SOVEEL MEERAS ’N TOERPLEK
Namibië het ’n manier om by jou te bly; om onder jou vel te kom sit en jou altyd weer terug te lok. Al is dit ná twintig jaar.
Namibië was nog altyd vir my ’n spesiale land waaraan ek baie goeie en gelukkige herinneringe het. As kind het ek ’n paar keer saam met my gesin en van ons huisvriende deur ons buurland getoer en gekuier by die plekke waar baie Suid-Afrikaners wat in die 1980’s en 1990’s deur Namibië getoer het op pad Etosha toe, seker ook stilgehou het.
Ons eerste afpakplek aan die ander kant van die grens was altyd Ai-Ais met sy wonderlike warm water, waar ons kinders in die koppies rondgeklouter en in die warmswembaddens geboer het tot ons velle verrimpeld was. Dan ’n stop in die woestyn by die spookdorp Kolmanskop om deur die verlate bouvalle vol sand te drentel, en van daar af na die vissersdorpie Lüderitz met sy Diaskruis. Volgende aan die beurt was Hardapdam. Hardap was dalk nie vir baie toeriste ’n gekose oornagplek nie, maar vir die Du Plessis’s ononderhandelbaar omdat my pa eenvoudig nie verby ’n dam kan ry sonder om stil te hou nie – beslis nie verby Namibië se grootste een nie.
Van Hardap af is ons Windhoek toe en dan na Gross Barmen, ’n warmwaterbron met stomende baaibaddens. Dit was eens ’n Rynse sendingstasie, so ’n entjie van die dorp Okahandja af (waar ons volgende stilgehou het om genoeg biltong te koop vir ’n paar dae se wild kyk in Etosha).
Ons laaste gesinsvakansie in Namibië was in 1998. Met drie geïrriteerde studente
kinders in een voertuig en my pa se “ClapClap Sound”-kasset wat kort duskant Wolseley (vir die res van die toer) in die kombi se kassetspeler vasgesit het, was die skrif taamlik vroeg aan die muur dat dit ons laaste voltallige gesinstoer sou wees.
Ek wou al soveel keer teruggaan, maar uiteindelik het twintig jaar verloop voor ek weer die kans gekry het om Namibië toe te gaan. Dié keer was daar egter nie warmwaterbronne of wildtuine op die reisplan nie, maar ’n soeke na die beste boerekos.
Hoe anders om Namibië op hierdie manier te ervaar. Aan huis by Namibiese boere, bakkers en kosmense van Gochas tot Otjiwarongo het ons in ’n warrelwindweek die beste van hierdie pragtige land leer ken. Sy gulhartige, gasvrye mense en die wye, oop vlaktes met kameeldoringbome, woestyn, duine en see. Die poskaartmooi sonsondergange.
En dan was daar die kos. Ek was keer op keer uitgeboul met wat aan ons voorgesit is en oor hoe fantasties die Namibiërs kook en bak met basiese bestanddele en die streeksprodukte wat tot hul beskikking is.
Aan Trudie van Zyl se tafel het ons wildsvleis geproe soos ek dit nog nooit geëet het nie. Met ’n Duitse inslag en geure wat my mond laat water as ek dink aan die doeksagte skenkels en schnitzels met kappertjieroomsous wat sy vir ons gemaak het.
Ek verlang nou nog na Christine Chapman se bruingebakte beesrib en koedoesteakies, Esi Ehlers se tuisgemaakte ricotta en omajova-risotto, Boetie Claassens se heel gebraaide riboog met brandewynbotter, Hans-Otto Carstensen se Duitse brode, en de laaste ding wat Esté Luckhoff vir ons gebak het. Vir een wonderlike voormiddag het ons in mistige koelte teen die Skedelkus gaan visvang en het Shane Milne ons bederf met ’n seekosfees wat hy net daar op die strand vir ons gaargemaak het. En dan was daar natuurlik Moses Mberira se goudbruin, soet vetkoek wat hy op ons eerste dag in Namibië oor ’n vuurtjie in die veld gemaak het.
Dit is al ses maande sedert ons terug is by die huis, maar ek is gedurig besig om terug te dink aan al ons Namibiese avonture en -vriende. In ’n artikel wat my kollega Nelia Richter ’n paar jaar terug geskryf het oor haar eie Namibiese ervaring, stel sy dit so mooi: “Groot en grootse Namibië ontvang jou met uitgestrekte arms, maar laat jou nie sommer los nie.”
Ek kan aan geen beter woorde dink om hierdie besonderse land te beskryf nie.
Ek hoop julle geniet hierdie spesiale uitgawe. Laat weet ons wat julle dink en watter resepte julle alles probeer het.
Tot ons weer gesels in September, wanneer Boerekos Somer 2019-’20 – ’n ekstradik eeufeesuitgawe – op die rakke sal wees, lekker kosmaak!