BINNEKENNIS
’n Toer deur een van die mooiste landbou- en wynstreke in ons land is ekstra-spesiaal as jy iemand ken wat al die weggesteekte juwele kan uitwys, en presies weet waar om kers op te steek vir heerlike kos, die beste geselskap en die lekkerste wyn in die ko
Dit is ons gebruik om vir elke winteruitgawe van Boerekos ’n week of wat te neem en te reis, om vir julle die kosstories en resepte van ’n spesifieke streek te bring. Toe ons teen einde 2019 aan stories vir hierdie uitgawe begin werk het, was die woord koronavirus nog nie deel van ons woordeskat nie.
’n Oogwink later is alles anders. Ons is midde-in ’n landwye inperking en oral is daar vrees en onsekerheid. Dit is ’n vreemde nuwe werklikheid; dit voel nie reg om te skryf oor saamkuier om gul tafels in hierdie tyd waarin ons nie mag uitbeweeg nie en soveel mense hul bron van inkomste verloor het. Maar dalk is goedvoel-stories en resepte vir lekker kos juis wat ons nou nodig het? ’n Bietjie ontvlugting, ’n bietjie tyd in die kombuis, iets om ons gedagtes af te lei en ons besig te hou.
Vir vanjaar se reisuitgawe het ons besluit om te fokus op die pragtige Breedekloofstreek, waar my kollega Lucille Botha se ouers woon. Lucille is Landbouweekblad se assistentredakteur, maar sy is ook Boerekos se ruggraat. Nie net is sy die een wat verantwoordelik is vir al die onderhoude met boere en produsente in elke uitgawe nie, sy skryf ook al die wynrubrieke en leefstylartikels. Sy is ’n begaafde joernalis met landboukennis wat dikwels my mond laat oophang. Net so goed as wat sy ’n tegniese landbouartikel kan skryf, so moeiteloos kan sy oorskakel na leefstyl. Boonop is sy ’ n foodie wat altyd weet waar om die beste bestanddele te koop en waar jy die lekkerste kan eet.
Daarom was vanjaar se kostoer heeltemal anders as voriges, want ons het toe op die koop toe ’n briljante toergids en bron van kennis oor die omgewing en al die interessante landboubedrywighede waarmee die mense van die Breedekloof besig is, by ons in die motor.
Ek het gedink ek ken die Breedekloof redelik goed, want ek het immers skaars ’n halfuur daarvandaan grootgeword. Ek het egter gou besef ek het nie geweet van die helfte van die produkte wat met groot sukses in die streek verbou word nie, wat nog te sê van al die op-en-wakker entrepreneurs en knap sakevroue, wynmakers, bakkers en nisboere van die omgewing.
Tussen bloubessietonnels, sitrusboorde en wingerde is daar onderhoude gevoer. Tussendeur het ons in plaashuise in die omgewing aangesit vir koningskos en staaltjies oor die kontrei se mense.
Wat ek geleer het, is dat die mense van die Breedekloof ’n ding of twee weet van goeie kos. Die geregte wat aan ons voorgesit is, was onverbeterlik. Van tradisionele gunstelinge soos karringmelkpoeding en soetsuurdeegbrood tot moderne boerekos soos beesfiletslaai met tuisgemaakte mayonnaise en winterpavlova, waarvan die bestanddele meestal vars van die plaas of uit die gasvroue se indrukwekkende groentetuine gekom het. Alles, natuurlik, met ’n paar glase spogwyn uit die vallei daarby.
Vir my is die uitsig oor die Slanghoekvallei, as jy van Ceres se kant af daar deurry Kaap toe en oor die laaste hoogtetjie kom, een van die mooistes in die land. Maak nie saak watter tyd van die jaar dit is nie. Die see van wingerd, hektaar op hektaar, afgeëts teen die dramatiese blou berge met die son wat oor die vallei speel. Maar ek sal nooit weer daar ry en net die mooi van die landskap raaksien nie. Nou sal ek dink aan Ivy, Janette en Eloize, tannie Lenie, Susan, Karen en al die ander wonderlike mense wat ons hier leer ken het. En my mond sal elke keer water vir julle lekker kos!
Vir my is hierdie uitgawe een van ons beste reisuitgawes tot op datum. En dit is alles te danke aan een van die Breedekloof se beste uitvoerprodukte. Ek hoop julle lees, kook en bak baie lekker!
Tot ons later vanjaar weer gesels, kyk mooi na julleself en wees veilig.