’n Man vir die veld
Jan du Toit van Otjiwarongo slaap onder die sterre, skiet vir die pot, en ná net ’n paar dae weg van Namibië, verlang hy na windpompe, koedoebulle en die bos. Maar net omdat hy so baie tyd in die buitelug deurbring, beteken dit nie hy hoef sleg eet nie.
Nie lank gelede nie werk Jan du Toit en sy regterhand, Moses Mberira, ’n week lank in die Khomas Hochland.
“Die tannie nooi: ‘Kom in, kom in!’ Maar ek sê vir haar ek ry nie so ver om in ’n huis te slaap nie. Nee, ek slaap agterop my ryding of langs die vuur. As jy eers buite geslaap het, is dit klaar. Dis vas,” vertel hy, terwyl hy doenig raak met ’n veldvuurtjie.
Onder Namibië se wye uitspansel, in die veld of diep in Angola se bosse – dís waarvoor Jan lief is.
“Enige plek in die veld is vir my goed. Dit gaan oor die natuur en die vars lug. Jy weet, as jy daar agterop die bakkie lê en jy kyk die sterre en jy sien die goed wat daar gebeur… Dit bly ’n ongelooflike voorreg. ’n Ou kan dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.”
Só lief is hy vir jag dat hy al vele keer sweiswerk vir mense gedoen en as sy betaling dan by hulle gaan skiet het. Saam met sy vrou, Judy, en Moses pak hy graag sy bakkie (“jy vat net niks saam as jy niks het nie”) en vaar die vrytes in.
KOS VIR BUITE
Jan se kindertydherinneringe lê op die plaas Seringkop, digby die Etosha Nasionale Park se Okaukuejo-ruskamp, waar hulle donkies bloots gery het en op hul hoede moes wees vir wilde leeus.
“Ons het in die veld grootgeword. Ons moes gereeld die lammerooie oppas, dan wei ons
met hulle so drie myl na ’n pos toe, waar ons met ons ketties voëltjies geskiet het. Dan maak jy hulle gaar. Maar ag, dis net so ’n kaiingtjie as daardie voëltjie nou gaar is!”
Hy was nog net ’n baksteen hoog toe hy al begin kosmaak het.
“Kyk, my ma, ja, ek sal nie sê sy was lief vir kosmaak nie, maar sy het nie ’n keuse gehad nie. Sy het nét ses kinders gehad, en ons kon eet! Ou Filemon het in haar kombuis gewerk, en ek onthou hoe ons altyd op sy rug gery het. Hy het vroeg soggens al vuur gemaak, want ons het twee keer pap geëet, donkertyd en weer negeuur. Jy weet, mieliepap het mos nie krag nie.
“Ons het grootgeword op bokvleis. Op die plaas het ons nie steaks geken nie. Eers later jare, toe ek al begin werk het, het ek die eerste keer van ’n rump steak gehoor.”
As plaastjokker het hy ook graag op volmaanaande op ’n perd se rug geklim met ’n pakkie wors in sy bladsak. Dan ry hy na ’n veepos toe, waar ’n plaaswerker skape oppas.
“Ek gaan slaap sommer daar onder ’n boom, maar eers braai ek my wors in ’n skopgraaf en eet van die werker se pap, en hy van my wors.”
‘HULLE NOEM MY JAN SOUS . . .’
Sy kleintydse liefde vir braai het met die verloop van jare net ’n groter passie geword. Net die vorige aand het vriende hul vingers afgelek van pure lekkerte nadat Jan vir hulle gemsboksteak, toegedraai in
netvet, gebraai het.
“Hulle noem my Jan Sous, want ek hou nie van ’n droë bedryf nie. Ek het ook van die gemsboksteaks vir ’n rukkie in ’n sous laat lê – ’n eenvoudige sous met uie, blatjang, mayonnaise, tamatiesous en worcestersous, maar hy’s lekker! O, magtig, hy’s so sag, so sag, so sag . . .” Hy eet die heel graagste elandvleis. “Ons kook die vleis van die bene af in groot swartpotte oor die vuur dat dit soos gelatien raak. Dan gons my jaart van mense wat kom saameet!”
