met die olifante, die maroelaboom, maroelavrugte en die onderskeidende handelsmerk het jou goed laat verstaan hierdie produk is van Afrika. En dan was daar die slagspreuk: ‘Born Wild – Born Wonderful’.”
Van die begin af was dit ’n uitgemaakte saak dat die olifant onlosmaaklik deel sou wees van die handelsmerk se identiteit. Juis oor olifante se voorliefde vir maroelas staan maroelabome ook bekend as “olifantbome”.
Saramien Dekker, internasionale handelsmerkontwikkelingsbestuurder vir Amarula, praat van die “misterie om die maroela”.
“Dit het so ’n unieke geur en reuk. As jy maroelatyd in Phalaborwa is, hang die reuk in die lug. Dis net wonderlik . . . so ’n soet, tropiese reuk.”
Oor die boom self is daar ook baie legendes, soos dat die boombas ’n baba se geslag kan bepaal.
“Dit word ook die huweliksboom genoem, want die plaaslike mense glo jou verhouding gaan geseënd wees en julle gaan lank en gelukkig saam wees as jy onder ’n maroelaboom trou. Die mooiste is egter vir my dat gemeenskappe ’n maroelaboom as ’n sentrale bymekaarkomplek beskou, veral as daar konflik is wat opgelos moet word. Dis ’n samebindende ding. Dis regtig spesiaal.”
Maroelabome is tweeslagtig (dit is die vroulike bome wat die vrugte dra). “Ons het al probeer om maroelabome aan te plant, maar hulle dra nie vrugte nie. Ons is dus heeltemal afhanklik van die natuur om vir ons vrugte te gee. Dit maak Amarula regtig vernuwend, REGS BO: In die harde maroelapit is maroela“neute” te vinde. Die sade is ’n gesonde lekkerny wat veral graag deur plaaslike mense benut word.
REGS: Maroelabome dra ongelooflik baie vrugte, en ten spyte van die grootte van die Amarulahandelsmerk gebruik Distell net sowat 2% van die maroelavrugte.
ONDER: Die handelsmerk het in 1989, toe roomlikeur hoogmode was, die lig gesien.
‘Die olifanthanteerder Randall Moore het ’n olifant geleer om die venue binne te loop, ’n bottel met sy slurp op te tel en Amarula in ’n glas te skink.’
want watter ander alkoholhandelsmerk gebruik ’n natuurlike vrug wat eintlik heeltemal organies is?
DIE WÊRELD VEROWER
Robert, in sy hoedanigheid as wynbemarker, het sedert 1993 met Amarula gewerk. In 1994 is hy tot Distell se heel eerste internasionale handelsmerkbestuurder bevorder.
“Amarula Cream was my enigste handelsmerk en die wêreld was my oester, met Baileys Cream as my hoofteenstander.
“Die bestuur het gou besef ek sal met die wêreld moet kan gesels en ek was die eerste handelsmerkbestuurder wat ’n rekenaar gekry het. Daardie tyd het die bestuurslede nog nie eens selfone gebruik nie, maar weer was ek die eerste om een te kry.”
Amarula Cream was ook Distell se eerste handelsmerk met sy eie webtuiste.
In die volgende ses jaar het Robert die wêreld aan die brand gevlieg om Amarula na die verste uithoeke te neem. Hy het in dié tyd 29 lande op ses vastelande besoek. “En beslis te veel lughawens, hotelkamers, vergaderlokale en raadsale gesien. Om nie te praat van al die dining and wining, of dalk eerder Amarula-ing, nie.”
Gaste en agente is ook in Suid-Afrika getrakteer met wildritte, staptogte saam met wild, witwater-kanovaarte, olifantritte en so meer in die Krugerwildtuin, Pilanesberg-natuurreservaat, Botswana, Zimbabwe, Kenia en Tanzanië.
“Ek het die voorreg gehad om hierdie SuidAfrikaanse handelsmerk vanaf ’n soliede basis in tien Afrika-lande uit te bou tot ’n stewige internasionale handelsmerk,” sê Robert.
Vandag is Amarula in 100 lande – van Duitsland en Brittanje tot Brasilië, Kanada en Amerika – beskikbaar, volgens Saramien.
“Wêreldwyd is dit die naasgrootste roomlikeur naas Baileys, en ons neem al hoe meer van sy markaandeel weg,” vertel sy.
“Afrika het ongelooflike natuurskoon, maar ook kulturele verskeidenheid; ’n sekere energie wat jy net hier kry en nêrens anders nie. Die ikoniese bottel se vorm sê iets van Afrika, die tossel verteenwoordig die ryp maroelavrugte en die etiket is in die vorm van ’n diervel of ’n skild.”
Hoewel sy meen Amarula smaak op sy beste oor ys – veral met ’n mooi uitsig om te geniet – is ’n skeut Amarula in koffie baie gewild in die kouer lande. In Brasilië met sy cocktail- kultuur is dit ’n gewilde bestanddeel in mengeldrankies.
VOLHOUBAARHEID EN PRODUKSIE
Maroelabome kom suid van die ewenaar in verskillende Afrika-lande voor, met heelwat KYK NA AFRIKA SE OLIFANTE Die Amarula-trust het een groot bestaansdoel: Olifantbewaring. “Ons meen Afrika se olifante is bedreig en ons wil ’n standpunt maak oor hul bewaring,” vertel Saramien Dekker, internasionale handelsmerkontwikkelingsbestuurder vir Amarula.
