KOSSEONTHOU
Soms sal jy nooit die waarde van ’n oomblik besef voor dit nie eers ’n herinnering geword het nie.
So is dit deur die kinderboekskrywer Theodor Seuss Geisel van die geliefde Cat in the Hat- reeks waargeneem. Dit is baie soos ouma Suzie se befaamde konfyttertjies wat sy op haar ou Aga-stoof in die plaaskombuis op Helmond opgetower het. Dit voel soos gister dat ek en my pa die tertjies langs ’n sloep aan die Wildekus gesit en eet het. ’n Warm koppie soet flestee in my hand; my eerste groot blouvis op die rotse langs my.
Wat is dit van die geure, reuke en kleure van kos wat herinneringe so moeiteloos deur die vaagheid van tyd laat sny? Dít is wat Boerekos so spesiaal maak. Dit bring herinneringe in skerp fokus en skep ook onverwagte nuwe nostalgie.
Ek sou nooit kon dink dat Arina en Lucille se aangrypende oorsig van een van ons land se mees ikoniese en produktiefste landboustreke my ’n hele nuwe perspektief op my eie familie sou gee nie.
Tot onlangs was die asemrowende Breedekloof ’ n plek waar ek en my seuns gaan visvang het. Ons het die forel daar hoog bo die groen van die wingerde en vrugteboorde gaan soek, teen die koel hange van die berge waar die riviere koud en skoon uit die diep klowe vloei. Ek was vaagweg daarvan bewus dat my vrou, Christelle Naudé, se familie eens op ’n tyd iewers in die vallei geboer het.
Lucille se storie oor die besonderse tannie Lenie Naudé het iets in my losgemaak. Die koekie-ouma van Onderplaas, wie se hande vir net mooi niks verkeerd staan nie, het my dadelik aan my eie ouma Suzie herinner.
Ja, tannie Lenie is sy niggie, beaam Alwyn Naudé, my skoonpa. Onderplaas by die Olifantsberg waar sy woon, is die Naudé-familieplaas. Tannie Lenie was getroud met die seun van die ouer broer van skoonpa se pa Fanie, ook Alwyn. Pa Fanie was ’n onderwyser naby Karos in die Noord-Kaap toe skoonpa gebore is. Toe hy vyf jaar oud was, het die familie teruggetrek na die vallei toe. Hulle was terug by die winkel, slaghuis en woonhuis by die Breederivier-spoorweghalte wat hulle destyds van die Joodse oubaas Peisach gekoop het. Die Naudés was weer terug tussen die Stofbergs, Jordaans, Du Toits, Deetlefse, Le Rouxs en Hugo’s.
Daar het skoonpa leer kleilat speel, vrugte gesteel en gesien hoe koning George VI en sy gesin in die Wittrein by die perron aandoen vir ’n besoek aan oom Sammy Lategan se plaas. Mettertyd het pa Fanie sy beroep as onderwyser hervat en die familie het Vrystaat toe verhuis. Met die jare het die verbintenis met dié besonderse vallei vervaag.
Ook vanuit ’n landbouperspektief is dit besonders. Die vallei produseer vandag veel meer as net tradisionele wyndruiwe en vrugte soos appelkose. Die verstommende verskeidenheid sluit in appels, sitrus, bloubessies, aspersies, eiers, hoenders, sampioene, waterblommetjies, kiwivrugte en heuning. Tot wild het sy plek hier gevind.
JP Stofberg vertel hoe sitrus van wêreldgehalte danksy die gematigde klimaat en sy goed gedreineerde sandklipgrond geproduseer kan word. Die koel nagte, warm dae en sanderige grond van Coenie Lategan se plaas is weer só ideaal vir bloubessies dat dit sommer direk in die grond geplant kan word. Daar is ook die unieke koelte van die plaas Dwarsberg, hoog bo Rawsonville, waar Ennie Stofberg eers appels en pere begin kweek het en nou geduldig vir sy jong avokadobome wag om groot te word.
In dié uitgawe van Boerekos is unieke stories van kos en ’ n vallei met familieherinneringe verstrengel. Stories soos dié van tannie Lenie wat netsowel my ouma Suzie kon gewees het, van visvang en ander oomblikke wat ons eers in die toekoms volkome gaan herken nadat dit herinneringe geword het. Mag hierdie uitgawe ’ n stukkie van dié besonderse vallei by julle almal agterlaat.