Kerriekos
By ons in Suid-Afrika is daar, soos in die res van die wêreld, verskeie soorte kerrie wat eie aan ons is – warm en sterk Indiese kerrie van KwaZulu-Natal, aromatiese Maleise kerrie van die Kaap en boerekerrie – kerrie wat sy soet smaak van ’n paar skeppies appelkooskonfyt kry. Ons eet dit met rys en ’n lepel koel komkommer blokkies of’ n hom pie soetsuur tamatiesalsa met ’n sousie van suiker, asyn, sout en witpeper daarby. In baie plaaskombuise staan ’n bottel vrugteblatjang en ’n bakkie bruingebraaide klapper reg as daar kerrie of bobotie voorgesit word. En dalk ’n bakkie gesnipperde piesang.
Die stories oor hoe kerriegeregte na SuidAfrika gekom het, is baie en uiteenlopend. Volgens dr. Claassens en Dine se navorsing is dit ’n wanindruk dat kerrie die eerste keer deur Oosterse slawe aan die Kaap gemaak is. In die 17de eeuse Hollandse kookboek De Verstandige Kock is daar nie net resepte vir kerrievis nie, maar ook vir soetsuur kerrievleis (pienangkerrie) met naeltjies, neutmuskaat, gemmer, kaneel, gedroogde lemoenskil en saffraan. Vir soetigheid is suiker, korente en pruime bygevoeg. Maar al het die kerrieresepte nie oorspronlik saam met die slawe in die Kaap aangekom nie, het die Kaapse Maleiers beslis die kuns om kerrie te maak, vervolmaak. Bobotie is ’n boerekosgunsteling. Die gereg se oorsprong lê by die Romeine, maar het ook reeds met die Hollanders na die Kaap gekom. Die ou inventarisse van die nedersettings aan die Kaap maak melding van ’n bobotijkeetel (bobotiepot), ’n spesiale bak waarin dit oor die vuur gebak is. Bobotie is ook van daardie dae af al nie net met vleis gemaak nie, maar ook met vis, mossels en groente. En kompleet met ’n eier-en-melklagie soos ons dit ook doen.