Sitrus gesoen deur die Afrika-son
Sodra die parsmasjien se sleutels opgehang word, kom die pluklere uit om soet sitrusvrugte te oes waaroor die uitvoermarkte swymel.
Artikel: LUCILLE BOTHA
Resepte, kosvoorbereiding en stilering: ARINA DU PLESSIS Foto’s: LUCILLE BOTHA en LEE SCHWAGELE O ns sitrus word natuurlik ryp gemaak deur die Afrika-son. Jy sal die Here se heerlikheid proe as jy dit eet, gesels JP Stofberg waar ons deur die ClemenLuz-boorde op sy plaas Groenvlei naby Goudini-Weg stap.
Dis enkele dae voor oestyd aanbreek en jy kan sien hoe opgewonde JP is oor die clementines en mandaryne wat soos klein juweeltjies aan die takke skitter. Hier en daar pluk hy ’n vrug van die boom, skil dit af om die helder oranje segmente te ontbloot en die hemelse sitrusgeur om ons te laat uitsak.
Die bome groei nie onder nette nie, maar onder die oop uitspansel, sodat bye kan kom en gaan soos hulle lekkerkry.
“Jy weet, wanneer mense vir my sê ons vrugte is lekker, sê ek altyd: Dís hoe genade smaak. Dis mos nie my goedheid wat die vrugte so lekker maak nie. Dis ons liefde dié, ja, om die boom te kweek en versorg, maar ons gee die Here die eer daarvoor.”
JP se pa, Kobus “Tof”, het sowat dertig jaar gelede die eerste 9 ha sitrus op die plaas gevestig. “Die wynpryse het destyds baie geval en hulle was so vyf, ses manne wat – seker maar om die vuur – begin wonder het of daar nie iets anders is waarmee hulle kan boer nie. Nood leer mos bid.”
Die sitrusbome in die omgewing se huistuine het goed geaard en die mense het almal heerlike lemoene en nartjies geëet, daarom het Kobus sy eerste Clementine Nules-boorde gevestig – van hierdie boorde staan nou nog.
Die sitrusbedryf was nie altyd so vooruitstrewend soos nou nie, en dit was hittete of JP-hulle het een jaar vuurmaakhout van die bome gemaak.
“Gelukkig het ons besluit om vas te byt en vandag kyk ons nie terug nie, nie vir een dag nie,” vertel hy oor sy sitrusboorde wat oor 42 ha strek.
Intussen het die omgewing se sitrusboere tot sowat 16 produsente gegroei en die oppervlakte is ook aansienlik uitgebrei.
“Gelukkig is daar goeie raadgewers in die bedryf en as ’n ou ’n leerbare gees het, kan jy enigiets aanpak.
“Ons voordeel is dat ons in ’n area boer waar daar slegs pitlose kultivars staan. Kruisbestuiwing wat pitte veroorsaak, kan dus nie plaasvind nie. Ons verdien daarom ’n premie vir ons vrugte.”
Nog iets wat in dié boere se guns tel, is dat die Breedekloof natuurlik vry van swartvlek is, daarom kan hulle sitrus na Amerika uitvoer.
IDEALE KLIMAAT
“Dat sagtesitrus in ons omgewing aard, is verseker. Jy kan sommer sien die boom is gelukkig. Vrugte uit die noorde se interne gehalte kom nie by die Wes-Kaap s’n nie. Ons het ’n gematigde klimaat; ons bome gaan lekker in rus in die winter, maar dis nie só snerpend dat dit die bladhoudende bome terugsit nie.
“Ons sandklip-grond dreineer goed, wat ideaal is vir die sitrusbome wat nie met hul voete in die water wil staan nie. Boonop het ons genoeg water om die bome te besproei, wat maar lekker dors kan wees.”
Veral clementines vaar uitstekend in die gebied. Nawels se produksie is egter nie so goed soos in Citrusdal of die Oos-Kaap nie.
So ’n paar jaar gelede het JP Engeland besoek en by ’n paar van die supermarkte aangedoen waarheen hul sitrus uitgevoer word. “Hulle het vir ons ’n blinde proe aangebied en elke keer was die vrugte uit Suid-Afrika net die lekkerste.
“Jy proe sommer die verskil teenoor sitrus uit Peru of Chili. Die geure ontplof in jou mond, so lekker is hy. Jy kan nie anders as om nóg een te wil eet nie.”
JP se vrugte word by Stellenpak verpak en deur MarketDemand reg oor die wêreld – van Amerika, die Verenigde Koninkryk en Europa tot Rusland en die Midde-Ooste – versprei.
“Ons liefde is die produksiekant. Die grond, die bome . . . dit laat my tiek. Maar Robert Saunders-hulle by Stellenpak weet wat hulle doen en MarketDemand is ’n produsent-uitvoermaatskappy waarin ons aandele het.
“Ons sien onsself as ’n familie – ons is die familie op die plaas en hulle die familie in bemarking.”
DIE BESTE KULTIVARS
Een van die maatskappy Anjari – genoem na sy drie dogters, Anke, An-mari en Jana – se sterk punte is dat hulle ’n verbintenis met die kultivaronderneming Citrus Genesis het. “Dis niks om sitrus te plant nie, maar dis moeilik om die régte kultivars te plant. Om oorhaastig sommer net bome te plant, is ’n duur leerskool.
“Ons kry vir die volgende vier jaar voorkeurtoegang tot Citrus Genesis se kultivars. As daar nou iets is wat my opgewonde maak, is dit die vooruitgang in kultivars en die verskillende kultivars se bestuursmetodes.
“Daar is afwisseling en dit bied ’n uitdaging. Elke dag is nie dieselfde nie,” gesels JP, wat tans ClemenLuz, Tango, Orri, Octubrina en Bella verbou.
“Ons wil met die verskillende kultivars die seisoen lank genoeg maak sodat ons einde Maart kan begin oes en eers einde Augustus klaarmaak.”
WERKSKEPPER
Vir die plaaslike gemeenskap beteken die sitrusbedryf ’n inkomste in ’n tyd wat die wynbedryf nie werk nie.
JP neem in sy piekoestyd tot 100 mense ekstra in diens.
“Die sitrusafdeling pas lekker by ons ander vertakkings aan, want dis nie arbeidsintensief wat uitdun en somersnoei betref nie. Meganisasie in die wingerd maak dit moontlik dat ek met ’n parsmasjien daar kan werk en my permanente werkspan doen die nodige werk in die sitrusboorde.”
JP sê hulle het met uitdagings te make, maar hy glo elke probleem het ’n oplossing. Die afgelope drie, vier jaar het die
‘Diegeureontplof injoumond, solekkerishy. Jykannie andersasomnóg eentewileetnie.’