Die inisiatief het 15 jaar gelede begin. Van daardie tyd af finansier die trust die Universiteit van KwaZulu-Natal se olifantnavorsingsprogram. Hy was ook betrokke by projekte, soos om parkgidse op te lei.
“Dit het onlangs bekend geraak dat olifante uitgewis word. In daardie stadium is sowat 96 olifante per dag gestroop. Verlede jaar het ’n sensus bepaal daar is net 400 000 olifante oor. ’n Ander studie meen dis nader aan 350 000. Teen die huidige tempo gaan alle olifante teen 2030 uitgewis wees. Dis net meer as tien jaar van nou af; dis in ons leeftyd.”
Dit het hulle oortuig om meer geld te belê in die bewaring van dié reuse — spesifiek om ’n stokkie voor ivoorhandel te steek.
“Die olifant is die ikoon op ons etiket, en as ’n Afrika-handelsmerk is dit ons plig om die probleem onder die res van die wêreld se aandag te bring,” sê Saramien.
Hul visie is om die vraag na ivoor te verminder. “Die ivoorhandel moet verdwyn pleks van dat ons olifante verdwyn.”
Die trust werk in vennootskap met Wildlife Direct in Kenia, waarvan dr. Paula Kahumbu die hoof is. Hulle help met projekte, soos om vir Tim the Tusker, ’n olifant met uitsonderlik groot tande, ’n halsband aan te sit om hom teen stropers te beskerm. Hulle het ook veldtogte, soos “Name them, save Op Wêreldolifantdag is ’n lewensgrootte olifantbeeld van ys in New York staangemaak. Deur die loop van die dag het die beeld gesmelt — ’n simbool van Afrika se olifante wat gevaar loop om uit te sterf.
them”, van stapel gestuur. Mense kon aanlyn, op ’n spesiale webtuiste, ’n olifant gaan ontwerp en die dier ’n naam gee. Die trust het ’n dollar geskenk vir elke keer wat die unieke olifante op sosiale platforms gedeel is. Vroeër vanjaar het hulle die ontwerpe en name geneem en 400 000 eiesoortige Amarula-etikette (elkeen is heeltemal uniek) gedruk.
Op Wêreldolifantdag in Augustus het hulle so ver gegaan om in uitgesoekte lande die olifant van die Amarula-etiket te verwyder. Dié veldtog is #dontletthemdisappear genoem.
“Ons het ’n lewensgrootte ysbeeld van ’n olifant laat maak en dit daardie dag op Unieplein in New York uitgestal. Deur die loop van die dag het die olifant gesmelt en teen die einde van die dag heeltemal verdwyn. Dit was om mense daarvan bewus te maak dat olifante bedreig word.”
in die omgewing om Phalaborwa. ’n Enkele boom kan glo 500 kg tot 2 ton vruggies dra.
“Ons gebruik net sowat 2% van die vrugte wat in ’n jaar beskikbaar is. Ons maak dus nie eens ’n duik in die totale aanbod nie,” vertel Saramien.
Teen Oktober kom Distell se afgevaardigdes met stamhoofde naby Phalaborwa byeen om te onderhandel oor hoeveel vrugte hulle benodig en om oor die prys te kibbel. Wanneer die welriekende oes gereed is, is dit meestal die vroue in die gemeenskap wat uitgaan om maroelas te versamel.
Distell het ’n Artikel 21-maatskappy gestig om ’n deel van sy wins terug te ploeg in dié gemeenskappe.
Die vruggies word in die betreklik nederige fabriekie in Phalaborwa ingeneem, waar dit gewas, gesorteer en verpulp word. Vir elke bottel Amarula is 12 tot 13 vruggies glo nodig. Die pulp word dan verkoel en teen lae temperature – om te keer dat dit begin gis – in tenkwaens na Stellenbosch vervoer.
In die Kaap word gis bygevoeg, waarna die pulp twee keer in koperketels verstook word – baie soortgelyk aan brandewyn. Dit word twee jaar lank in houtvate verouder om karakter en geur aan die vrugtebrandewyn te gee. By die botteleringsaanlegte word dit met room gemeng en in die bekende bruin bottel verpak.
“Ná al die jare gebruik ons steeds dieselfde resep,” sê Saramien.
“Amarula is ’n trots wat diep binne elke Suid-Afrikaner sit. Dis ’n produk wat jy bedien as ’n familielid of iemand anders vir jou van oorsee kom kuier. Of as jy oorsee reis en jy stap verby die Amarula-rak in die lughawewinkels . . . Dis asof jy ’n oomblik wil stilstaan, want jy kry ’n gevoel wat sê: ‘Ek is deel daarvan, dis my huis.’ Dit raak mense op ’n diep emosionele manier. Dis meer as net patriotisme; dis oor deel-van-wees en ’n emosionele verbintenis.”
‘As jy oorsee reis en jy stap verby die Amarula-rak in die lughawewinkels . . . Dis asof jy ’n oomblik wil stilstaan, want jy kry ’n gevoel wat sê: “Ek is deel daarvan, dis my huis.” ’