Kersie-en-amandeltert
Kors
360 ml koekmeel
20 ml versiersuiker Knippie sout
125 g koue botter, gerasper Yswater, soos benodig
Vulsel
100 g sagte botter
125 ml strooisuiker 2 ekstragroot eiers
5 ml vanieljegeursel
2 ml amandelgeursel
250 ml gemaalde amandels of amandelmeel 80 ml koekmeel
400-500 g ontpitte kersies
Versiersuiker, om oor te sif
Kors: Sif die koekmeel, versiersuiker en sout saam. Vryf die botter by die droë bestanddele in tot dit krummelrig lyk. Voeg 15 ml yswater op ’n slag by en sny dit in tot ’n deeg vorm. Bedek en hou eenkant. Voorverhit die oond tot 170 °C. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Voer ’n losboomtertbord van 30 cm x 15 cm daarmee uit. Maak die rante netjies en prik die boom van die tertkors met ’ n vurk. Voer die pan met bakpapier uit en vul met droëbone of rys. Blindbak die tertkors vir 15 minute, verwyder die papier met die bone of rys en bak vir ’n verdere 15 minute tot die deeg droog en strooikleurig is. Vulsel: Verroom die botter en strooisuiker goed. Voeg die eiers en geursels by en klits deur. Voeg die gemaalde amandels (of amandelmeel) en koekmeel by. Meng goed en skep die vulsel in die kors in die pan. Smeer die vulsel gelyk en pak die kersies op die vulsel. Bak die tert vir sowat 35-40 minute of tot die vulsel ferm is. Laat afkoel en sif versiersuiker oor. Lewer 8 porsies.
Pieter Holland-Muter bestuur die plaas Hoogland in die BoSwaarmoed-omgewing naby Ceres vir die Karsten-boerdery. Dit was oorspronklik ’n appel-en-peerplaas, maar in 2004 het die maatskappy ook 9 ha kersies geplant. Vandag is daar 23 ha kersiebome op die plaas, en hulle wil dit aansienlik uitbrei.
Waarom het die verbouing van kersies die afgelope paar jaar so toegeneem in die Wes-Kaap?
Dis ’n goeie produksiegebied. Wanneer die Wes-Kaapse kersies geoes word, is daar goeie geleenthede op sekere markte. Die Wes-Kaap se kersies word heel laaste in SuidAfrika geoes. Dit vul ’n markgaping plaaslik aan die einde van die seisoen en vir ’n kort tyd in die buiteland.
Verkies julle die plaaslike of uitvoermark? By Karsten-boerdery konsentreer ons op die plaaslike mark. Ons het ooreenkomste om die grootste deel van ons kersie-oes aan supermarkte te verskaf.
Is die plaaslike vraag na kersies dan groot? Die plaaslike vraag na en aanbod van kersies is tans redelik in balans, maar groter aanplantings kan dié balans versteur. Ons konsentreer op plaaslike supermarkte, want as jy goeie programme met die kleinhandelaars beding het, is jou risiko baie minder. Die plaaslike kersieprys hou ook kers vas met die pryse in die buiteland wanneer ons kersies bemark word.
Is kersies ’n moeilike gewas om mee te boer? Ja, dit stel heelwat eise. Jy moet plantmateriaal van goeie gehalte in die hande kry as jy met kersies wil boer. Kersiebome is vatbaar vir wortelsiektes en bakteriese kankers. Daar is gelukkig deesdae beter onderstamme beskikbaar, wat dié tipe probleme die hoof bied. Die ander struikelblok is dat kersiebome afwisselend dra. Dit beteken een jaar dra die bome baie goed, maar die volgende jaar baie min. Dit is dus moeilik om jaar ná jaar aan jou supermarkprogram te voldoen.
Die meeste kersies in die Wes-Kaap word onder netstrukture geplant. Watter verskil maak dit?
Daar is verskeie redes waarom ons verkies om kersies onder nette te plant. Dit beskerm nie net die vrugte teen voëls, wind en hael nie, maar die bome groei ook beter onder die nette.
Dis maar net ’n paar van die voordele.
Die Goosen-boerdery het in 1861 ontstaan en is deur en deur ’n familieonderneming. Danie (middel), sy seun, JC (regs), en JC se neef Janus (links) is onderskeidelik die vyfde en sesde geslag wat dié boerdery bestuur. Pere is een van die gewasse wat hulle met groot sukses verbou, sê Janus.
Hoe steek jul boerdery in mekaar? Die boerdery bestaan uit drie hoofeenhede: Jagerskraal op Prince Alfred Hamlet, Ou Stasie op Wolseley en Nuutbegin op Rawsonville. Steenvrugte maak sowat 50% van ons produksie uit, en groente en kernvrugte onderskeidelik 40% en 10%. JC behartig die produksie en Janus is verantwoordelik vir finansies, verpakking en bemarking by die boerdery.
Waarom is Prince Alfred Hamlet so gesog vir peerproduksie?
Peerbome hou van die koue winters en warm somers wat ons in die Ceresomgewing ervaar.
Watter kultivars verbou julle?
Ons boer met drie verskillende peerkultivars op die plaas Jagerskraal: Abate Fetel, Forelle en vroeë Bon Chretiens. Forelle en Abate Fetel is kultivars met ’n hoë waarde. Hulle vaar baie goed in ons toestande. Ons oes 50 ton tot 75 ton per hektaar.
Bemark julle slegs vir die vars mark? Ons probeer om altyd soveel as moontlik pere aan die vars mark te lewer. TruCape bemark ons pere op die uitvoermark én plaaslik. Die res wat ons nie vars verkoop nie, word aan ’n sapfabriek gelewer.
Met watter probleme het peerboere te kampe?
Ons grootste struikelblok is seker die hoë koste wat dit aanvanklik verg om peerboorde te vestig. Dit duur boonop ses tot sewe jaar voor ’n boord in volle produksie is. Gelukkig is ’n peerboord se lewensduur gewoonlik langer as dié van steenvrugte.
Is die droogte nog ’n probleem?
Ons het gelukkig die afgelope twee jaar voldoende water gehad om die boorde te laat dra.
Wat is jou gunstelinggereg waarin pere voorkom?
My ma posjeer graag pere in rooiwyn en speserye wat sy dan saam met room of roomys bedien.