In jou glas: Prost! Op Namibiese ‘huiswyn’
Die Namibiërs is lief vir ’n koue biertjie — en wie kan hulle blameer in dié warm klimaat? Maar in hierdie jagtersparadys is daar ook ’n ander drankie waarin jy maar kan weet jy jou gaan vasloop: Jägermeister.
Jägermeister is soos brood vir ons!” vertel Norbert Sadlowski dadelik as jy hom uitvra oor Namibiërs se liefde vir dié bekende kruielikeur.
By Altstadt, sy gewilde restaurant op Swakopmund, kan geen ander spiritus kers vashou by die wêreldbekende smaraggroen bottel met die “Duitse koedoe” op die oranje etiket nie.
“Ek het selfs al ’n storie gehoor dat Namibië per kop die naasgrootste mark vir Jägermeister ter wêreld is,” vertel hy.
Sathy Thambapilai, bemarkingsbestuurder by Brockmann & Kriess wat Jägermeister in Namibië verteenwoordig, sê: “Ek kon niks opspoor om hierdie aanspraak te bevestig nie, maar nie-amptelik is ons die naasgrootste mark per kop vir Jägermeister, ja, en ons is baie trots daarop!”
Die mense by Jägermeister bevestig later dat Namibië 0,16% van hul wêreldwye volume verbruik, maar as jy in ag neem dat die Namibiese bevolking net meer as 2,5 miljoen mense sterk is, beteken dit hulle bring meer as hul kant met dié dop.
“Almal ken Jägermeister, en daar is baie min mense in Namibië wat dit nie drink nie. As ons Namibiërs gesellig raak en lekker begin kuier, word daar áltyd Jägermeister gedrink,” sê Norbert.
GEWILD VAN DIE INTRAPSLAG AF
Jägermeister het in die 1960’s vastrapplek in Namibië gekry danksy die Duitsers se koloniale invloed. Sedertdien het dié gewilde elikser omtrent so eie aan Namibië geraak soos kameeldoringbome en rooi duine in die woestyn. Ek meen – waar anders op aarde sal jy die woorde “Jägermeister is ons huiswyn” lees as in Joe’s Beerhouse in Windhoek?! Daar is selfs ’n barbier (Jaybird & Blade) waar jy ná jou was en sny met ’n skoot Jägermeister bederf word.
Norbert kan net bespiegel waarom Namibiërs so graag ’n yskoue Jägermeister wegslaan. “Die bemarking was nog altyd baie goed en die produk het oor die jare baie groot en bekend geraak by ons. Ek kan baie goed onthou dat jy Jägermeister oral kon kry, selfs toe ek nog ’n klein plaas
kind op Otjiwarongo was.
“Die Duitsers het ook mos die idee geskep dat alles wat van Duitsland af kom, beter is. Ek dink Jägermeister is een van
daardie dinge. Geen ander handelsmerk kon dit nog verbysteek nie.
“Maar vir my gaan dit oor die smaak. Dis ’n smaak waarvan ek hou, want dit het
oor die jare nooit verander nie, en dis glad nie so kunsmatig soos ander drankies nie. Jägermeister sal jou ook nie so dronk maak nie — jy kan ’n hele aand daarop kuier.”
Jägermeister was van die eerste oomblik af in Namibië geliefd, beaam Sathy.
“Daar is die verwantskap met die land se verlede en bande met Duitsland. Bykans elke liewe afsetpunt wat alkohol verkoop, of dit nou ’n restaurant, kroeg, pub, nagklub of hotel is, sal Jägermeister in voorraad hê. Die Duitse demografie in die land het ’n groot rol hierin gespeel deurdat hulle vir Jägermeister gevra – en in sommige gevalle selfs daarop aangedring het – in die gewilde plekke.”
Sy vertel dit het oor die jare die norm geword dat wanneer ’n nuwe kuierplek
sy deure oopmaak, móét daar Jägermeister op die spyskaart wees om te keer dat klante ongelukkig raak.
VAT HOM VAS
Oor een ding staan Norbert en sy medeNamibiërs vas: Jägermeister moet yskoud
bedien word (dit smaak glo op sy beste teen presies -18 °C). Eis kühl, soos die Duitsers graag sê.
“Ons vries sommer die glase én die Jägermeister!”
Sathy sê daar word ’n streng Jägermeisterritueel in die land gevolg. Pas jy dit nie toe
‘Ek het selfs al ’n storie gehoor dat Namibië per kop die naasgrootste mark vir Jägermeister ter wêreld is.’
nie, kan jy maar ’n strafdop te wagte wees. En dis uiteraard nóg ’n skeut Jägermeister. Besluit dus maar self of jy die reëls wil breek of nie.
“Neem die Jägermeister in jou linkerhand, kyk elkeen wat saamdrink afsonderlik en direk in die oë, en slaan die yskoue shot saam weg. Daarna klop jy die glasie of 20 ml-botteltjie twee maal op die tafel of die naaste voorwerp aan jou,” verduidelik sy.
