Breedekloof se blou goud
In een hoekie van die Breedekloof gedy bloubessies danksy die sanderige grond, koel nagte en warm dae. Dit verseker bessies met ’n onverbeterlike smaak.
Artikel: LUCILLE BOTHA Resepte, kosvoorbereiding en stilering: ARINA DU PLESSIS Foto’s: MYBURGH DU PLESSIS
ie verkoeling is uiters belangrik, vertel Coenie Lategan (op die foto links) van BerryBase terwyl ons deur sy bloubessie-koelpakhuis stap.
Die bloubessies kom binne ’ n halfuur ná dit gepluk is, in die koelpakhuis aan. Daar word dit binne nóg ’n halfuur met verdere verkoeling afgekoel tot minder as 5 °C – en in die bloedige Breedekloof-son kan die bessies maklik teen 30 °C by die pakhuis aankom. Die verkoeling is dus ’n menéér van ’n stelsel, maar is ’n belangrike maatreël wat sorg dat die bessies plomp en sappig, met oorgenoeg rakleeftyd, by verbruikers uitkom. Die koueketting word enduit gehandhaaf, tot die bloubessies in iemand se inkopiemandjie beland.
Coenie is eintlik, soos die meeste boere in die kontrei, ’n wyndruifprodusent. Hy bedryf saam met sy broer en twee neefs die Lateganskop-kelder.
“Ek is destyds weermag toe, en my plan was om daarna te gaan studeer. My oupa het my egter voorgekeer toe ek eenkeer ’n naweekpas gehad het. Hy was 89, en het gesê ek kan nie Elsenburg toe gaan nie, ek moet saam met hom kom boer en hy sal my leer wat ek moet weet.”
Toe die wynbedryf onlangs ’n paar maer jare beleef het, het Coenie besef hy moenie al sy eiers in een mandjie hou nie.
“Ek het reeds in 2013 begin navorsing doen oor wat ek nog op die plaas kan plant. Die omgewing se tradisionele gewasse sou nie by ons aard nie omdat ons plaas skoon sandgrond het,” verduidelik hy.
Die sanderige grond was wel ideaal vir bloubessies, tans een van die lonendste boerderygewasse. Dit is egter ook een van die duurstes om te vestig.
Coeniehetin2015saammetdrievennote, waarvan George du Toit die meerderheid aandele het, die eerste bloubessies aanD
geplant. Dit is intussen uitgebrei tot 23 ha, wat onder skadunet en plastiek gevestig is. Berryworld het die plantmateriaal verskaf en behartig die bemarking van die bessies, wat wêreldwyd in onder meer Brittanje, Europa en die Verre-Ooste verkoop word.
“Bloubessies aard goed in sandgrond met ’n natuurlike hoë suurgehalte. Waar ander boere bloubessies in groeimedium plant, is ons omgewing geskik om die struike direk in die grond te plant. Dit het ons aanvanklike koste bietjie minder gemaak.”
Die bessies hou van die Breedekloof se koue nagte en warm dae. “Dit speel ’n rol in die geurontwikkeling, daarom is die smaak van ons bessies so goed,” vertel Coenie.
Nog iets wat in sy guns tel, is dat die bloubessieoestyd van September tot middel Desember strek. Daar is dus oorgenoeg tyd om die oestyd klaar te maak voor die parstyd vir druiwe begin.
“Die lekkerte van bloubessies is dat dit geoes word vóór die meeste vrugte en wyndruiwe. Dus kan ons vir 300 tot 400 mense werk gee in ’n tyd wanneer hulle niks sou gehad het nie.”
Daar is wel ’n paar uitdagings, soos dat hulle uitgelewer is aan die elemente. Ryp en hael hou die grootste risiko vir gehalte in.
“As ons die elemente kan beperk, sal ons baie kan regkry, maar gelukkig help die skadunette en plastiek daarvoor.”
Coenie-hulle moet wel toesien dat die skadunette genoeg lig deurlaat sodat bye daaronder wil werk. In bestuiwingstyd verwyder hulle die nette en sit tot twaalf byekorwe per hektaar uit.
Sedert hy met bloubessies boer, het ’n hele nuwe wêreld vir hom oopgegaan, vertel Coenie.
“Die kultivars in die wynbedryf kom al baie geslagte lank aan. Bessieplante kan baie oud word, maar die mark skryf vir ons voor wanneer ons moet vervang, gewoonlik elke vyf tot agt jaar. Bloubessievariëteite word gou as ‘oud’ beskou, want nuwer, gesogter kultivars ontwikkel baie vinnnig.”
Dit is danksy dié vooruitgang dat boere in sonnige lande, soos Suid-Afrika en Peru, met die gewilde bessies kan boer. Sekere moderne kultivars, soos dié wat deur Australië en Amerika ontwikkel is, het baie min koue-eenhede nodig, dus aard dit goed op feitlik enige plek.
Die kultivars lewer stewige opbrengste. Coenie probeer 20 ton per hektaar pluk – dit is ’n yslike aantal bessies as ’n mens in ag neem elke bessie weeg maar 2 g.
Mense praat van “blou goud” omdat die bessies sulke hoë pryse verdien, maar Coenie sê dinge begin verander.
“Die uitvoermark is nog goed, maar pryse begin stadig onder druk kom. Gelukkig sorg die gehalte van ons bessies dat ons goeie pryse behaal. Die plaaslike mark groei stadig, want daar is nie iets soos ’n tweedeklas-bessie nie. Die mark soek ’n mooi bessie, of niks.”
Verbruikers raak ook uitsoekerig en trek gou neus op vir bessies wat kleiner as 12 mm in deursnee is. Op sommige markte kan boere premies verdien vir bessies waarvan die deursnee meer as 16 mm of 18 mm is.
Coenie eet self graag bloubessies, maar die beste manier om die klein vruggies te geniet, is in jou gin en tonic, lag hy!
‘Daaris nie ’n tweedeklas-bessie nie. Die mark soek’n mooi bessie, of niks.’