Bredie en pastei
Hoewel die dik soppe (potages) wat in Van Riebeeck se tyd aan die Kaap gemaak is, aan bredie herinner, is dit die Franse se potée wat nader is aan ’n egte boerekosbredie. Vandag nog word bredies in Frankryk op dieselfde manier as boerekosbredies voorberei. In die beginjare aan die Kaap is bredies met veldkos (soos veldkool, suring en waterblommetjies) gekook. Namate die Hollanders groente en vrugte begin kweek het, het groen boontjiebredie, tamatiebredie en kweperbredie gewild geword.
Pasteie is al in die 1600’s in Nederland gebak, maar nie soos ons dit vandag ken nie. Dikwels is ’n tertbak net met deeg uitgevoer en is die vulsel nie ook met deeg bedek nie. Naslaanbronne is dit eens dat ons fyn deeg, soos skilferkorsdeeg en broskorsdeeg, aan die Franse te danke het. Dit maak dus sin dat tradisionele skilferkorsdeeg pasteie soos ons dit vandag ken, in Suid-Afrika begin maak is ná die koms van die Hugenote.