DEURDRENK MET GESKIEDENIS
Spoor jy Jägermeister se oorsprong na tot in Duitsland in die 1930’s, kom jy op ’n verhaal vol pioniersdrif en legendes af – byna nes die likeur self.
Curt Mast was destyds bestem om sy pa, Wilhelm, se asynonderneming in Wolfenbüttel (net ’n klipgooi van die Duitse stad Berlyn) oor te neem. Maar dié rinkinker en geesdriftige jagter het ander planne gehad. Sý passie was nie juis asyn nie, maar die produksie van spiritualieë. En gelukkig kon die familie-onderneming doen met nog ’n inkomstestroom.
In 1934 het Curt die resep vir ’n geurige kruielikeur met 56 bestanddele en 35% alkohol per volume vervolmaak – en Jägermeister het daardie selfde jaar nog die lig gesien. Deesdae word Jägermeister as die wêreld se suksesvolste kruielikeur beskou, met talle mededingers en namaaksels wat Curt se triomf probeer nadoen, maar tot vandag toe word dieselfde geheime resep steeds gevolg.
Tans is dr. Berndt Finke, hoof van grondstowwe en vervaardiging by die Jägermeister-maatskappy, een van die uitgesoektes wat die ou resep bewaar. Al wat glo algemene kennis is, is dat die likeur kaneel, steranys en gemmerwortel bevat. Die ander 53 bestanddele sal jy maar self moet ontsyfer. Finke is die man wat moet seker maak die mengelmoes van kruie, bloeisels, wortels en vrugte waaruit die drankie gestook word, is van die heel beste gehalte.
IN DIE GEES VAN DIE JAG
Om ’n gepaste naam te kry, was nie vir Curt té moeilik nie. (’n Mens kan net bly wees hy het nie weer in die rigting van “Burning Love”, een van sy eerste likeurs, gedink nie!)
Die woord “Jägermeister” (dit beteken meesterjagter) was welbekend in Wolfenbüttel met sy eeue oue jagtradisies, en Curt was seker dit sou iets by die dorp se jagtersgemeenskap wakker maak – net soos dit jagters in Namibië se verbeelding aangryp.
Curt het ook destyds self besluit op die legendariese takbok-embleem wat op die kenmerkende groen bottel pryk. Sy inspirasie daarvoor kom van die heilige Hubertus, die beskermer van jagters. Hubertus het glo ’n visie gehad van ’n majestueuse takbok wat ’n gloeiende kruis tussen sy horings dra. Vir Curt was dit nommerpas vir sy kragtige elikser.
Hy was vasbeslote daaroor om sy likeur te botteleer in iets wat lekker rof en onbeskof hanteer kon word – dit moes darem die avonture in die jagveld kon deurstaan. Die storie loop dat hy verskillende bottels op sy eikehoutvloer laat val het tot hy een gekry wat nie breek nie. En, ja, 85 jaar later doen die bekende reghoekige bottel steeds diens.
TAKBOKBLOED, OF NIE?
Jare lank het die gerug die ronde gedoen dat Jägermeister takbokbloed bevat, vandaar die besondere kleur en geur. Dis egter sommer een van die vele mites wat oor Jägermeister ontstaan het (waarskynlik van te diep in die bottel kyk!). Al wat in die sopie voorkom, is kruie, blomme, wortels en vrugte, en elkeen van hulle is noodsaaklik om die unieke geur aan Jägermeister te verleen (en dis waarskynlik ook waar die storie vandaan kom dat Jägermeister enige verkouekiem in sy spore kan stuit).
Vandat die maatskappy begin om die 56 bestanddele uit alle uithoeke van die wêreld te versamel, duur dit meer as ’n jaar voor ’n yskoue shot geniet kan word. Die meesterstokers werk noukeurig volgens die oorspronklike resep. Hul eerste stap is om die basisbestanddele aan ’n smaak- en sensoriese toets te onderwerp. Die basisbestanddele word ’n jaar lank in groot eikehoutvate verouder (elke vat kan 10 000 liter hou – ’n see van Jägermeister). Voor bottelering word die basismateriaal met suiwer water, alkohol en suiker (in verskillende vorme) aangevul. En dan is hul werk nog nie klaar nie – die likeur moet altesaam 383 gehalte-ondersoeke slaag voor dit die fabriek mag verlaat.
Op al dié inligting kan jy net in ware Namibiese styl ’n bevrore glasie oplig en sê: “Prost!” voor jy enetjie wegslaan en daardie lekker warm gevoel in jou maag geniet.
‘Die Duitsers het mos die idee geskep dat alles wat van Duitsland af kom, beter is. Ek dink Jägermeister is een van daardie dinge. Geen ander handelsmerk kon dit nog verbysteek nie.’