Wanneer almal genoeg gehad het, ontbeen hy die vleis en vries dit in pakkies, om later wildspastei of kerrievleis van te maak.
Jan het selfs al pofadders gemaak van ’n eland se vetderm.
“Dis so ’ n dik ding. Ons noem dit ’n anakonda!” lag hy en Judy.
Hy is net so ’n kranige worsmaker.
“Goeie vleis en goeie vet is maar die geheim. Ek meet die speserye af met ’n ou, geel dessertlepel wat my ma-hulle gehad het. Dis maar net sout, heel koljander wat ek self brand en maal, swartpeper, neut(muskaat), naeltjies, groot lepels Aromat, bruinsuiker, worcestersous en ’n bietjie asyn,” rammel hy die resep uit sy kop af.
DIÉ VELDVETKOEKE KORT NIE KONFYT
Wanneer Jan en Moses gaan jag (“ons ken mekaar al lank, maar dis nou twee jaar dat ons pal saam is”), maak Moses vir hulle soet veldvetkoeke. Die Herero’s is bekend daarvoor dat hulle lief is vir lekker kos – veral vet vleis en soet brood.
“As ek hom bel wanneer die eerste bok gelaai moet word, bring hy vir my ’n bord vetkoek en ’n lekker bottel swart moerkoffie,” vertel Jan.
Moses, wat by sy ouma van kos geleer het, is baie lief vir “oondwerk”.
“Veral koekies bak. Jan hou baie van die soet vetkoeke, want dan hoef ons nie konfyt ook in te pak nie. So ’n vetkoek hou ook goed in die veld. Eers as die vetkoeke so kliphard raak dat jy ’n huis met hom kan bou, weet jy hy is op,” lag “Mosie”, soos Jan hom noem.
Sy wenke om lekker brosgebraaide vetkoeke met smulsagte binnekante te verseker? “Die groot probleem is daar by die vuur. Jy moet weet hoe die vuur moet wees sodat hulle nie vinnig brand voor hulle binnekant gaar is nie. Die rystyd hang ook van die son af. As dit mooi son is, vat dit so ’n uur, uur en ’n half tot hy mooi op sy standaard is.”
AS DIE BOS ROEP
Vra jy Jan uit oor sy beste jagherinnering, bly hy ’n oomblik stil en kyk takserend oor die veld uit.
“Nee, nou praat jy ’n storie,” sê hy, en begin vertel van die nag saam met sy broer, Tienie, in Angola, toe Jan gedink het hy lê aan op ’n springhaas, maar dis toe al die tyd ’n buffel – een wat nogal kans gesien het om hul Cruiser met die voos remme te skep.
Saam met Tienie het hy ook in die Kaap gaan vakansie hou. Hulle het eers by vriende op Velddrif gekuier, en toe sommer vir die dorp se rugbyspan uitgedraf teen Malmesbury.
“Dit was nou interessant hoe hulle spanpraatjies hou. Jy sien net een visserman vroetel hier in ’n toksak, dan stuur hy so ’n plat bottel brandewyn om. Daarna voel elkeen dieselfde oor die game en dan draf hulle op!” lag hy.
Hul volgende kuierplek was George, maar dit was net drie dae, toe roep Namibië hard.
“Ek sê vir Tienie, nee-nee, nou soek ek ’n windpomp en ’n koedoe wat aankom. Ek soek bos. Wee’ jy, ons ry net daar dwarsdeur tot op die plaas Seringkop. Ons is halfelf daardie volgende oggend op die plaas, toe klim ek op ’n perd en ry na ’n pos toe en klim die windpomp. Ek het net in die windpomp gesit, hier kom stap drie koedoebulle aan . . . Dís my lewe.”
Jan het selfs al pofadders gemaak van ’n eland se vetderm. ‘Dis so ’n dik ding. Ons noem dit ’n anakonda!’