Die bye en die blomme
Die nederige Kaapse heuningby het Callie ‘Erf’ Deetlefs se verbeelding aangegryp toe sy pa daarmee begin boer het. Vandag nog fassineer die sosiale stelsels en die praktiese aard van bye dié byeboer.
yle Johan “Erf” Deetlefs se eerste liefde was altyd die wynbedryf. Die dag toe hy die leisels aan die volgende geslag moes oorhandig, was dit maar moeilik om stil te sit.
“Toe vlam sy belangstelling in bye en blomme op. Ek kan sê hy het my geleer van die bye en blomme, maar nie op dáái manier nie,” sê sy seun Callie “Erf” Deetlefs laggend.
Dis vroeg in Januarie, en hy en sy regterhand, Stanley “Seun” Jantjies, is besig om heuning uit te swaai. Hulle het vroegoggend, voor die son begin steek en die sweet ’n man in sy oorpak aftap, die korwe geoes. Callie se korwe, sowat 140 daarvan, staan die Breedekloof vol.
“As heuningboer het ek twee leermeesters gehad: my pa en Seun. Eintlik is dit nie rocket science nie. Jy moet net nie bang wees nie en so nou dan moet jy maar ’n bysteek vat,” gesels hy in die heuningkamer, waar die geur van heuning dik in die lug hang. Daar is ook ’n klompie bye wat koersloos rondvlieg.
“Moet net nie klap as ’n by op jou kom sit nie,” is al raad wat Callie gee, terwyl hy en Seun korwe oopbreek, die uitswaaier dophou en laaie aftap.
In ’n gewone, plat korf kan tot 30 000 bye woon, vertel hy. Sit jy ’n super (tien laaie) by, kan die swerm verdubbel.
“In sy leeftyd van dertig tot veertig dae kan ’n by hoogstens ’n teelepel heuning produseer,” gesels Callie verder.
Hy is, nes sy pa en die meeste boere in die omgewing, ’n wynboer in murg en been. Einde 2013, kort voor sy pa se dood, het hy die heuningboerdery ook oorgeneem.
“Ek was baie lief vir my pa. Hy was my held toe ek klein was, my atletiekafrigter op hoërskool en my mentor as wynboer. My pa het altyd gesê ek het van kleins af net een vraag gehad: Hoekom? Ek is nuuskierig, daarom het die bye my begin interesseer. Ek het daaroor begin lees en besef hoe belangrik bye is, veral vir voedselsekerheid. Toe my pa my dus vra of ek ’n heuningboer wil word, het ek dadelik ja gesê. As jy kan help om bye te bewaar, moet jy.”
Die byeboerdery is ’n stokperdjie wat hy tussen sy verpligtinge as wynboer op die familieplaas, Die Erf, moet uitvoer.
Oktobermaand, wanneer die byeswerms hul paringsvlugte uitvoer, sit hy vangkiste met was en heuning uit.
“’n Swerm sal nie sommer daarby verby gaan nie.”
Teen einde November begin hy oes en probeer dan elke maand die korwe “deurwerk” vir “ryp” heuning. Wanneer parstyd in Februarie aanbreek, bepaal hy hom eers weer by die wyndruiwe. Teen Maart en April oes hy weer heuning.
In ’n seisoen sal hy en Seun tot 2 ton heuning oes. Hulle botteleer die suiwer heuning met die hand en bemark dit aan verskeie padstalle, deli’s en winkels in die omgewing.
WYE VERSKEIDENHEID KOS
Johan het wyd laventel, proteas, bottelborsels en bloekoms aangeplant sodat sy bye genoeg kos het.
“Hy het byvoorbeeld verskillende tipes bloekoms aangeplant sodat daar verskillende tye van die jaar kos vir die bye is.”
Die beste plek om ’n korf in die Breedekloof neer te sit, meen Callie, is by bloekombome wat naby die berg, met plate fynbos, staan. Dit verseker genoeg kos vir die bye, ook deur die winter.
“Die Breedekloof is as unieke wynstreek geklassifiseer. Dit sê vir my die plantegroei en grondsoorte moet anders wees as byvoorbeeld by Worcester of die Paarl, en dit sal ’n invloed op die heuning hê.”
Vroeg in die seisoen, wanneer die bye op plante met blou blommetjies, soos echium, laventel of lusern, werk, is die heuning “amper die kleur van water”.
“Dan kom die fynbosheuning. Dit het
’n unieke smaak en donker kleur. Wat die area se fynbos betref, is die protea die plant met die meeste nektar. Dis ook die enigste fynbosspesie wat my pa aangeplant het.”
Verlede jaar was ’n goeie jaar vir byeboere, vertel Callie.
“Ek het elf leë korwe gehad, maar binne twee weke het ek begin korwe soek en moes ek bykoop. Ons het ’n besonderse jaar met swerms gehad. Ek reken dis omdat ons ’n beter winter gehad het, maar nie baie koue nie. Koue is bye se vyand, want dit vra baie energie om die nes teen 30 °C te hou. Ons temperature was verlede jaar matig regdeur die oestyd, en ons het nie hittegolwe gehad nie. As dit té warm is, moet ’n by weer hard werk om die nes af te koel. Blomtyd was ook vroeg.”
Johan het ’n gesegde gehad dat ’n boer vir sy plaas kan lewe, of uit sy plaas kan lewe.
“Dis vir my baie belangrik om ’n super vol heuning deur die winter vir die bye te los sodat hulle ook kan oorleef,” sê Callie.
BYE ONDER DRUK
Hy het nooit sy korwe aan vrugteboere verhuur vir bestuiwing nie. Hy het wel onlangs ’n paar vriende gehelp wat nie genoeg bye in die hande kon kry vir hul boorde nie.
“Ek dink dit dra by tot die probleme met byebevolkings wat afneem. Die vrugteboere soek sewe korwe per hektaar vir peerbome. Dit is hopeloos te veel bye vir die area en die hoeveelheid beskikbare kos. Die bye ly honger en kry swaar onder die nette.”
Die ander probleem in die plaaslike bedryf, jongbysiekte, het Callie gelukkig nog nooit onder sy swerms gehad nie.
Heuningboere raak warm onder die kraag oor vervalste heuning waarmee hulle moet meeding.
“’n Mens kan nie heuning produseer nie, net fabriseer. Ons het ’n groot probleem in Suid-Afrika, naamlik dat die oorsprong van heuning nie altyd sigbaar is op die bottels nie. Dikwels is dit ’n samestelling van heuning uit China en Indië. Nagebootste heuning is ongelukkig algemeen.”
Wanneer Callie en Seun by die korwe om ry of in die heuningkamer werskaf, is dit amper soos meditasie.
“Die wynbedryf het ’n klomp jare van probleme gehad. As ek by die bye is, is dit tyd wat ek nie hoef te dink nie. My kop is skoon in daardie tyd.”