PASTEIE VLIEG OP DIE BASAAR
Tannie Lenie se reputasie vir vlokkerige, goue skilferkorsdeeg loop haar veral vooruit. Haar hoenderpasteie is legendaries op die jaarlikse kerkbasaar.
“Die pasteitjies is groot werk, maar die mense is altyd gaande daaroor.”
Nes destyds toe haar ma vir Daljosafat se buitebasaar gebak het.
“Sy het heerlike pasteie gebak van plaashoender en plaasbotter. Niks kom daarby nie,” onthou tannie Lenie.
“Ek het in die tyd van paraffienkissies grootgeword. My pa het so ’n kissie laat regop staan, ’n deurtjie aangesit wat met ’n riempie toegehou word en hy het rakkies binne-in gesit.
“Wanneer my ma pasteie en melkterte vir die kerk gebak het, het sy dit daarin gepak. Daar het ’n hele klompie pasteie in so ’n kissie gepas. Bo-op die kissie het my pa ’n leerhandvatseltjie aangesit, sodat jy dit maklik kan dra.”
Sonder om ’n resepteboek te raadpleeg, trek tannie Lenie los en verduidelik die tydsame proses om skilferkorsdeeg te maak.
“Ek weet nie hoe tradisioneel dit is nie, maar ek maak my botter nie yskoud soos die meeste mense nie. My botter is sag-sag. Kyk, ek het grootgeword in die warm Daljosafat, in ’n huis sonder ’n yskas. Ons het nie eens krag gehad nie. My ma het die botter gebruik soos dit is. Ek onthou nog hoe sy die botter so met haar vingers in die deeg ingesmeer het.”
Tannie Lenie klits ’n skeut brandewyn en suurlemoensap by die water waarmee sy die deeg aanmaak. “Dit breek die vetterigheid ’n bietjie,” verduidelik sy.
Nog ’n wenk is dat die deeg behoorlik gebrei moet word.
“Ek knie die deeg so honderd keer. Ek tel sommer in my gedagtes. Dan vat ek die deeg en knie dit weer vir so honderd keer op my werkoppervlak. En met die laaste honderd keer slaan ek die deeg sommer lekker op die werkblad. Elke keer as ek die deeg optel,